NWU-studente ontwikkel hystoestel vir kwadruple






POTCHEFSTROOM - Meganiese ingenieurstudente van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) se vindingrykheid oor die afgelope sewe jaar gaan verpleegpersoneel van Witrand Hospitaal se taak om kwadruple te bad, aansienlik makliker maak.

Volgens dr Ebrahim Sooliman, hoof uitvoerende beampte van Witrand Hospitaal, sal die toestel veral in die rehabilitasie van kwadruple gebruik word. Hy s terapie het baie dinamies geraak en die ideaal is om gestremdes in so n mate te rehabiliteer dat hulle weer n sinvolle rol in die samelewing kan speel.

Volgens mnr Johan Roberts, senior lektor in Meganiese Ingenieurswese, was die projek ideaal vir opleidingsdoeleindes, met die bonus dat dit ook aan n gebruikersbehoefte van die gemeenskap voldoen. Verpleegpersoneel by Witrand Hospitaal wat ernstig gestremde mense versorg, sal veral baat by die hystoestel, aangesien dit rugbeserings, wat kan voorkom wanneer gestremdes in en uit n bad te getel word, sal beperk..

Die quadrulift is in samewerking met arbeidsterapeute, fisioterapeute en verpleegsters ontwerp as deel van die studente se ingenieursopleiding om teoretiese beginsels en vakkennis van stelsel- en meganiese ontwerp te integreer.  Aspekte soos instandhouding, bekostigbaarheid, logistieke steun, ergonomie en vervaardigbaarheid is ook in ag geneem.

n Span studente, JP Steyl, Henry Townsend, Thys Uys, Le Roux van den Berg, Jaco Vermaak, CJ Vos, Justin Willemse en Jaco Wood het die konsep voorgestel wat volgens Witrand se kundiges die beste aan hul behoefte sou voldoen.  Lucas Pitso het die grootste gedeelte van die prototipe ontwerp, gebou en voorlopig getoets. In die daaropvolgende jaar het Gideon Jacobs die res ontwikkel, die swakker punte van die bestaande toestel verbeter en die volledige stelsel getoets. Mnr Thabo Diobe, n tegnikus by die fakulteit, het die studente met die vervaardiging bygestaan.

Die quadrulift voldoen aan die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde (SABS) se vereiste dat toerusting met n spanning van minder as 12 V reg bo n bad genstalleer mag word. Die hystoestel kan n massa van tot 120 kg hanteer, het n reikafstand van meer as 1,6 m en kan tot 190 draai.



Die quadrulift is met die amptelike oorhandiging aan personeel van Witrand Hospitaal gedemonstreer. Hier is mnre Johan Roberts, senior lektor in meganiese ingenieurswese, Thabo Diobe, tegnikus by die Skool vir Meganiese Ingenieurswese, me Catherine Motitimi, verpleegster, dr Ebrahim Sooliman, Hoofuitvoerende beampte van Witrand, en me Annetjie du Bruin, Verpleegbestuurder van Witrand.






