GROOT EER VIR TAALKUNDENAVORSER

Prof. Bertus van Rooy van die Skool vir Tale en Navorsingsfokusarea:  Tale en Literatuur in die Suid-Afikaanse Konteks van die Potchefstroomkampus van Noordwes-Universiteit is op die pasafgelope kongres van die International Association for World Englishes (IAWE) in Syracuse, New York (VSA) verkies tot vise-president van die vereniging vir die termyn 2004-2006, en as aangewese president vir die termyn 2006-2008.  Hy is die eerste Suid-Afrikaner en die tweede wetenskaplike uit Afrika om tot die bestuur van hierdie vereniging verkies te word.

IAWE is in 1992 gestig as spreekbuis vir taalkundiges regoor die wreld wat die verskeidenheid binne die Engelse taal bestudeer.  Die klem val op 'n realistiese benadering tot die studie van kwessies soos toepaslike taalgebruik, internasionale verstaanbaarheid en interpreteerbaarheid in kontekste waar mense met verskillende moedertale Engels as kommunikasiemedium gebruik.  

Die wortels van IAWE kan teruggevoer word na kongresse wat sedert 1978 gehou is en die vereniging het lede op elke kontinent en haas elke land waar Engels as eerste, tweede of vreemde taal gebruik word.  Onder die vorige presidente van die vereniging tel wetenskaplikes uit die VSA, Indi, Hong Kong, Nigeri en Singapoer.

