Van Rooy werk aan projek vir Cambridge Universiteit






Potchefstroom - Prof Herrie van Rooy van die Fakulteit Teologie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus is uitgenooi om saam te werk aan n projek van die Cambridge Universiteit wat verband hou met Siriese manuskripte wat tans in Berlyn gehuisves word.





Prof Herrie van Rooy

Die Department of the Study of Religions van die School of Oriental and African Studies aan die Universiteit van Cambridge het onlangs 'n nuwe projek van stapel gestuur onder die titel, The Christian Library of Turfan Project.

Die projek handel oor manuskripte in verskillende tale wat aan die einde van die negentiende eeu in die dorp Turfan in Sjina ontdek is en wat tans in Berlyn gehuisves word. Die manuskripte dateer uit die negende en tiende eeu nC en is afkomstig van 'n Christelike gemeenskap wat op daardie stadium dr bestaan het.

Hierdie manuskripte word in die projek gekatalogiseer met die oog op verdere navorsing. Geen van hierdie fragmente is nog gepubliseer nie. Onder die manuskripte is ongeveer 300 manuskripte in Siries, die taal van die sogenaamde Nestoriaanse Kerk en ander Oosterse Kerke. Die Nestoriaanse Kerk bestaan vandag nog in onder andere die Church of the East, met lidmate in Irak, Turkye en verskeie westerse lande. Siries is 'n ou Semitiese taal wat in sommige van die Oosterse Kerke gebruik is en waarin die Bybel heel vroeg vertaal is.

Onder di manuskripte is daar 'n aantal manuskripte van die Oos-Siriese Psalmbundel. In die Oos-Siriese tradisie is die Psalmopskrifte soos in die Hebreeuse Ou Testament vervang met ander opskrifte wat 'n samevatting gee van 'n Christelike interpretasie van die psalms.

Prof Van Rooy werk tans aan 'n kritiese uitgawe van die Oos-Siriese Psalmopskrifte, met gebruikmaking van manuskripte uit veral die sesde tot dertiende eeu.

