Professor van Vaaldriehoekkampus blink uit met ses doktorandi






n Senior lektor van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Vaaldriehoekkampus se toewyding aan studente maak hom een van die uitblinkers op vanjaar se Herfsgradeplegtigheid waar die meeste doktorsgrade ooit toegeken word.

Prof. Fred Venter van die department ondernemingsbestuur by die fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe, wat verlede jaar die Akademikus van die Jaar was op die Vaaldriehoekkampus, sal Vrydag (14 Mei) toekyk hoe ses van sy nagraadse studente hul doktorsgrade ontvang.

Die ses doktorandi is onder die agt studente van die Vaaldriehoekkampus wat hul doktorale studies suksesvol voltooi het.

Dit is benewens die meestersgrade van twee van Venter se studente wat Donderdag (13 Mei) toegeken word.

Die NWU ken op die Herfsgradeplegtigheid 57 doktorsgrade toe. Dit is die meeste studente nog wat op een dag hul doktorsgrade sal ontvang.

Die prestasie om altesame ses studente te help met hul proefskrifte word in akademiese kringe as uitsonderlik bestempel aangesien die gemiddelde getal doktorale studente per promotor meestal net twee of drie is.

Die ses doktorandi is net soveel soos n vorige prestasie van Venter toe hy in 1997 by die voormalige Vista Universiteit ook vir ses doktorsgrade onder studente gesorg het.

Hy is op die oomblik die studieleier van sewe doktorsgraadstudente en gee leiding in vier meestersgrade. Die moontlikheid is dus nie uitgesluit dat hy sy uitsonderlike prestasie kan verbeter nie.

Ek wil kyk of ek die rekord kan verbeter. Dis nie n kwessie van getalle najaag nie. Die kwaliteit werk word steeds gehandhaaf en dit is waarom ek gespesialiseerde eksaminators van ander universiteite se hulp inroep. Ek bestempel eksaminering as van die belangrikste bepalings vir suksesvolle nagraadse studie, s Venter.

Omdat hy n groot passie het vir die werk wat ingesit word in doktors- en meestersgrade is dit nie vir hom snaaks dat studente hom in die aand tot so laat as 22:00 nog nader vir leiding nie. Ook Sondae na kerk staan sy deur oop om nagraadse studente wat byna almal voltyds werk, te help.

Bedags gee hy klas in entrepreneurskap vir voorgraadse studente en help met navorsingsmetodologie op honneursvlak. Die enigste tyd wanneer hy nie gepla wil wees nie is wanneer hy rugby kyk.

Venter, wat vyftien jaar in die vervaardigingsektor gewerk het voordat hy die akademiese wreld betree het, het sedert 1990 leiding gegee aan altesame 36 studente wat hul doktorsgrade verwerf het en 22 meestersgrade.



