Internasionale fokus vir plaaslike onderwys-projek






VANDERBIJLPARK  'n Projek wat deur 'n onderwyskenner van die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) van stapel gestuur is, geniet nie net internasionale blootstelling nie, maar word ook binnekort in verskeie provinsies regoor Suid-Afrika gemplementeer.

Die Resilient Educators Programme (Reds) is deur Dr Linda Theron saamgestel in samewerking met Dr Ike Xaba en Me Mada Watson en poog om onderwysers te bemagtig met beter hanteringsmeganismes en verhoogde weerbaarheid ten opsigte van die HIV/Vigs-pandemie.

Tot dusver is die program met groot sukses onder vrywillige onderwysers van drie provinsies  Gauteng, Noordwes en die Vrystaat - gemplementeer deur studente van die NWU en die Universiteit van Pretoria (UP) wat tans met hul meesters- en PhD-grade besig is.

In 'n poging om die omvang van die program te vergroot het die hoofnavorser, dr Theron, en haar medenavorsers, proff Herman Strydom van die NWU en Rina Delport van UP, onlangs met prof Jane Gilgun van die Universiteit van Minnesota in Amerika vergader.

Tydens hierdie vergadering is daar terugvoer gegee oor die implementering van die program tot dusver, met die oog op verdere ontwikkelingswerk wat gedoen moet word. Die program sal na verwagting eersdaags in Mpumalanga, Noordwes en die Vrystaat gemplementeer word. Die besoekende akademikus word hoog aangeskryf as 'n kwalitatiewe navorser, en sy is ook 'n ervare maatskaplike werker.

Die projek word deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) en die NWU onderskryf.



Die span betrokke by die REds-projek is, van links agter, me Hanelie Malan, prof Herman Strydom, prof Rina Delport en dr Stephan Geyer. Voor, van links, is mee Minette du Toit, Steffie Esterhuizen, Violet Moeketsi, dr Linda Theron, prof Jane Gilgun, en mee Lillian Radebe en Viola Kupa.

