Dosent ontvang erepenning






VANDERBIJLPARK  n Erepenning is deur die Onderwysvereniging van Suid-Afrika (OVSA) aan prof Linda Theron van die Skool vir Opvoedkundige Wetenskap aan die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU-Vaal) toegeken.

Die toekenning is in die kategorie Jong Navorser 2009 toegeken, en is die resultaat van prof Theron se bydrae tot en bevordering van die wetenskaplike status van onderwys. Die voorvereistes in hierdie kategorie sluit die volgende in: die genomineerde moet n akademikus of 'n navorser wees, moes geakkrediteerde artikels (nasionaal en/of internasionaal) gepubliseer het, en moes betrokke gewees by 'n befondsde navorsingsprojek wat tot die ontwikkeling van onderwys in Suid-Afrika bygedra het, of so n projek voltooi het.

Die toekenning is gemaak ter erkenning van prof Theron se prestasies van die verlede, wat bewys lewer van volgehoue navorsingsuitsette en groeiende navorsingsnetwerke oor die vyf jaar wat sy by navorsing betrokke is. As n aanpasbare navorser is sy tans by vier groot projekte betrokke. Sy staan ook aan die hoof van twee daarvan. Die eerste hiervan is n Nasionale Navorsingstigting (NNS) Thutuka-befondsde projek wat Resilient Educators (of Reds) genoem word, en daarop gemik is om aanpasbaarheid te bevorder onder opvoeders wat deur die MIV-pandemie geraak word. Reds is in 2005 begin en nader voltooiing.

Die tweede projek, Read-me-to-Resilience, het in Januarie 2009 n aanvang geneem en word deur die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en SANPAD befonds. Hierdie projek poog om te bepaal of die voorlees van kultuursensitiewe metaforiese stories aan vigs-wesies aanpasbaarheid kan bevorder. Medenavorsers van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU), die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en die Universiteit van Pretoria (UP), asook talle studente, neem aan hierdie projek deel.

Prof Theron is ook as die Suid-Afrikaanse navorser betrokke by twee internasionale aanpasbaarheidsprojekte, met prof Michael Ungar van Dalhousie University in Kanada aan die hoof, en met medenavorsers uit China, die Verenigde State, Indi, Thailand, Kanada en Colombi.

Volgens OVSA het prof Theron se navorsing tot vakkennis bygedra, die opvoedersgemeenskappe versterk en nasionale en internasionale netwerke gesmee. Haar navorsing het voorts veelvuldige geleenthede vir haar studente geskep. Die fondse wat sy ontvang het en haar insluiting by grootskaalse nasionale en internasionale projekte is bewys van die erkenning van haar belowende navorsingspad.

* Die toekenning is op 14 Januarie op n galadinee tydens die jaarlikse OVSA-konferensie in KwaZulu-Natal oorhandig. Die OVSA-konferensie sal in 2010 deur die Vaaldriehoekkampus aangebied word.



Prof Linda Theron en haar man, prof Tinie Theron.

