Puk-rektor nuwe voorsitter van Aardklop-direksie









Potchefstroom - Prof Annette Combrink, Rektor van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) is aangewys as die nuwe voorsitter van die direksie van die Aardklop Nasionale Kunstefees. Combrink is die eerste vrou wat die voorsitterstoel oorneem en volg dr Theuns Eloff,Visekanselier, op -  wie se termyn as voorsitter verstryk het.

Combrink is passievol oor die kunste en in haar lang universiteitsloopbaan, onder meer as Direkteur van die Skool vir Tale en Dekaan van die Fakulteit: Lettere en Wysbegeerte, het sy baie gedoen om die kunste op die kampus te bevorder.

Combrink is die voorsitter van die kunstekomitee op die NWU-Pukkampus wat sy op n vaster basis uitgebou het. Sy het die universiteit se galery gestig en uitgebou waar puik uitstallings gereeld gehou word. Die amfiteater op kampus is ook omskep in n prima venue waar tot 3 000 mense vertonings sal kan bywoon.

Drama is egter Combrink se groot liefde. Haar meesters- en doktorsgrade was oor Engelse drama, maar sy het ook baie navorsing oor Suid-Afrikaanse drama gedoen.

"Dit is vir my belangrik dat mense 'n kunste-omgewing moet skep. Ek dink darem ons het op die Pukkampus daarin geslaag.

Ek beskou my aanstelling as voorsitter as n groot uitdaging. Weens die wreldwye ekonomiese druk gaan die kunste beslis aan die kortste ent trek en sal ek my daarvoor beywer om die fees se borggrondslag uit te brei, verduidelik sy.

Eloff was die afgelope drie jaar voorsitter van Aardklop. Dis n goeie tyd om nou uit te tree. Die Aardklop Nasionale Kunstefees is n suksesvolle fees en nuwe bloed en insigte kan die fees nog groter trefkrag gee.

Eloff s sy aanstelling vir n tweede vyfjaar-termyn as Visekanselier van die NWU sal nou sy aandag verg. Hy sal egter in die toekoms weer in die Direksie van die Aardklop-Stigting dien.

Die Aardklop-direksie bestaan uit vrywilligers uit verskeie spesialisvelde in die Afrikaanse taalgemeenskap wat sonder vergoeding die bevordering van die kunste op die hart dra.  Hulle visie is om Aardklop as een van die leidende en standhoudende kunsgebeurtenisse in die land te vestig en voortdurend uit te bou.

Aardklop vind vanjaar vanaf 29 September 2009 tot 3 Oktober 2009 plaas.



Prof. Annette Combrink.

