Kommunikasiestudies brei uit op die Vaaldriehoekkampus






VANDERBIJLPARK  Die Skool vir Tale op die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) het sy kurrikulum op derdejaarsvlak in die gewilde veld van Kommunikasiestudies uitgebrei. Dit is nou n volwaardige hoofvak op hierdie kampus.

Die Skooldirekteur, dr Jan-Louis Kruger, verduidelik: Die Skool het reeds sedert 2000 sy opleiding volgens die behoeftes in die mark aangepas.  Net soos die uitbreiding van die Taalpraktykprogram tot op PhD-vlak, is die insluiting van Kommunikasiestudies as n hoofvak daarop gerig om graduandi te lewer wat n betekenisvolle verskil in ons veeltalige samelewing se kommunikasiebehoeftes sal maak, en wat in staat sal wees om werk te kry.

Die nuwe en die huidige Kommunikasie-modules ondersteun die taal- en taalpraktykkurrikula van die Skool vir Tale, sowel as die ander BA-kurrikula met Geskiedenis of Politieke Studies as hoofvak(ke).  Totdat die vak tot op Honneursvlak gevorder het op die Vaaldriehoekkampus, sal nagraadse studente op die Potchefstroomkampus vir n Honneursgraad  kan inskryf.

Eerstejaarstudente in Kommunikasie dek inleidende modules oor massamedia en joernalistiek.  Tweedejaarstudente dek modules oor die korporatiewe media, uitgewery en filmstudies, en derdejaarstudente dek n reeks modules wat visuele- en klankestetika, multimedia vir grafiese ontwerp, navorsingsmetodologie, korporatiewe joernalistiek en multimedia-kommunikasie insluit.

Studente uit ander studievelde is welkom om een of meer Kommunikasie-vakke ter verryking te neem.  Vir meer inligting, skakel asseblief vir Christine van Aardt by (016) 910 3463.

