NWU se Ci-Lab presteer nasionaal sowel as internasionaal






POTCHEFSTROOM - Uitblinker-finalejaarstudente het weer daarvoor gesorg dat die Creative Intelligence Lab (Ci-Lab) aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) aan die einde van 2007 vir die tweede agtereenvolgende jaar as die naasbeste grafiese ontwerp-opleidingsinstelling in die land benoem is.

Hierdie aankondiging is tydens die galageleentheid van die South African Communication Design Council se jaarlikse ThinkAhead-kompetisie vir finalejaarstudente bekend gemaak. Nagenoeg 200 studente van 25 tersire instellings het aan die kompetisie deelgeneem.

Die NWU se uitblinkers tydens hierdie geleentheid was Tanya Geel, wat n goue portefeulje en twee silwertoekennings ontvang het, asook Christo Kruger, met n silwer- en n merietetoekenning, en Wynand Botha en Rach Kitching, wat elk n merietetoekenning ontvang het.

Hierdie sukses volg op n jaar propvol prestasies, waaronder n Sappi Ideas That Matter-borgskap en twee SABS Design Achiever-finaliste.

Ci-Lab het ook in 2007 hulle eerste Loeries ingepalm en ook tydens die jaarlikse Pendorings en die Institute of Packaging South Africa se Student Goldpack Awards met die meerderheid goue toekennings weggestap.

Benewens die nasionale sukses, spog Ci-Lab ook met n indrukwekkende getal internasionale prestasies. Ci-Lab het onder andere instellings soos die AAA School of Advertising (met vier toekennings), die Universiteit van Pretoria (met een toekenning) en Vega, The Brand Communications School (met twee toekennings) uitgestof deur agt uit die vyftien Suid-Afrikaanse toekennings te verower, sowel as een van slegs twee meriete-toekennings wat deur die International Society of Typographic Designers toegeken is.

Ander internasionale toekennings sluit semifinaliste in die Adobe Design Achievement-kompetisie, en toekennings van die World Packaging Organization in.

Vir verdere navrae kontak asseblief vir Richardt Strydom by richardt.strydom@nwu.ac.za (Link: mailto:richardt.strydom@nwu.ac.za), (018) 299 4207, 082 575 0923 of Ian Marley by ian.marley@nwu.ac.za (Link: mailto:ian.marley@nwu.ac.za), (018) 299 4091, 082 495 6307.



Van links na regs is mnr Richardt Strydom, lektor, Catherine van Jaarsveld, Leana de Beer, Carla Erasmus, prof Paul Schutte, Direkteur van die Skool vir Kommunikasiestudies, Gert Schoeman, me Colette Lotz, lektor, mnr Wessie van der Westhuizen, lektor, prof Annette Combrink (Kampusrektor), Christo Kruger, Renier Zandberg en mnr Ian Marley, lektor.



Tanya Geel het uitstekend gevaar tydens die ThinkAhead-kompetisie vir finalejaarstudente.




