Groot eer vir twee junior lektore van die NWU






POTCHEFSTROOM - Twee junior lektore van die Skool vir Voortgesette Onderwysersopleiding aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs afstand-studiebeurse van die Statebondskommissie in die Verenigde Koninkryk ontvang.

Me Noziphiwo Kgati en mnr Titus Williams is uit sowat 800 aansoekers uit Afrika gekies om hul meestersgraadstudies in Onderrig vir Volhoubaarheid te doen, en maak deel uit van die slegs 20 kandidate wat uiteindelik vir die kursus gekeur is.

Albei lektore sal met behulp van afstandsonderrig oor die volgende vier jaar hul MSc-studies aan die South Bank University in Londen doen.

Die Dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, prof Petra Engelbrecht, en die Direkteur van die Skool, prof Manie Spamer, het die lektore vir die beurse benoem en hulle gemotiveer om daarvoor aansoek te doen.

Me Kgati is tans n junior lektor in Opvoedkundige Bestuursonderrig en Entrepreneurskap in die NWU se afstandsonderrigprogram.  Mnr Williams is tans n junior lektor in Geskiedenis en Aardrykskunde, ook deel van die NWU se afstandsonderrigprogram.



Mnr Titus Williams en me Noziphiwo Kgati het onlangs afstand-studiebeurse van die Statebondskommissie in die Verenigde Koninkryk ontvang.



