NWU se meertaligheid sorg wr vir n eerste






Die Noordwes-Universiteit (NWU) het die suksesvolle meertalige pad wat hy ingeslaan het met intydse tolking pas verder verstewig met n boek, Multilingualism and Educational Interpreting: Innovation and Delivery, wat nou op die rakke verskyn.

Prof Marlene Verhoef, die NWU se dryfveer agter die suksesvolle intydse tolking in lesingsale, is die mederedakteur van di boek wat die sewende in die reeks, Studies in Language Policy in South Africa, is. Die nuutste toevoeging is deur prof Theodorus du Plessis, Mederedakteur en Taalfundi van Universiteit van die Vrystaat, tydens die bekendstellingsgeleentheid in Potchefstroom as baanbrekerswerk beskryf.

Wat julle hier aangepak het, het op n vlak plaasgevind wat nie net in Suid-Afrika ongekend is nie, maar ook in baie ander wrelddele. Ook die wyse waarop die NWU di tipe projek gepak het is die eerste van sy soort in die suidelike halfrond, het Prof Du Plessis ges.

Hy het onder meer verwys na die gloeiende kommentaar wat ontvang is toe die manuskrip onderwerp is aan internasionale en nasionale eweknie-evaluering. Een buitelandse evalueerder meen hy sal verbaas wees as die boek nie wyd buite Suid-Afrika gelees gaan word nie. Die ander het ges die inhoud lewer n waardevolle bydrae tot literatuur rakende tolking.

Prof Du Plessis meen die NWU is gewis n leier op die gebied van opvoedkundige tolking en het die hoop uitgespreek dat verskeie publikasies nog sal volg aangesien die NWU met n indrukwekkende hoeveelheid inligting sit wat die veld vir onderskeie ander navorsers kan oopmaak. Prof Verhoef het tydens die bekendstelling die boek opgedra aan drTheuns Eloff, Visekanselier en die man wat reeds daarvoor bekend is dat opvoedkundige tolkdienste by die NWU sy breinkind is. Sy het dr Eloff geloof vir sy visionre planne wat tot suksesvolle veeltaligheidsprogramme by die universiteit gelei het.

Volgens me Leanne Martini, Hoofuitvoerende Beampte van Van Schaik Uitgewers, is die eerste boek in die reeks waarin n verskeidenheid taalkwessies bekyk word, in 2000 gepubliseer. Sy meen die nuutste toevoeging is tydig en bied opvoedkundige tolking as n praktiese oplossing vir die meertalige onderrig-leeromgewing van Suid-Afrika.

Ander personeellede van die NWU wat n bydrae tot die nuwe boek gelewer het, is mnre Johan Blaauw en Gene Mathey en mee Rhoda Bothma, Elma de Kock,  Herculene Olivier en Maristi Partridge.

Onderskrifte
Prof Marlene Verhoef, die NWU se Taaldirekteur en Mederedakteur van die unieke boek, Multilingualism and Educational Interpreting: Innovation and Delivery, saam met prof Theodorus du Plessis van die Universiteit van die Vrystaat en me Leanne Martini, Hoofuitvoerende Beampte van Van Schaik Uitgewers, tydens die bekendstelling van die nuwe boek in Potchefstroom.



Prof Marlene Verhoef, Taaldirekteur van die NWU, oorhandig n kopie van die boek, Multilingualism and Educational Interpreting: Innovation and Delivery, aan prof Maritte Lowes, Viserektor: Akademie. By hulle is prof Hein Viljoen, Direkteur van die Navorsingseenheid Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks, Potchefstroomkampus.

