Nederlandse studente kuier in Vaal






Vanderbijlpark -  Die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs gasheer gespeel vir twee studente van die Vrije Universiteit (VU) van Amsterdam.

Susan Kraakman en Evita van der Tol is tans in die proses om hulle meestersgrade in Sosiologie/Antropologie te voltooi, en met die oog daarop het hulle vir vyf weke in samewerking met die vakgroep Politieke Wetenskap navorsing gedoen.

Di twee nagraadse studente se besoek was die uitvloeisel van 'n samewerkingsooreenkoms wat tussen die NWU en die VU bestaan en waarop daar uitgebou word.
Die studente se navorsingstemas fokus onderskeidelik op die bemagtiging van vroue as deel van die NWU-samesmelting en op die gevolge van die samesmelting vir die personeel van die onderskeie kampusse.

Tydens hul besoek aan die Vaaldriehoekkampus het hulle derhalwe 'n reeks diepgaande onderhoude met 'n verskeidenheid akademiese en sleutel-ondersteuningpersoneellede gevoer. Hulle studietydperk het ook navorsingsbesoeke aan die Potchefstroom- en Mafekingkampus ingesluit.



Dr Herman van der Elst (middel) saam met Susan Kraakman en Evita van der Tol.


