R 2 miljoen-uitbreiding op die NWU se Mafikengkampus






R 2 miljoen-uitbreiding op die NWU se Mafikengkampus 

MAFIKENG  Digby die byna voltooide Dieregesondheid-gebou op die Mafikengkampus van die Noordwes-Universiteit is 'n stuk grond onlangs gereedgemaak vir nog 'n opwindende en welkome ontwikkeling op hierdie kampus, naamlik die oprigting van die R2 miljoen se Sentrum vir Toegepaste Stralingswetenskap en -tegnologie (STSWT).

Hierdie jongste bouprojek is amptelik van stapel gestuur tydens 'n sooispitseremonie op 21 Junie 2007. Die geleentheid is deur talle personeellede bygewoon, meestal van die Fakulteit Landbou, Wetenskap en Tegnologie, sowel as lede van die senior bestuur, insluitende prof Dan Kgwadi, die Rektor van die Mafikengkampus, prof Michael McPherson, Dekaan van die Fakulteit, prof Hendrik van der Linde, bestuurder van die Sentrum, en mnr Sam Motabogi, Kommunikasie- en Bemarkingsbestuurder.

Ter opening van die seremonie het prof Van der Linde die bestuur bedank vir die versiendheid waarmee hulle die pogings van die Sentrum ondersteun het. Met verwysing na 'n koerantberig wat hy tegekom het, het hy ges dat die energiebehoefte in Suid-Afrika binne die volgende 25 jaar gaan verdubbel. 25 persent van hierdie energie sal gevolglik atoomenergie wees. Dit beteken dat daar 'n groter behoefte vir universiteite is om studente op te lei wat toegerus sal wees om in hierdie snelgroeiende industrie te werk. Prof  Van der Linde het belowe om STSWT uit te bou tot 'n baie unieke en produktiewe sentrum.

In sy toespraak het prof McPherson ges STSWT dra baie by tot die Fakulteit, veral wat betref finansies deur middel van studentegelde en laboratoriumgeriewe wat verkry word deur samewerking met die industrie. Hy het bygevoeg dat die Sentrum se belangrikste bydrae die gespesialiseerde kundigheid is wat dit via sy personeel aan die Fakulteit bied. Om die Sentrum verder uit te bou, sal bykomende personeel vir die Sentrum gewerf word.

Op sy beurt het die Kampusrektor, prof Kgwadi, ges die oprigting van die STSWT -gebou 'n bewys van die kampus se snelle ontwikkeling is. Die bou van die sentrum is een van die belangrikste uitbreidingsprojekte wat die kampus tydens die volgende 18 maande gaan onderneem. Die ander projekte sluit in die bou van die vierdefase-koshuis langs die kampusgesondheidsentrum, die oprigting van die studentesentrum waaroor daar tans baie gepraat word, en die uitbreiding van die sportgeriewe.

Die Sentrum sal in vier fases voltooi word, waarvan die eerste fase R2 miljoen sal kos. Bestuur het reeds onderneem om toerusting ter waarde van R1,5 miljoen aan te koop. 'n Verdere R1,5 miljoen sal deur die privaatindustrie geskenk word. Volgens plan sal die eerste fase teen November 2007 voltooi word, en die ander fases in die volgende twee jaar.




Van links na regs is prof Dan Kgwadi, Rektor van die Mafikengkampus, prof Michael McPherson, Dekaan van die Fakulteit Landbou, Wetenskap en Tegnologie, prof Hendrik van der Linde, bestuurder van die Sentrum vir Toegepaste Stralingswetenskap en  tegnologie (STSWT), en dr Nandi Mumba, ook van STSWT.

