Plaaslike ekonomie onder die soeklig






Plaaslike ekonomie onder die soeklig

VANDERBIJLPARK  Die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) gaan in samewerking met die Sedibeng Distriksraad 'n inisiatief van stapel stuur om die moontlikheid van sekondre nywerheidsontwikkeling in die streek te ondersoek.

Die voorgestelde ontwikkeling sal veral gefokus wees op die bevordering van ekonomiese klusters binne die plaaslike ekonomiese struktuur. 'n Aansienlike skenking van R100 000 deur Malesela Taihan Electric Cable (M-Tec) in Vereeniging sal vir die befondsing van die navorsingsprojek aangewend word. Met hierdie skenking herbevestig M-Tec die organisasie se verbintenis tot voortgesette korporatiewe sosiale investering.

Die projekspan word gelei deur dr. Wynand Grobler en mnr Leonard van Vuren, beide verbonde aan die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit. Volgens hulle kan die huidige ekonomiese stand moontlik toegeskryf word aan die dominansie van hulpbrongebaseerde ekonomiese aktiwiteite. Hierdie aktiwiteite word gekenmerk deur die teenwoordigheid van groot kapitaalintensiewe maatskappye met beperkte raakvlakke binne die plaaslike ekonomie.

Die doelstelling van die voorgestelde navorsingsprojek is om die potensiaal vir die ontwikkeling van 'n staal-kluster binne die Vaaldriehoek te ondersoek. Volgens dr Grobler is die grootste uitdaging die identifisering en daarstelling van 'n platvorm vanwaar klein, medium en mikro-besighede ontwikkel kan word ten einde werkskepping te bevorder.



Teenwoordig tydens die oorhandiging van die R100 000 was, van links: dr Wynand Grobler (Skool vir Ekonomiese Wetenskappe, Vaaldriehoekkampus), mnr June-Young Hah (M-Tec) en mnr Tielman Slabbert (Skool vir Ekonomiese Wetenskappe, Vaaldriehoekkampus).

