Nog n tegnologiese deurbraak versterk NWU se innovasiegees






POTCHEFSTROOM - n Toestel wat metaal vinnig en koste-effektief smelt en induksieverwarmingstegnologie verbeter, het vir Monique Coffee, 'n vierdejaarstudent in elektriese ingenieuswese op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), die eerste prys in die Nasionale Innovasiekompetisie en R50 000 prysgeld besorg.

Die prys is op 18 Oktober 2007 tydens 'n glansgeleentheid in die Gallery op die Potchefstroomkampus aan haar oorhandig. Haar weninskrywing, n mikro-induksie-oond, is 'n toestel wat metaal vinnig en koste-effektief smelt sonder enige element, vlam of ander verhitting, maar deur middel van elektromagnetiese induksie. Hierdie tegnologie word algemeen gebruik in onder meer die tandarts- en juweliersbedrywe. Wat Monique se werk uniek maak is dat sy, deur gebruik te maak van n skakelelektronika-patent wat deur die NWU gehou word, die effektiwiteit van bestaande induksieoonde aansienlik kan verbeter. Oonde sal ook goedkoper en ligter raak, aangesien haar tegniek meebring dat die aantal komponente wat gebruik word drasties verminder kan word.

Die tweede prys, ter waarde van R30 000, is verower deur Pieter Vergeer, Gareth Stott en Wynand Cilliers. Hulle het n proses ontwikkel waarmee die saadstrook, bekend as UNBUNTape, vervaardig kan word. UNBUNTape bevat reeds die regte hoeveelheid saad, kunsmis en insekdoder in elke papiervakkie en kan net so in die grond gesit word. Dit is veral gemik op gemeenskapsgroentetuine waar persone nie oor die nodige tuinmaakvaardighede en middele beskik nie.  Dit sal ook aan hulporganisasies bemark word.

Die derde prys van R20 000 is toegeken aan Ruan van den Heever wat die APMS Real Time Heart Monitor ontwerp het. Dit is 'n intydse afstandsmonitor waarmee die toestand van die hart - die elektrokardiogram - van atlete gemeet kan word terwyl hulle op die veld deelneem.

Hierdie drie wenners dring nou deur na die tweede fase van die Nasionale Innovasiekompetisie en sal te staan kom teen die wenners wat deur ander horonderwysinstellings in Suid-Afrika aangewys is.

Die NWU se ander eerstefasefinaliste sluit die volgende in: Dale du Plooy en Ziegfried van Huyssteen met hul Nemo Key Ring, wat help om verlore apparate in die huis op te spoor, Ruth Davies en Heinrich Schultz met hul Shpinx Security, n sekuriteitstelsel wat 'n sms aan die eienaar stuur wanneer n kunswerk gesteel word, en Tony Plotz met sy Ubuntu Sports Consultants, wat n sagtewareprogram is waarmee inligting oor sportdeelnemers se fisiese status intyds verwerk word en 'n verslag oor hulle status onmiddellik saamgestel kan word.

Dr Theuns Eloff, Visekanselier van die NWU, het ges dat die wenners deur hul innovasies meehelp om die visie van die Universiteit - om n toonaangewende Universiteit in Afrika te wees, gedryf deur die strewe na kennis en innovasie - waar te maak.

Die Nasionale Innovasiekompetisie (NIC) word deur die Innovasiefonds van die Departement Wetenskap en Tegnologie geloods ter bevordering van tegnologiese innovasie in Suid-Afrikaanse horonderwysinstellings.



Teenwoordig by die prysuitdelingsfunksie was vanaf links: Ruan van den Heever (derdepryswenner), Monique Coffee (eerstepryswenner), Pieter Vergeer (tweedepryswenner), dr Theuns Eloff, Visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), prof Annette Combrink, Rektor: Potchefstroomkampus (NWU), Gareth Stott (tweedepryswenner), Wynand Cilliers, (tweedepryswenner) en prof Maritte Lowes, Viserektor: Akademie, Potchefstroomkampus (NWU).


