Kitso ke Matla: Kennis is mag






VANDERBIJLPARK Die Ikateleng Projek op die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs n welkome geldelike hupstoot gekry toe Graftech 'n donasie van R120 000 tot die projek bewillig het.

Die projek, wat vryelik vertaal bemagtig jouself beteken, is in 1988 op die Vaaldriehoekkampus in die lewe geroep nadat die gemeenskappe in die Vaaldriehoek, ontevrede met die kwaliteit van onderrig in die townshipskole, by die Vaaldriehoekkampus om hulp gaan aanklop het. Sedertdien is die projek met groot welslae in vier provinsies - in Potchefstroom, Mafikeng, Taung, Zeerust, Brits en Upington - deur die NWU gemplementeer.

Wat Graftech se donasie nog meer noemenswaardig maak is die feit dat hulle reeds sedert die bekendstelling van die projek 'n aktiewe rol ten opsigte van befondsing speel, en vas glo daaraan om in die jeug te investeer.  Volgens prof Piet Prinsloo, Rektor van die Vaaldriehoekkampus, is hierdie korporatiewe investering 'n teken van Graftech se volgehoue verbintenis tot die opheffing van die gemeenskappe waarbinne hulle funksioneer. Deur bydraes tot waardige projekte soos hierdie te lewer, skep korporasies boustene van vooruitgang waarop 'n volhoubare en suksesvolle toekomsvisie vir Suid-Afrika gebou kan word, het prof Prinsloo ges.

Die doelwit van die projek is om die aantal leerders met universiteitstoelating te verhoog deur die aanbied van aanvullende onderwys vir geselekteerde graad 12-leerders in onder meer Wiskunde, Wiskundige Geletterdheid, Biologie, Wetenskap, Rekeningkunde, Ekonomie en Engels. Die onderwysers wat aan die projek deelneem is verteenwoordigend van die skole wat deelneem en is deur die onderskeie skoolhoofde aangewys.

Befondsing vir hierdie projek word hoofsaaklik in die korporatiewe sektor gewerf, en maak dit vir die Universiteit moontlik om vir kostes soos vervoer, maaltye, honoraria aan deelnemende onderwysers, en selfs handboeke voorsiening te maak.



Graphtech het onlangs 'n donasie van R120 000 tot die Ikateleng Projek bewillig. Teenwoordig tydens die oorhandiging was, van links: Mnre Kosie Marx (Graftech), Abey Kgotle (Graftech), Rajen Dewnarain (Graftech) en prof Piet Prinsloo (Kampusrektor).


