Ferreira ontvang internasionale eer






Ferreira ontvang internasionale eer

POTCHEFSTROOM - Een van die jongste navorsers van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) het 'n toekenning van die International Union for Pure and Applied Physics (IUPAP) ontvang.

Dr Stefan Ferreira, 'n senior lektor in Fisika, sal die toekenning vir jong wetenskaplikes vroeg in Julie tydens die openingseremonie van die dertigste internasionale konferensie oor kosmiese strale in Mexiko ontvang.

Die toekenning van IUPAP is in 2006 ingestel om erkenning te verleen aan jong wetenskaplikes wat 'n maksimum van agt jaar se navorsing gedoen het en oor 'n doktorsgraad beskik. Die IUPAP het in 1922 in Brussel tot stand gekom en die doel van die unie is om internasionale samewerking in Fisika te bewerkstellig en om navorsing en onderrig te bevorder.

Dr Ferreira het verlede jaar die presidentstoekenning vir navorsing van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang vir jong navorsers wat moontlik as toekomstige leiers in hul navorsingsvelde beskou word. Di toekenning word slegs aan 'n paar navorsers in die land gemaak.

Hy het sy navorsing begin met die numeriese modellering van die beweging van gelaaide deeltjies (kosmiese strale) binne die son se invloedsfeer, wat as die heliosfeer bekend staan. Die navorsing sluit die modulasie van lae-energie-Jupiter-elektrone in, die effek van die son se aktiwiteit-siklusse op die voortplanting van kosmiese strale asook die versnelling van deeltjies by die terminasieskok van die sonwind.

Dr Ferreira is ook die afgelope paar jaar besig met 'n nuwe projek oor die hidrodinamiese modellering van die heliosfeer, en werk nou saam met navorsers in Duitsland. Daar word ook op 'n gereelde basis met oorsese navorsingsgroepe saamgewerk wat betrokke is by die Ulysses-sending van die Europese Ruimte-agentskap (ESA), asook die Voyager 1 en 2-sendings van die Amerikaanse Ruimte-agentskap (NASA).

Hy beskou prof Marius Potgieter as sy rolmodel. Hy was ook sy studieleier en hulle werk steeds baie nou saam. Prof Potgieter is self 'n vooraanstaande internasionale navorser en het reeds sy A-gradering van die NNS ontvang.

Dr Ferreira was in 1993 'n eerstejaarstudent aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hor Onderwys, en het n sy BSc-graad ook sy meesters- en doktorsgrade verwerf. Hy is in 2000 as lektor in Fisika aangestel en word twee jaar later 'n senior lektor in di vakgebied. Hy het ook in 2002 vir ses maande in Duitsland aan die Ruhr-Universitt, Bochum, navorsing gedoen.



FOTO: Dr Stefan Ferreira, een van die jongste navorsers van die NWU se Potchefstroomkampus, wat 'n internasionale toekenning ontvang het.

