NWU ken Helgaard Steyn-prys toe aan bekende kunstenaar






Die bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar Bronwen Findlay is die ontvanger van die gesogte Helgaard Steyn-prys ter waarde van R150 000.

Die kunstenaar het die toekenning van me Hanneli Rupert-Koegelenberg  NWU-raadslid en verteenwoordiger van die Helgaard Steyn Trust  ontvang tydens 'n funksie wat op 17 Oktober 2007 op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) gehou is.

Me Findlay, deeltydse dosent in Beeldende Kunste aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) wat haar eerste uitstalling in 1977 gehou het, het haar verbasing uitgespreek oor die toekenning, maar dit as 'n groot eer bestempel.

Ek hou elke paar jaar 'n uitstalling en ek hou daarvan om te werk met die oog op 'n spesifieke uitstalling, s sy. Hoewel haar werk gewoonlik in Johannesburg en Durban uitgestal word, was sommige van haar skilderye ook al deel van groepuitstallings in die buiteland.

Die Helgaard Steyn-prys word jaarliks beurtelings aan 'n komponis, skilder, skrywer of beeldhouer toegeken. Die NWU kry elke tweede jaar 'n versoek van die Helgaard Steyn Trust om 'n beoordelaar aan te wys.  Dr John Botha, dosent aan die NWU se Potchefstroomkampus, is as een van die beoordelaars vir 2007 aangewys.  Sy medebeoordelaars was dr Lydia de Waal, Direkteur van die Sasol Galery in Stellenbosch, en prof Dirk van den Berg van die Universiteit van die Vrystaat.

Die beoordelaars beskou me Findlay as 'n waardige opvolger van werke wat al in die verlede met die Helgaard Steyn-prys bekroon is.  Hulle meen dat haar werk, All about everything, daarin slaag om 'n buitengewoon subtiele en komplekse estetiese voorstelling te kombineer met 'n eenvoudige vertolkende boodskap van integriteit.  Volgens die beoordelaars is Bronwen Findlay 'n gevestigde en gesiene kunstenaar en verteenwoordig hierdie skildery jare van toegewyde werk van hoogstaande gehalte.

Niks wat hierdie kunstenaar al in haar roemryke loopbaan aangepak het, kan as alledaags beskryf word nie; tog blyk dit dat sy juis uit die alledaagse voorwerpe wat haar in haar daaglikse leefwreld omring, inspirasie put vir hierdie uitsonderlike werk.

Die bekroonde kunswerk van 2 x 3,6 m, olie op doek, maak tans deel uit van Standard Bank se versameling in Morningside, Johannesburg. In hierdie skildery bring die kunstenaar hulde aan haar oorlede moeder. Die skildery bevat verskeie voorwerpe wat vir haar moeder belangrik was, wat die tema van die alledaagse beklemtoon.

In 2006 is die Helgaard Steyn-prys aan die komponis Roelof Temmingh toegeken, vir sy komposisie Kantorium. Volgende jaar se prys sal weer aan 'n skrywer toegeken word.



Teenwoordig by die prysuitdelingsfunksie was van links: prof CFC van der Walt, Institusionele Registrateur van die NWU, prof Annette Combrink, Rektor: Potchefstroomkampus, NWU, me Hanneli Rupert-Koegelenberg, NWU-raadslid en verteenwoordiger van die Helgaard Steyn Trust, me Bronwen Findlay, kunstenaar, en dr Theuns Eloff, Visekanselier, NWU.

