Ikateleng-projek gaan van krag tot krag






Vanderbijlpark  Meer as twee dekades nadat die Ikateleng-projek op die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU ) in die lewe geroep is, gaan die projek steeds van krag tot krag. Di projek  wat vry vertaal bemagtiging beteken  bied aanvullende onderwys vir geselekteerde graad 12-leerders en het dit ten doel om die aantal leerders met universiteitstoelating te verhoog.

Meer as 400 leerders en hul ouers het die amptelike opening van die 2009 Ikateleng-projek bygewoon en meer as 250 leerders is reeds vir vanjaar se projek geregistreer. In 2008 het die Ikateleng Winterskool-inisiatief meer as 5 000 leerders vanuit die Vaaldriehoek bereik, en het dit bygedra tot die verbeterde slaagsyfer in die streek. Die Winterskool was `n gesamentlike inisiatief deur die Skool vir Opvoedkundige Wetenskappe op die kampus en die Departement van Onderwys (D8-distrik). Aanvullende onderwys is aangebied in vakke soos wiskunde, wetenskap, biologie, rekeningkunde en ekonomie.

Die leerders wat deelneem aan hierdie projek is verteenwoordigend van al die townships in die Vaaldriehoek asook verskeie ander provinsies regdeur Suid-Afrika. Die NWU bied hierdie projek in vier provinsies aan en deelnemende streke sluit in: Mafikeng (14 skole), Mooinooi (7 skole), Potchefstroom (19 skole), Upington (9 skole) en die Vaaldriehoek (27 skole). In geheel baat leerders van 71 skole by hierdie projek.




_____________________________

