Curriebeker-blootstelling vir NWU






POTCHEFSTROOM - Die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) is die trotse borg van die Curriebeker-skeidsregters se rugbybroeke.

Die borgskap is tydens die onlangse NWU-rugbyinstituut se Manne-aand amptelik aan mnr Steve Meintjies, voorsitter van die SA Skeidsregtersvereniging, oorhandig.Mnr Theo Cloete, Direkteur van die Departement Bemarking en Kommunikasie aan die Potchefstroomkampus, het die deurbraak gemaak na voortgesette onderhandelings met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie.

Die unieke bemarkingsveldtog se vernaamste doelwit is die vestiging van die nuwe handelsmerk, en die land se voorste skeidsregters, soos Jonathan Kaplan, Marius Jonker, Craig Joubert, Mark Lawrence, Willie Roos en Jerome Fortuin, sal vir die volgende vier jaar tydens die Curriebekerwedstryde rugbybroeke met die NWU-Puk-embleem dra.

Minstens drie Curriebekerwedstryde word elke naweek op televisie uitgesaai, en dus sal die NWU-Puk-embleem vir altesaam sowat vier uur per naweek te sien wees.



S lyk die Suid-Afrikaanse rugbyskeidsregters se broeke wat deur die Potchefstroomkampus geborg word, wys mevv Hannatjie Visagie en Annemari Hefer van Bemarking en Kommunikasie.


