DIREKTEUR VAN DIE SKOOL VIR KERKWETENSKAPPE STEL SY AGSTE BOEK VRY






DIREKTEUR VAN DIE SKOOL VIR KERKWETENSKAPPE STEL SY AGSTE BOEK VRY

POTCHEFSTROOM - Een van die voorste navorsers van die Fakulteit Teologie het pas sy agtste boek die lig laat sien.

Prof Koos Vorster, Direkteur van die Skool vir Kerkwetenskappe op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) se boek, Christian attitude in the South African liberal democracy, is pas vrygestel.

Die skrywer is aangegryp deur die opdrag dat Christene die gesindheid van Christus moet weerspiel, nie net in hulle persoonlike lewe nie, maar ook in die makro-etiek van die samelewing waarin God hulle geplaas het. Vandaar die belangrike begrip attitude in die titel.

Die boek spreek vanuit Christelike perspektief die roeping van gelowiges aan in die nuwe morele konteks, di van 'n liberale demokrasie. Prof Vorster hanteer met helder wetenskaplike denke en tog vir enige leser verstaanbaar, aspekte soos nasiebou, grondhervorming, armoedeverligting, regstellende aksie, arbeid, besigheid, vryheid van geloof, beskerming van kinders, homoseksualiteit en die rol van die kerke in al hierdie vraagstukke.

Prof Vorster is die outeur van agt boeke en het reeds 65 artikels in geakkrediteerde publikasies gepubliseer. Hy is ook 'n NNS-gegradeerde navorser en is pas deur die NWU vereer as die navorser wat in 2005 die meeste wetenskaplike artikels op die Potchefstroomkampus gepubliseer het.

Die Potchefstroomse Teologiese Publikasies publiseer wetenskaplike boeke in die teologie nadat die manuskripte deur interne en ekstern internasionale keurders gevalueer is. Die projek word deur die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika gefinansier.



Prof Ben de Klerk (regs), Rektor van die Teologiese Skool, oorhandig die boek aan die skrywer, prof Koos Vorster.

