Inhuldiging en Bekendstelling






"Die eerste hekkie is met vliende vaandels oorgesteek.  Ons het goed gedoen - ons het dit reggekry."  Dit is die woorde van dr. Theuns Eloff, visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), op die vooraand van die amptelike bekendstelling van die nuut saamgestelde universiteit.

Tydens die spoggeleentheid op 14 April in die banketsaal in Potchefstroom word nog 'n mylpaal behaal deurdat dr. Popo Molefe, voormalige premier van Noordwes, as die nuwe instelling se eerste kanselier en Eloff amptelik as eerste visekanselier ingehuldig word.

Nog 'n eerste in die bestaan van die nuwe universiteit is die nuwe universiteitslied wat deur die kore van die onderskeie kampusse aan die gaste voorgedra gaan word.  Geskiedenis sal ook gemaak word wanneer Eloff verslag gaan doen oor die resultate van die eerste bestaansjaar van die nuwe NWU asook die toekomstige doelwitte.

Sowat elf visekanseliers van ander universiteite sal teenwoordig wees by die inhuldigingseremonie en mev. Edna Molewa, premier van die Noordwes, sal haar voorganger en Eloff gelukwens in 'n spesiale boodskap.

Molefe, wat as "gesig" van die universiteit dien, is tans hoofuitvoerende beampte van die maatskappy, Lereko Investments, voorsitter van Petro SA, 'n raadslid van die sentrale energiefonds en strategiese brandstoffonds, asook lid van die rade van Xantium Technology Holdings Ltd en Anoorag Resources Corporation.  Molefe is voorts lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee en is die voorsitter van die party se subkomitee vir regering en wetgewers.

Die nuwe statuut is reeds op mev. Naledi Pandor, minister van onderwys, se tafel vir goedkeuring en die nuwe instelling se visie- en missieproses nader die voorfinale fase. Dit is verlede Woensdag op die senaatsvergadering bespreek en sal op 15 April voor die Raad dien.


Dr Popo Molefe


Dr Theuns Eloff

