Projek bemagtig voorskoolse onderwysers






VANDERBIJLPARK  Meer as 3 000 kleuters in die D8 munisipale distrik, wat Boipatong, Bophelong en omstreke insluit, sal baat vind by 'n projek wat onlangs deur die Skool vir Opvoedkunde van die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) van stapel gestuur is.

Die ECD-projek (Early Childhood Developmental Project) het ten doel om die standaard van voorskoolse ontwikkeling te verbeter en om  kleuterskoolonderwysers en -hoofde in hierdie opsig te bemagtig.

Volgens dr Elsa Fourie, Direkteur van die Skool vir Opvoedkunde, word 50 kleuterskole by die projek wat in Julie geloots is, betrek met die vooruitsig om die projek ook na ander areas in Vereeniging en Sasolburg uit te brei. Deur die loop van die projek sal aspekte soos daaglikse beplanning, lesplanne, die bestuur van kleuterskole sowel as dieetkundige en higiniese behoeftes aangespreek word.


Die uiterste behoefte aan 'n intervensie is deur mnr Jaco Verster van die Departement van Gesondheid onder die projekfasiliteerders se aandag gebring. Volgens mnr Verster is daar sommige gevalle waar kleuters gn opvoedkundige stimulasie ontvang nie en net die heeldag speel en slaap. Die higine by sommige van die skole is ook nie bevorderlik vir die kinders nie.

Volgens dr Fourie is dit die Skool vir Opvoedkunde, wat die projek self befonds, se oogmerk om hierdie behoefte in die gemeenskap proaktief aan te spreek deur die implementering van die ECD-projek . As leiers op die gebied van opvoeding is dit ons plig om te verseker dat hierdie kinders kwaliteitonderrig ontvang, verduidelik Fourie, en voeg by dat onderrig tydens die voorskoolse fase die grondslag van 'n kind se totale skoolloopbaan vorm.

In die lig hiervan doen die Skool 'n beroep op die gemeenskap om deel te neem aan die projek en s 'n verskil te maak in 'n jong kind se lewe. Enige hulpmiddels soos kryte, stoeltjies en tafels, papier en boeke sal in hierdie verband welkom wees. Na raming beloop die koste van die loodsprojek bykans R50 000. Vir meer inligting, skakel dr Fourie by (016) 910 3060/66.



Teenwoordig tydens die bekendstelling van die ECD Projek was, van links Steffie Esterhuizen (dosent, Vaaldriehoekkampus), Ria Booysen (dosent, Vaaldriehoekkampus), Elsa Fourie (direkteur, Skool vir Opvoedkunde Vaaldriehoekkampus) en Jaco Verster (Departement Gesondheid).

