Universiteitsraad kies deursigtige roete vir aanstelling van Visekanselier






Verklaring uitgereik deur Shamiela Letsoalo (Link: mailto:bkksl@puk.ac.za), 12 Maart 2004

Daar is op Vrydag 12 Maart 2004 geskiedenis gemaak toe die raad van een van Suid-Afrika se grootste universiteite die proses vir die aanstelling van die eerste permanente visekanselier van die onlangs gestigte Noordwes-Universiteit (NWU) goedgekeur het. Die raad het verskeie opsies vir die aanstelling van die visekanselier oorweeg, maar het besluit om 'n deursigtige, openbare en legitieme pad te volg en die pos te adverteer. Indien alles volgens plan verloop, sal dit die eerste aanstelling wees van 'n permanente visekanselier by een van die instellings wat vanjaar saamgesmelt het.

Die uitvoerende komitee het gedurende die raad se werkswinkel en vergadering van twee dae by Muldersdrift beklemtoon dat die proses in alle opsigte legitiem moet wees en dat 'n deursigtige en oop proses gevolg sal word. 'n Soekkomitee wat verteenwoordigend is van al die belanghebbendes is aangestel om aan die stuur van die proses te staan. Die raad voorsien dat die pos vroeg in Mei gevul sal word. Tans is dr Theuns Eloff die tussentydse visekanselier en dr Ngoato Takalo die tussentydse adjunkhoof van hierdie groeiende instelling. Gedurende die vergadering is die proses van die aanstelling van die kanselier, wat 'n titulre amp is, ook bevestig. Daar word voorsien dat die aanstelling in Junie vanjaar gemaak sal word.

'n Ander belangrike ontwikkeling is dat die raad goedgekeur het dat die 23e konsep van die statuut die formele statuut van die NWU word. Die statuut is die regsgrondslag op grond waarvan die universiteit beheer word. Die dokument is na maande van raadpleging met belanghebbendes gefinaliseer. Die statuut sal aan die Departement van Onderwys voorgel word vir goedkeuring deur die minister en publisering in die Staatskoerant.

By die werkswinkel waar hierdie deurbraakontwikkelings gemaak is, het Nigel Payne, wat 'n lid was van die King-komitee oor Korporatiewe Bestuur, onder andere 'n bespreking gefasiliteer oor die rol en funksie van 'n universiteitsraad. Dit was duidelik dat die raadslede, wat uit 'n verskeidenheid van agtergronde en sektore kom, besig was om 'n samehorige eenheid te begin vorm.

