Akademikus verkies tot NNS se Uitvoerende Evalueringskomitee






Vanderbijlpark  'n Besondere eer en onderskeiding het 'n akademikus en navorser van die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), prof Bertus van Rooy, te beurt geval toe hy onlangs as lid van die NNS (Nasionale Navorsingstigting) se Uitvoerende Evalueringskomitee verkies is.

Uitvoerende Evaluasiekomitee
Volgens prof Van Rooy is hierdie komitee verantwoordelik vir die finale graderings van navorsers. Ek verteenwoordig die stuk of tien geesteswetenskaplike graderingspanele op die uitvoerende komitee, verduidelik prof Van Rooy. Hy voeg by dat dit hierdie komitee se taak is om deurlopend na die struktuur van die proses en die geldigheid van die graderingskategorie te kyk. Voorts kontroleer hulle alle P- en A-graderings wat deur die panele toegeken word en raak betrokke in gevalle waar die panele nie onderling op 'n gradering kon ooreenkom nie. Prof Van Rooy is voorts die sameroeper van die paneel vir Letterkunde, Tale en Taalkunde wat behels dat hy, tesame met drie kollegas, keurders moet aanwys vir alle graderingsaansoeke en daarna die keuringsverslae moet interpreteer om die gradering van die aansoekers te bepaal. Hierdie bepalings geskied in konsultasie met twee onafhanklike partye  'n assessor uit 'n ander vakgebied wat ervare is met die NNS-proses en 'n voorsitter, wat 'n senior NNS-beampte is.
Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om so 'n groot verantwoordelikheid te dra en meer te leer oor hoe navorsing landswyd werk en bevorder kan word. Ek is partykeer verstom oor die geleentheid wat die NNS my bied. Die erkenning dui daarop dat die NNS van mening is dat ek in die verlede billik en gebalanseerd in my beoordeling van ander se navorsing was, meen prof Van Rooy.

Navorsingsprofessor
As navorsingsprofessor verbonde aan die Skool vir Tale is prof Van Rooy nie net regstreeks betrokke by die navorsingspoging van die Skool nie, maar ook verantwoordelik daarvoor om kollegas in hulle navorsing te ondersteun. Laasgenoemde vereis van prof Van Rooy om as klankbord en adviseur op te tree en om saam met sy kollegas 'n navorsingseenheid te vestig.

Veld van belangstelling
As taalkundige, stel prof Van Rooy veral belang in hoe mense taal gebruik. Die afgelope agt jaar het ek veral op die Engels van tweedetaalsprekers in Suid-Afrika gefokus, vertel prof Van Rooy en voeg by dat dit sy doel was om vas te stel watter sistematiese eienskappe daar in hierdie taalvorme voorkom en hoe dit verklaar moet word. Hy is tans in die proses om 'n boek hieroor te skryf en hoop om teen die middel van volgende jaar daarmee klaar te wees. Gedurende die afgelope twee jaar het sy fokus toenemend verskuif na kwessies van 'n meer teoretiese aard, soos die tipe inligting wat in 'n mens se geheue gestoor word  dit wat jou in staat stel om taal te gebruik en te verstaan. Die vraag wat hy hoofsaaklik vra, is hoe ons kennis van taal lyk: bestaan dit uit rels met min gememoriseerde kennis, of bestaan dit uit redelike eenvoudige analises van 'n groot klomp (gedeeltelik gememoriseerde) voorbeelde van vorige taalgebruik?

Navorsing is 'n passie
Dit word gou duidelik dat navorsing 'n passie is vir prof Van Rooy  iets waarvan hy reeds as voorgraadse student bewus was. Dt was 17 jaar gelede en steeds word hy deur navorsing geboei. Ek het nog nooit opgehou navorsing doen nie, en ek wil ook nie, lag prof Van Rooy.

Hy vertel dit is vir hom ontsettend lekker om te verstaan hoe taal werk en dat hy nie kan rus voordat hy antwoorde het vir onopgeloste raaisels nie. Prof Van Rooy se vrou, Susan, deel sy liefde vir navorsing en die oorvleueling van hierdie belangstelling maak dit vir hom nog meer opwindend om navorsing te doen, want hy het nie net 'n kollega nie, maar 'n sielsgenoot om daaroor te gesels.



Prof Bertus van Rooy en sy vrou, prof Susan Coetzee-van Rooy.


