Honderde studente sluit aan by die Golden Key Society






Meer as 750 studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) het vanjaar aangesluit by die Golden Key International Honour Society.

Die puik presteerders is einde verlede maand op n spesiale geleentheid op die Potchefstroom-kampus ingehuldig waartydens  prof. Annette Combrink, kampusrektor, die spreker was.

Om lid te kan wees van Golden Key berus slegs op meriete. Die vereniging eer, erken en moedig akademiese prestasie onder studente aan en slegs 15% van die top studente wat minstens een studiejaar voltooi het kan ingesluit word.

Sewentig studente van die Vaaldriehoekkampus en 699 van die Potchefstroomkampus het gekwalifiseer vir lidmaatskap.

Golden Key International ken jaarliks drie toekennings toe by elk van sy streke in Suid-Afrika en vanjaar se wenners by die NWU is Danilla du Plooy, Paulette Goedhart en Lusilda Boshoff.

Die drie wenners word objektief deur Golden Key International gekies. Daar word gekyk na hul akademiese prestasies, toegewydheid tot hul werk, buite kurrikulre bedrywighede, leierskapsposisies en hul verbintenis tot gemeenskapsdiens, s me. Corrie Postma, adviseur van die vereniging op die Potchefstroomkampus.

Twee studente van die Vaaldriehoekkampus is vanjaar ingehuldig tot verteenwoordigers van die vereniging op hul kampus. Hulle is Leandra van Wyk en Ntloobone Makhongoana.

Voorts is proff. Daan van Wyk, viserektor akademies op die Potchefstroomkampus,  Nhlanhla Maake, direkteur by die Vaaldriehoekkampus en Postma ingehuldig as ere-lede. Maake en Postma sal ook as nuwe adviseurs bedrywig wees.

Postma en vier studente, Leandra van Wyk, Christelle van Dyk, Micole Froneman en Betina Louw woon Augustus die internasionale konferensie van Golden Key in die VSA by.

Die Potchefstroomkampus was in 2000 die eerste tuiste van Golden Key in Suid-Afrika. Sedertdien is onderskeie internasionale toekennings gewen, onder meer vir die beste lidmaatskapsplan, bestee streek en beste gemeenskapsprojek.

