Eerste swart vise-rektor vir teologiese skool






Potchefstroom - Die Teologiese Skool op Potchefstroom het prof Rantoa Letosa as sy eerste swart Vise-Rektor aangestel.

Prof  Letosa is op die onlangse sitting van die kuratore van die teologiese skool vir die volgende drie jaar aangestel. Prof  Letosa, Lektor in die Vakgroep praktiese teologie, is nou ook lid van die uitvoerende komitee van die Fakulteit Teologie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus. Prof Jorrie Jordaan wat Vise-Rektor was, is aangewys as die rektor van die teologiese skool vir dieselfde termyn. Prof Ben de Klerk se termyn as rektor verstryk aan die einde van die jaar.

Prof Letosa is in 2006 beroep na die Teologiese Skool as Teologiese professor. Hy is in Fauresmith in die Vrystaat gebore en het aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hor Onderwys (PU vir CHO) studeer. N sy teologiese opleiding het hy sy meestersgraad met lof in Grieks behaal en sy doktorsgraad in liturgiek in 2005 behaal.
Prof Letosa was van 2000 tot 2005 predikant van die Gereformeerde Kerk by gemeentes rondom Potchefstroom by Boskop, Tlokwe-Botshabela en Kokosi.  Hy het al heelwat gereis en internasionaal en nasionaal opgetree en is veral n kenner van die liturgie binne die Afrika-konteks. Verder het hy ook n besondere verbintenis met die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Hy is sowat n jaar gelede verkies as lid van die uitvoerende raad van die genootskap op nasionale vlak en is sedert die begin van vanjaar n direkteur van die Bybelgenootskap. Op dieselfde vergadering is ook tot vise-voorsitter verkies.

Hy is getroud met Sylvia en die egpaar het een seun.




Prof Rantoa Letosa, nuwe Vise-Rektor van die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke op Potchefstroom.

