NWU vereer Coetzee met eredoktorsgraad






NWU vereer Coetzee met eredoktorsgraad

POTCHEFSTROOM - Baanbrekerswerk op die gebied van inheemse kos en tradisionele Afrika-kookkuns is die sleutel tot die toekenning van n eredoktorsgraad wat die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) eersdaags aan me Renata Coetzee oorhandig.

Die eredoktorsgraad is die eerste wat die NWU sedert die samesmelting vier jaar gelede toeken.

Me Coetzee het haar onderskei van ander oor haar werk op die gebied van kos en voedingswetenskap, asook massaspyseniering in Suid-Afrika. Sy het baanbrekerswerk gedoen met die dokumentering van inheemse kos en tradisionele voedselvoorbereidingstegnieke in die land.

Sy het voorts n reusebydrae gelewer in die kommersialisering van inheemse kossoorte in onderskeie ontwikkelingsprogramme om armoede te help verlig en vroue in plattelandse gebiede te bemagtig. Me Coetzee het dus waarde toegevoeg tot die gebruik van inheemse kos in gesondheidsbevordering en ontwikkelingsprogramme.

Die oud-student van die Potchefstroomkampus was vroer die afdelingsbestuurder vir dieetkunde en spyseniering by Anglo American se goud- en uraanafdeling, waarna sy vir tien jaar as senior dieetkundige by die Universiteit van Stellenbosch gewerk het. Dit het die kosvoorbereiding by 21 koshuise, ses banketsale en twee studente-kafeterias ingesluit.

Coetzee het vir veertien jaar ook haar kennis en ervaring gedeel as lektor by verskeie universiteite in Suid-Afrika en die VSA.

Sy word ook as n navorser van formaat bestempel en het vir haarself n lewenslange doelwit gestel om tradisionele koskulture en eetgewoontes van die onderskeie kulture in Suid-Afrika asook die van ander Afrika-lande na te vors.

Me Coetzee het onder meer wetenskaplike navorsing gedoen in die bevriesing van kos vir gebruik deur hospitale en universiteite. Di navorsing is in samewerking met die WNNR gedoen en sy het uitgebreide besoeke aan die VSA, Engeland, Duitsland, Holland en Noorwe onderneem om vriesmetodes vir gedroogde en lae-vog voedselsoorte te ondersoek.

Me Coetzee het verskeie professionele toekennings vir haar werk ontvang waaronder die Cordon Blue-toekenning van die Silwood-kombuis vir navorsing oor tradisionele disse in SA, die kanseliersmedalje van die Universiteit van Pretoria vir haar werk, nasionaal en internasionaal, oor Afrika en SA se koskulture en n eretoekenning van die Instituut vir Kookkuns.

Sy het ook verskeie boeke die lig laat sien en met meer as sestig opvoedkundige programme oor kosvoorbereiding en voeding vir televisie gehelp. Met haar uitgebreide navorsing was Coetzee instrumenteel daarin om Afrika- en Suid-Afrikaanse kos wreldwyd gewild te maak.






Me Renata Coetzee ontvang eersdaags n eredoktorsgraad van die NWU.

