Beroepshigine wys hul staal






Potchefstroom - Personeellede en oudstudente van die groep vir Beroepshigine by die Skool vir Fisiologie, Voeding en Verbruikerswetenskappe aan die Fakulteit Gesondheidswetenskappe het die afgelope tyd presteer en onderskeie toekennings huis toe gebring.

Prof Fritz Eloff het tydens die 25-jarige viering van die South African Institute for Occupational Hygiene (SAIOH) n toekenning ontvang vir sy bydraes en prestasies op die gebied van beroepshigine en ter erkenning van sy getroue diens aan die instituut.

 Mev Goitsemang Keretetse, wat haar meestersgraad in beroepshigine verlede jaar aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universitiet (NWU) voltooi het, is deur die SAIOH aangewys as Student van die Jaar.

Die artikel wat voortgespruit het uit haar MSc-studie met die titel: DNA damage and repair detected by the comet assay in lymphocytes of African petrol attendants: A pilot study, is deur die SAIOH aangewys as Artikel van die Jaar. Die artikel het laat verlede jaar in die internasionale joernaal, Annals of Occupational Hygiene, verskyn.

Oudstudente van die beroepshiginegroep het ook uitstekend gevaar. Mnr Jaco van Rensburg is aangewys as die SAIOH se Beroepshiginis van die Jaar terwyl mev Melinda Venter verkies is tot President van SAIOH. Voorts is me Milly Ruiters aangestel as uitvoerende bestuurder van Gesondheid en Higine by die Departement van Arbeid.



Mev Goitsemang Keretetse wat aangewys is as die South African Institute for Occupational Hygiene (SAIOH) se Student van die Jaar, en haar studieleier, prof Petrus Laubscher.

