Ingenieurstudente wen met koffie-robot






POTCHEFSTROOM - Ses derdejaarstudente van die Skole vir Elektriese, Elektroniese en Rekenaaringenieurswese en Meganiese Ingenieurswese het opnuut gewys wat steek in die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) se ingenieursfakulteit toe hulle onlangs as die algehele wenners van die Siemens Cyber Junkyard-kompetisie vir industrile outomatisering aangewys is.

Die studente se inskrywing, 'n koffiemasjien van industrile kwaliteit, het nege ander genooide universiteitspanne uit Suider Afrika gewys waar Dawid die wortels begrawe het. Hulle het vroer vanjaar deurgedring tot een van die finale 10 spanne in di kompetisie wat gemik is op alle tersire instellings in Suider Afrika waar ingenieurswese aangebied word. Spanne tot sover as Zambi het ingeskryf.

Die wenners is tydens 'n glansgeleentheid in Johannesburg, waar meer as 400 kundiges in die industrie teenwoordig was, aangewys. Dit is sedert 2006 die tweede keer dat studente van die NWU-Potchefstroomkampus die kompetisie wen. Die vorige wen-inskrywing was 'n masjien wat sleutelhouers vervaardig en aanmekaarsit.

Volgens prof Jan de Kock, Direkteur van die Skool vir Elektriese, Elektroniese en Rekenaaringenieurswese, moes die studente aanvanklik 'n voorlegging doen vir die keuringsproses waarna hulle die koffiemasjien moes ontwerp en bou. Sekere vereistes het behels dat die masjien met afstandbeheer 'n versoek vir koffie ontvang, dit maak en per robot aan die klant wat 'n afstand van die masjien is, lewer.

Hoewel sekere toerusting verskaf is, het die studente self die stelsel vervaardig en ingewikkelde rekenaarprogramme daarvoor geskryf. Die Instrumentmakery op die Kampus het van die onderdele gemaak.

Die NWU se suksesvolle span het die werk onder leiding van mnr Piet van Huyssteen, dosent in Rekenaaringenieurswese, gedoen. Die spanlede, Adelle Bouwer, Tanya Steyn, Abrie Nieuwoudt, Pieter Goosen, Wichert Huyser en Frikkie van Zyl, het as wenners R50 000 se ingenieurstoerusting vir die NWU losgeslaan. Elkeen van die studente het voorts 'n skootrekenaar ryker geword en sal in Junie 'n konferensie by Sun City gratis bywoon as deel van hul beloning. Die groep kry ook die geleentheid vir 21 dae se gevorderde opleiding by Siemens, die hoofborg van die kompetisie.



Die NWU se Cyber Junkyard-wenners by hul wen-koffiemasjien wat jou warm drankie per robot aflewer. Agter is mnr Abrie Nieuwoudt en mee Tanya Steyn en Adelle Bouwer. Voor is mnre Piet van Huyssteen,  dosent in Rekenaaringenieurswese,  Pieter Goosen, Wichert Huyser en Frikkie van Zyl.



