TAALBELEID
AANHALINGS WAT AS INSPIRASIE VIR DIE ONTWIKKELING VAN HIERDIE TAALBELEID GEDIEN HET
Alle mense sal die reg hê om hul eie taal te praat en hul eie volksgewoontes en -gebruike te ontwikkel.
Die Vryheidsmanifes, 1955 (eie vertaling)
n Veeltaligheidsbeleid is 'n wesenlike deel van Suid-Afrika se transformasie tot volkome deelnemende demokrasie. Daar kan nie van mense verwag word om wette te gehoorsaam wat hulle nie verstaan nie.
Die boek is vertaal in feitlik al die tale in die wêreld. Ek kan enige plek in die wêreld gaan en my storie is in daardie taal te vinde. Behalwe hier. Hier bestaan ek net in Engels. Ek wil deel wees van al die tale van my land. 'n Mens se taal behoort nooit 'n doodloopstraat te wees nie. Dis hoekom ek in vertaling glo: om ons in staat te stel om met mekaar te leef.
INHOUD
Bladsy
Inleiding en agtergrond ...4
Definisies ...4
Wetskonteks...5
Doelwitte ...6
Rigtinggewende beginsels ...7
Toepassingsbestek...7
Sensussyfers...8
Interne en eksterne taalopnames en -oudits...8
Beleidsaanbevelings...9
Interne gesproke kommunikasie ...9
Eksterne gesproke kommunikasie ...10
Interne geskrewe kommunikasie...10
Eksterne geskrewe kommunikasie...11
Munisipale advertensieborde ...11
Mense met taalgebreke...12
Opleiding by die Munisipaliteit...12
Implementeringstrategie...12
Taalstrukture...13
Eenheid Taaldienste ...14
Beleidsoorsig...15
INLEIDING EN AGTERGROND
Voor 1994 was Engels en Afrikaans die enigste twee amptelike tale wat deur die plaaslike owerheid gebruik is in gebiede wat nou deel van die Stad Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit is. Die nuwe bedeling wat in 1994 tot stand gekom het, het die Wet op Munisipale Strukture, 2000 (Wet 32 van 2000) teweeggebring, wat die gemeenskap se deelname aan plaaslike regering beklemtoon. Dit is duidelik dat indien die Munisipaliteit optimale gemeenskapsdeelname wil bereik, dit die inwoners in hul eie taal moet bedien.
Die Eenheid Taaldienste van die Munisipaliteit het aan die wekroep tot taalkundige diversiteit gehoor gegee deur die Tshwane-konseptaalbeleid te ontwikkel. Hierdie beleid se doel is om taalkundige ongelykhede van die verlede reg te stel. Die beleid volg die voorbeeld van die nasionale taalbeleidraamwerk wat deur die nasionale taaldiens van die Departement van Kuns en Kultuur ontwikkel is, en wat onder meer bepaal dat provinsiale en plaaslike taalomstandighede in ag geneem moet word wanneer taalbeleide deur provinsiale en plaaslike owerhede ontwikkel word.
Die oogmerk van die Tshwane-konseptaalbeleid is dus om riglyne vir die Munisipaliteit daar te stel oor hoe om veeltaligheid in sy kommunikasieprosesse toe te pas en sodoende te verseker dat alle inwoners toegang tot inligting en munisipale dienste het in 'n taal wat vir hulle die verstaanbaarste is.
DEFINISIES
In hierdie beleid, tensy die konteks die teendeel aandui, beteken -
amptelike taal" 'n taal wat deur die regering-, onderwys- en sakesektor en die media gebruik word;
funksionele veeltaligheid" die keuse van 'n spesifieke taal of tale in 'n spesifieke situasie, bepaal deur die konteks waarin die taal gebruik word, met ander woorde die funksie, die gehoor en die boodskap waarvoor dit gebruik word;
gelykmatige gebruik" die gebruik van taal wat gelykmatig, onbevange en onpartydig is;
Grondwet" die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996;
PanSAT" die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, gestig deur die Wet op die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, 1995 (Wet 59 van 1995);
Raad" die Raad van die Munisipaliteit;
skakeltolkwerk" die proses waar 'n tolk van die een taal na die ander en terug tolk, meestal in 'n kort, opeenvolgende tolkmodus, in situasies waar -
n werknemer van die Munisipaliteit nie die taal van 'n ander werknemer of werknemers van die Munisipaliteit verstaan nie (tot en met tien werknemers kan betrokke wees), byvoorbeeld by arbeidsgeskille of tugverhore; of n werknemer van die Munisipaliteit nie die taal van 'n kliënt van die Munisipaliteit of 'n inwoner van Tshwane verstaan nie (tot en met tien kliënte of inwoners kan betrokke wees), byvoorbeeld by samesprekings tussen kliniekpersoneel en pasiënte, tussen kassiere en kliënte by betaalpunte, of tussen amptenare en die gemeenskap by gemeenskapinligtingsforums;
taal van verslagdoening" 'n amptelike taal wat gekies word vir verslagdoenings­en optekeningsverrigtinge en -prosedures van die Munisipaliteit;
taalregte" wette wat bepaal in watter situasies burgers taalkeuses kan uitoefen;
terminologie" gestandaardiseerde terme wat vir 'n spesifieke vakgebied vasgestel word;
tolk" 'n persoon wat 'n mondelinge uiting transponeer of vertolk vanaf een taal na 'n ander;
veeltaligheid" die gebruik van drie of meer tale deur 'n individu of 'n groep mense;
vertaling" die transponering van 'n teks van een taal na 'n ander, en "vertaal" het 'n soortgelyke betekenis;
tolkwerk", met betrekking tot mondelinge uitings, die transponering van uitings van een taal na 'n ander en, met betrekking tot gebaretaal, die transponering van gebaretaaltekens na gesproke taal en andersom, en "vertolk" het 'n soortgelyke betekenis;
werkstaal" die amptelike taal wat deur die Munisipaliteit gekies is as die mees praktiese taal vir spesifieke kommunikasiegebeure.
WETSKONTEKS
Die volgende maak die wetskonteks vir hierdie beleid uit:
Artikel 6 en 9 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996
Artikel 1.2.4 van die implementeringsplan vir die nasionale taalbeleidraamwerk, wat aanvoer dat die plaaslike owerheid die taalgebruik en -voorkeure van sy gemeenskappe deur 'n bemagtigende provinsiale taalbeleidraamwerk sal bepaal. Nadat die taalgebruik en -voorkeure van die gemeenskappe bepaal is, moet die plaaslike owerheid, na breë raadpleging met die gemeenskappe, 'n veeltaligheidsbeleid ontwikkel, bekend stel en implementeer.
Artikel 3 van die taalbeleidraamwerk van die Gautengse provinsiale regering (Augustus 2005), wat die doelwitte van die beleidraamwerk uiteensit, onder meer die volgende:
c Om billike toegang tot provinsialeregeringsdienste en -inligting en deelname aan regeringsprosesse te vergemaklik d Om veeltaligheid in die departemente van die provinsiale en plaaslike owerhede en in hul kommunikasie en interaksie met die publiek te ondersteun, te ontwikkel en te handhaaf f Om taaldiversiteit te beskerm en om respek vir veeltaligheid en eensgesindheid te bevorder" [eie vertaling]
Die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (Wet 2 van 2000)
Die Witskrif oor Transformasie van Openbare Dienslewering (Batho Pele­witskrif), 1997
DOELWITTE
Hierdie beleid strook met die Grondwet se bepalings met betrekking tot veeltaligheid en die sleutelprestasieaanwysers van die Munisipaliteit. Die beleid het ten doel om te verseker dat -
die taalregte wat in die Grondwet vasgelê is, vertolk word as 'n duidelike en doeltreffende benadering tot veeltaligheid in die Munisipaliteit;
die gelykmatige gebruik van die amptelike tale van die Munisipaliteit bevorder word;
gelykmatige toegang tot munisipale dienste en inligting vergemaklik word;
taalongelykhede van die verlede, wat tot die onderontwikkeling van die Afrikatale gelei het, reggestel word;
taaldiversiteit beskerm word en respek vir veeltaligheid en eendrag te midde van uiteenlopendheid bevorder word; en veeltaligheid aangemoedig word vir doeltreffende administratiewe en kommunikasieprosesse in die Munisipaliteit.
RIGTINGGEWENDE BEGINSELS
Die beleid is op die volgende beginsels gebaseer:
Taalregte Om respek vir die taalregte van inwoners, soos in die Grondwet vasgelê, te bevorder.
Taalgelykheid Om die gelyke behandeling van al die amptelike tale van die Munisipaliteit te verseker.
Herstel Om die status en rol van voorheen gemarginaliseerde tale te verhef.
Nie-diskriminasie Om te verhoed dat taal aangewend word vir uitbuiting, oorheersing of diskriminasie.
Mensgerigtheid Om in die gees van Batho Pele aan die behoeftes, wense en belange van die taalgemeenskappe aandag te gee.
Vennootskappe Om saam met die publiek en privaat taalinstansies aan die bevordering van veeltaligheid te werk.
Goeie bestuur Om al die amptelike tale van die Munisipaliteit te gebruik met die oog op 'n deursigtige, verantwoordbare plaaslike regering wat die taalkundige behoeftes van kiesers op die hart dra.
Deelname Om sowel munisipale werknemers as inwoners van Tshwane in staat te stel om aan besluitnemingsprosesse deel te neem.
TOEPASSINGSBESTEK
Hierdie beleid geld vir die werknemers van die Munisipaliteit en die inwoners van Tswhane en ten opsigte van enige versoek aan die Munisipaliteit rakende taalgebruik en taalpraktyk.
Om die amptelike tale van die Munisipaliteit te bepaal is daar van die 2001­sensussyfers en verslae oor eksterne en interne opnames gebruik gemaak.
Sensussyfers
Die onderstaande tabel, wat uit Sensus 2001 geneem is, gee 'n aanduiding van huistaalverspreiding in Tshwane.
Taal Aantal sprekers as 'n persentasiepunt
Ander 0,83
TOTAAL 100
Tshwane se huistaalprofiel dui daarop dat Pedi (Noord-Sotho) die huistaal is wat deur die meeste mense gepraat word, gevolg deur Afrikaans, Tswana, Tsonga, Zoeloe en Engels. Dit is duidelik dat daar nie net 'n enkele oorheersende huistaal in Tshwane is nie, maar 'n veeltalige situasie waarin hierdie ses tale deur 84,68% van die bevolking gepraat word.
Interne en eksterne taalopnames en -oudits
Die taalgebruik, -behoeftes en -voorkeure van die inwoners van Gauteng is ook in ag geneem by die samestelling van die Munisipaliteit se taalbeleid. Die Gautengse inligting kom uit die bevindinge van 'n provinsiale taal- en kommunikasieoudit in 2004 wat in Towards a Functional and Cost-effective Language Policy for Gauteng opgeneem is. Die oudit is deur Sarah Slabbert Associates vir die Gautengse Departement van Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning gedoen. Die oudit het gewys dat meeste lede van die publiek of amptenare by diensleweringspunte in staat is om met die publiek in tale buiten Engels en Afrikaans te kommunikeer. Die oudit het ook gewys dat die meeste kliënte verkies om in 'n inheemse taal die staat se dienste te gebruik. Volgens die oudit was die taalvoorkeur by een van die provinsiale hospitale soos volg:
Die bevindinge van die oudit bevestig 'n beduidende behoefte aan vertaal- en tolkdienste om te verseker dat kliënte in hul huistaal bedien word.
BELEIDSAANBEVELINGS
Die volgende aanbevelings word met betrekking tot taalgebruik in die Munisipaliteit gemaak:
Inaggenome die Sensus 2001-syfers oor die huistaalgebruik en -voorkeure van Tshwane-inwoners en die aanbevole provinsiale keuses in die konseptaalbeleid van die Gautengse provinsiale regering (30 April 2004), word daar aanbeveel dat die Munisipaliteit die volgende ses tale as amptelike tale aanvaar:
Verder moet die Munisipaliteit alles in sy vermoë doen om die ander amptelike tale van die Republiek van Suid-Afrika te gebruik, insluitend, op versoek, Suid-Afrikaanse gebaretaal. Die Munisipaliteit moet ook braille-dokumente, waar moontlik, vir sekere kommunikasiegebeure voorsien.
Daar moet egter kennis geneem word dat die Munisipaliteit se amptelike tale hersien sal word gegrond op die bevinding van taal- en kommunikasieoudits wat in die toekoms in Tshwane gedoen sal word.
Interne gesproke kommunikasie
Enige van die amptelike tale van die Munisipaliteit mag gebruik word in gesproke intradepartementele en interdepartementele kommunikasie, mits almal wat by die kommunikasiegebeure betrokke is die taal of tale wat gepraat word, verstaan.
Engels word aanbeveel as die werkstaal vir gesproke intradepartementele en interdepartementele kommunikasie. Ander amptelike tale van die Munisipaliteit mag gebruik word, mits dit deur al die partye wat by die kommunikasiegebeure betrokke is, verstaan word.
Enige van die amptelike tale van die Munisipaliteit mag gebruik word vir enige debatte of verrigtinge van die Raad. Die Munisipaliteit moet derhalwe voorsiening maak vir gelyktydige tolkwerk vanaf en na enige van die amptelike tale van die Munisipaliteit.
Tugverhore, werksonderhoude en prestasiebepalings in die Munisipaliteit sal oor die algemeen in Engels gevoer word, mits vertaal- of tolkdienste beskikbaar gestel word vir diegene wat nie Engels praat of verstaan nie.
Eksterne gesproke kommunikasie
Die Munisipaliteit moet by gesproke kommunikasie poog om al sy kliënte in die taal van hul keuse te bedien.
Indien daar nie personeellede beskikbaar is om kliënte mondelings in die taal van hul keuse te help by 'n kliëntedienssentrum, betaalpunt, kliniek of ander openbare munisipale plek nie, moet skakeltolke se hulp ingeroep word. Elke moontlike poging moet aangewend word om, waar prakties moontlik, tolkdienste (opeenvolgende, gelyktydige, telefoon- of fluistertolkdienste) te gebruik.
Die Munisipaliteit moet skakeltolke voorsien indien belangrike of strategiese inligting by openbare geleenthede wat deur die Munisipaliteit gereël word, mondelings aan groepe veeltalige inwoners oorgedra moet word, bv by indabas of gesondheidsimbizo's van die Departement Maatskaplike Ontwikkeling.
Interne geskrewe kommunikasie
Engels behoort die werkstaal van die Munisipaliteit te wees om bedryfsdoeltreffendheid te verhoog, en vertalings na ander tale van die Munisipaliteit sal op versoek beskikbaar gestel word.
Die Munisipaliteit moet op versoek vertaaldienste vir intradepartementele en interdepartementele geskrewe kommunikasie voorsien.
Vertaaldienste moet op versoek beskikbaar gestel word om mosies wat by Raadsvergaderings ingedien word in enige van die amptelike tale van die Munisipaliteit te vertaal.
Die Munisipaliteit se beleide, prosedures, diensvoorwaardes, strategiese omsendbriewe, belangrike mensehulpbrondokumente, gesondheids-en veiligheidsinligting en ander strategiese dokumente moet in al die amptelike tale van die Munisipaliteit beskikbaar gestel word.
Die Munisipaliteit moet interne veeltalige skakeltolke beskikbaar stel om ongeletterde personeellede te help om toegang tot munisipale inligting te verkry. Skakeltolkwerk moet as 'n ondersteuningsmeganisme vir geskrewe kommunikasie dien.
Alhoewel geen werknemer van die Munisipaliteit te enige tyd verhoed mag word om die amptelike taal van sy of haar keuse te gebruik nie, moet alle amptelike dokumente wat in 'n argief bewaar moet word, vir praktiese administratiewe doeleindes in die oorspronklike taal en in Engels as argieftaal beskikbaar wees.
Ter wille van verstaanbaarheid en beter kommunikasie moet die gebruik van eenvoudige taal in interne munisipale dokumente aangemoedig word.
Eksterne geskrewe kommunikasie
Alle amptelike kennisgewings, verklarings, tariewe, verordeninge, regulasies, beleide, advertensies, ens wat vir openbare kennisname deur die Munisipaliteit uitgereik of gepubliseer word, moet sover prakties en finansieel moontlik, in al die amptelike tale van die Munisipaliteit beskikbaar gestel word.
Die Munisipaliteit moet veeltalige skakeltolke vanuit eie geledere voorsien as 'n meganisme om geskrewe kommunikasie aan te vul en ongeletterde kliënte te help om toegang tot munisipale dienste en inligting te bekom. Die skakeltolke moet by kliëntedienssentrums, betaalpunte, klinieke en ander openbare munisipale plekke skakeltolkwerk doen indien veeltalige personeellede nie vir hierdie doel beskikbaar is nie.
Die Munisipaliteit moet alle pogings aanwend om veeltaligheid op sy webwerf en in eksterne publikasies te bevorder deur al die amptelike tale van die Munisipaliteit te gebruik.
Alle eksterne munisipale korrespondensie moet vertaal word in die amptelike taal waarin die oorspronklike dokument ontvang is, mits 'n Engelse vertaling van die dokument in die argief geplaas word vir munisipale rekorddoeleindes en vir moontlike regsaksies. Die Munisipaliteit moet die kliënt inlig dat die Engelse teks in regsaksies gebruik sal word.
Daar moet 'n sinnetjie onderaan elke bladsy van elke eksterne dokument van die Munisipaliteit (veral briewe) wees wat lui dat die dokument in enige van die amptelike tale van Suid-Afrika beskikbaar gestel kan word, en die Munisipaliteit se handleiding oor die korporatiewe identiteit moet dit as 'n vereiste stel.
Alle munisipale dokumente wat in 'n argief geplaas word moet, om praktiese administratiewe redes, ook in Engels beskikbaar wees.
Die Munisipaliteit moet Engels in internasionale kommunikasie gebruik, maar moet vertaaldienste in die voorkeurtaal van die betrokke land vir ad hoc-kommunikasie beskikbaar stel.
In eksterne munisipale dokumente moet die gebruik van eenvoudige taal aangemoedig word ter wille van verstaanbaarheid en beter kommunikasie.
Munisipale advertensieborde
Die Munisipaliteit moet die taalvoorkeure van die plaaslike gemeenskappe behoorlik in ag neem wanneer plaaslike padtekens en rigtingaanwysers aangebring word. Alle identifikasietekens, rigtingaanwysers en padtekens wat met munisipale geboue, dienste, fasiliteite, infrastruktuur of voertuie verband hou, moet waar prakties moontlik in al die amptelike tale van die Munisipaliteit aangebring word. Waar dit weens finansiële beperkinge nie moontlik is nie, kan 'n tweetaligheidsbeleid aanvaar word (naamlik Engels en nog 'n amptelike taal van die Munisipaliteit), mits Engels die een taal is en die oorheersende taal van die betrokke gebied die ander een.
Mense met taalgebreke
Die Munisipaliteit moet, op versoek en wanneer prakties moontlik, in die behoeftes van mense met taalgebreke voorsien.
Opleiding by die Munisipaliteit
Die voertaal vir munisipale opleiding is Engels, mits die beginsel van funksionele veeltaligheid, waar prakties moontlik, toegepas word. 'n Aanbieder mag byvoorbeeld enige van die Munisipaliteit se ander amptelike tale gebruik, afhangend van die taalgebruik en -voorkeure van die studente. Die verlangde resultaat, nl doeltreffende opleiding, moet onder alle omstandighede 'n oorweging wees.
Die mondelinge deel van enige munisipale program of veldtog wat daarop gemik is om die welsyn van werknemers te verbeter, bv video's vir die interne inligtingskanaal, moet in al die amptelike tale van die Munisipaliteit wees.
Werknemers van die Munisipaliteit moet aangemoedig word om op 'n gestruktureerde wyse die amptelike tale van die Munisipaliteit wat hulle nie ken nie, sowel as Suid-Afrikaanse gebaretaal, te leer ten einde die publiek doeltreffend te kan dien.
Die Munisipaliteit moet opleidingsprogramme en opknapkursusse vir werknemers reël om hulle te help om hul vaardighede ten opsigte van die amptelike tale van die Munisipaliteit te ontwikkel sodat hulle 'n doeltreffende en effektiewe diens aan die gemeenskappe kan lewer.
Vertaaldienste moet beskikbaar gestel word om, op die leerders se versoek, interne opleidings- en kursusmateriaal in enige van die amptelike tale van die Munisipaliteit te vertaal.
Opleiers en kursussamestellers moet aangemoedig word om eenvoudige taal in hul studiemateriaal te gebruik om die opleiding meer toeganklik te maak en kommunikasie tussen leerders en opleiers te verbeter.
IMPLEMENTERINGSTRATEGIE
Daar sal 'n infaseringsbenadering gevolg word om die beleid suksesvol te implementeer, en finansiële en mensehulpbron-implikasies sal in ag geneem word. Hierdie benadering sal verseker dat daar genoeg tyd is om die vermoë op te bou om die proses ten volle te implementeer. Nog 'n rede vir 'n infaseringsbenadering is om genoeg ruimte te laat vir die evaluering en monitering van die beleid. Dit sal verseker dat die implementering van die beleid gereeld hersien word en regstellende maatreëls op vasgestelde tye geneem word.
Die volgende strategieë sal gebruik word om die suksesvolle implementering van hierdie beleid te verseker:
Die Munisipaliteit moet 'n paneel tolke in die lewe roep om funksionele veeltaligheid te bewerkstellig.
Inligtingstukke moet in al die amptelike tale van die Munisipaliteit vertaal word.
Die Eenheid Taaldienste moet terminologie skep en sodoende help om al die amptelike tale van die Munisipaliteit te ontwikkel, veral die vier amptelike Afrikatale.
Burgemeesterskomitee- en Raadsverslae moet geredigeer word om te verseker dat gepaste taal daarin gebruik word.
Opleiding in al die amptelike tale van die Munisipaliteit moet aangebied word aan werknemers wat dit nodig het om doeltreffende diens aan verskillende taalgemeenskappe te lewer.
Die TISSA-toetsprojek sal by klinieke en sekere kliëntedienssentrums van die Munisipaliteit aangepak word om kommunikasie vlot te laat verloop.
Die implementering van hierdie beleid sal tot 'n groter aanvraag na vertaal-, redigeer-, terminologie-ontwikkeling- en tolkdienste in die Munisipaliteit se vier amptelike Afrikatale lei. Die groter aanvraag sal weer tot 'n behoefte aan verdere opleiding in taalvaardighede lei.
In 'n poging om die vermoë van munisipale taaldienste uit te bou, moet die Munisipaliteit, ingevolge sy beursbeleid, beurse aan studente toeken om een of meer van die amptelike tale van die Munisipaliteit op tersiêre vlak te studeer.
Die Munisipaliteit moet skakeltolke voorsien en opleidingsgeleenthede, bv kortkursusse in skakeltolkwerk, vir departementele skakeltolke bide ten einde funksionele veeltaligheid te bewerkstellig.
TAALSTRUKTURE
Die beleid sal in samewerking met verskillende taalbelanghebbers geïmplementeer word. Die volgende funksies sal deur die hooftaalbelanghebbers vervul word:
Eenheid Taaldienste
Om die suksesvolle implementering van hierdie beleid te verseker, sal die Eenheid Taaldienste -
die implementering van hierdie beleid fasiliteer en koördineer deur vertaal-, redigeer-, tolk-, taalopleiding-en terminologie­ontwikkelingsdienste te bied;
gereeld taalopnames en -oudits uitvoer om die toepaslikheid van die bestaande beleid en praktyke van die Munisipaliteit te bepaal en om aanbevelings te maak oor die verbetering van die beleid en praktyke;
bewustheid rondom die beleid skep te verseker dat dit voldoen aan die vereistes;
jaarliks aan die toepaslike taalbeheerliggame, bv die Nasionale Taalforum en PanSAT, verslag doen oor die vordering van die beleid se implementering; en munisipale werknemers en inwoners bewus maak van PanSAT se rol as die amptelike bewaker en beskermer van hul taalregte, en departements- en afdelingshoofde bewus maak daarvan dat een taal nie ten koste van die ander amptelike tale gebruik moet word nie, aangesien dit die taalregte van werknemers en inwoners skend.
Die Eenheid Taaldienste sal met ander taalstrukture soos die Nasionale Taaldienste, die Gautengse Departement van Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, PanSAT, hoëronderwysinstellings en die Nasionale Taalforum saamwerk om -
die gebruik van die amptelike tale van die Munisipaliteit in al die munisipale departemente te monitor;
die implementering van die beleid te monitor;
n lewendige diskoers oor veeltaligheid in alle gemeenskappe aan die gang te kry en te hou; en studies en navorsing te onderneem oor -
die ontwikkeling van die amptelike tale van die Munisipaliteit;
die houding van munisipale werknemers en Tshwane-inwoners teenoor veeltaligheid;
die aanleer en gebruik van die amptelike tale van die Munisipaliteit;
die bevordering van veeltaligheid in Tshwane; en die optimale benutting van die taalhulpbronne van die Munisipaliteit.
BELEIDSOORSIG
Die Munisipaliteit moet gereeld interne en eksterne oudits oor taalvoorkeure en -vaardighede doen om die taalkundige behoeftes en vermoëns van munisipale amptenare en Tshwane-inwoners te bepaal.
Die Eenheid Taaldienste moet die bevindings van hierdie oudits gebruik om die beleid te hersien.
Die Eenheid Taaldienste moet gereeld die implementering van die beleid beoordeel en die nodige veranderinge aanbring.
