



























KWAZULU-NATAL

WETSONTWERP OP HANDELS- EN BELEGGINGSAGENTSKAP, 2008



                                                                                                                                           

	





























WETSONTWERP



Om voorsiening te maak vir die stigting van ‘n ekonomiese ontwikkelingsagentskap om bekend te staan as Handel en Belegging KwaZulu-Natal om buitelandse en binnelandse beleggings te lok en om uitvoere en uitvoerkapasiteit in die provinsie te genereer; om die oogmerke, bevoegdhede, pligte en funksies van die Agentskap te bepaal; om die wyse waarop die Agentskap bestuur, gereël, beman en gefinansier word te bepaal; om voorsiening te maak vir die formulering van ‘n Provinsiale Beleggings- en Uitvoerbeleid; en om voorsiening te maak vir aangeleenthede wat daarmee verband hou.



DAAR WORD soos volg deur die Provinsiale Wetgewer van die provinsie KwaZulu-Natal bepaal:-



INDELING VAN ARTIKELS

Artikel

HOOFSTUK 1

OMSKRYWINGS

1. Omskrywings



HOOFSTUK 2

HANDEL EN BELEGGING KWAZULU-NATAL

2. Instelling van Handel en Belegging KwaZulu-Natal

3. Oogmerke van Agentskap

4. Bevoegdhede, pligte en funksies van agentskap



HOOFSTUK 3

AGENTSKAPSRAAD

5. Samestelling van Raad

6. Diskwalifisering van aanstelling op die Raad

7. Verklaring van finansiële of ander belange deur lede van Raad

8. Versuim om finansiële of ander belange deur lid van Raad te verklaar

9. Ampstermyn en heraanstelling van lid van Raad

10. Vakatures, verwydering en bedanking uit amp van lede van Raad

11. Tydelike skorsing van lid van Raad

12. Vergaderings en vergaderingsprosedures van Raad

13. Onttrekking van lid vanaf vergaderings en verrigtinge van Raad

14. Vergoeding van lede van Raad

15. Stigting van komitees om Raad by te staan

16. Koöptering van persone aan Raad of komitees van Raad



HOOFSTUK 4

HOOF- UITVOERENDE BEAMPTE EN AGENTSKAPPERSONEEL

17. Hoof- uitvoerende beampte van Agentskap

18. Funksies van Hoof- uitvoerende beampte

19. Bedanking en verwydering uit amp van Hoof- uitvoerende beampte

20. Personeel van Agentskap 

21. Sekondering of oorplasing van personeel na Agentskap



HOOFSTUK 5

BEPALING VAN PROVINSIALE BELEGGINGS- EN UITVOERBELEID

22. Provinsiale Beleggings- en Uitvoerbeleid 

23. Provinsiale Beleggings- en Uitvoerplan

24. Beleidsvoorskrifte

HOOFSTUK 6

BEFONDSING EN FINANSIЁLE BESTUUR VAN AGENTSKAP

25. Fondse van Agentskap

26. Finansiële bestuur

27. Oudit en jaarverslag

28. Stigting en administrasie van spesiale fondse

29. Finansiële jaar van Agentskap

30. Vaste eiendom

31. Regstappe teen Agentskap 



HOOFSTUK 7

ALGEMENE BEPALINGS

32. Sekuriteit van vertroulike inligting gehou deur Agentskap

33. Ontbinding van Agentskap

34. Gebruik van naam van Agentskap

35. Delegasies

36. Regulasies   

37. Likwidasie van Maatskappy en oorgangsbepalings wat daarmee verband hou 

38. Algemene oortredings 

39. Strawwe

40. Kort titel  



HOOFSTUK 1

OMSKRYWINGS



Omskrywings

1. In hierdie Wet, tensy uit die konteks anders blyk, beteken  –

"Agentskap" Handel en Belegging KwaZulu-Natal gestig ingevolge artikel 2;



"beslote korporasie" ‘n korporasie soos omskryf in artikel 1(1) van die Wet op Beslote Korporasies, 1984 (Wet No. 69 van 1984);



"Departement" die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling in die provinsie KwaZulu-Natal;



"georganiseerde plaaslike regering" die provinsiale organisasie wat munisipaliteite in KwaZulu-Natal verteenwoordig, erken ingevolge artikel 163 van die Grondwet en artikel 2 van die Wet op Georganiseerde Plaaslike Regering, 1997 (Wet No. 52 van 1997); 



"Grondwet" die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996;



"hierdie Wet" insluitende die regulasies;



"Hoof- uitvoerende beampte" die Hoof- uitvoerende beampte van die Agentskap, aangestel ingevolge artikel 17; 



"Hoof van departement" die persoon aangestel as hoof van die departement ingevolge artikel 12 van die Staatsdienswet, (Proklamasie No. 103 van 1994);



"Koerant" die amptelike Provinsiale Koerant van KwaZulu-Natal;



"lid" ‘n lid van die Agentskapsraad aangestel ingevolge artikel 5; 



"Lid van die Uitvoerende Raad verantwoordelik vir finansies" die lid van die Uitvoerende Raad van die provinsie KwaZulu-Natal verantwoordelik vir finansies;



"maatskappy" ‘n maatskappy soos omskryf in die Maatskappywet, 1973 (Wet No. 61 van 1973);

 

"Maatskappy" die assosiasie wat ingelyf is ingevolge artikel 21 van die Maatskappywet, 1973 (Wet No. 61 van 1973), met Maatskappyregistrasienommer 98/11946/08, en bekend as Handel en Belegging KwaZulu-Natal;



"Nasionale Tesourie" die Nasionale Tesourie ingestel deur artikel 5 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet No. 1 van 1999);



"Portfoliokomitee" die Portfoliokomitee van die Provinsiale Wetgewer verantwoordelik vir ekonomiese ontwikkeling;



"provinsie" die provinsie KwaZulu-Natal bedoel in artikel 103 van die Grondwet en 

"provinsiale" het ‘n ooreenstemmende betekenis;



"Raad" die Agentskapsraad aangestel ingevolge artikel 5;



"regulasies" regulasies wat uitgevaardig is ingevolge artikel 36;



"Uitvoerende Raad" die Uitvoerende Raad van die provinsie KwaZulu-Natal bedoel in artikel 132 van die Grondwet; en



"verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad" die lid van die Uitvoerende Raad van die provinsie KwaZulu-Natal verantwoordelik vir ekonomiese ontwikkeling or enige ander lid van die Uitvoerende Raad wat deur die Premier toegewys is.





HOOFSTUK 2

HANDEL EN BELEGGING KWAZULU-NATAL



Instelling van Handel en Belegging KwaZulu-Natal

2.(1) Daar word hiermee ‘n agentskap ingestel vir die bevordering van handel en belegging in die provinsie wat bekendstaan as Handel en Belegging KwaZulu-Natal.



(2) Die Agentskap is ‘n regspersoon.



(3) Die Agentskap is ‘n provinsiale openbare entiteit onderhewig aan die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet No. 1 van 1999).

 



Oogmerke van Agentskap

3. Die oogmerke van die Agentskap is –

(a) om buitelandse en binnelandse beleggings te lok;

(b) om uitvoere en uitvoerkapasiteit te genereer; en

(c) om die bevoegdhede, pligte en funksies gespesifiseer in artikel 4 te verrig.





Bevoegdhede, pligte en funksies van Agentskap

4.(1) Die Agentskap moet –

(a) beleggingsgeleenthede in die provinsie vir internasionale en binnelandse beleggers identifiseer, ontwikkel, bemark en bevorder; 

(b) die uitvoerkapasiteit van die provinsie ontwikkel;

(c) die uitvoermark van die provinsie ontwikkel;

(d) handel en belegging binne die provinsie bevorder;

(e) ‘n provinsiale beleggings- en uitvoerplan vir die ontwikkeling, bevordering en bemarking van belegging in en uitvoere van die provinsie ontwikkel; en

(f) ‘n databasis van beleggingsgeleenthede binne die provinsie op so ‘n wyse hou en byhou dat alle sektore van die ekonomie daarby baatvind.



(2) Die Agentskap kan –

(a) vir die doeleindes van ontwikkeling, bevordering, en bemarking van belegging in en die uitvoerkapasiteit van die provinsie, en onderhewig aan die vooraf skriftelike goedkeuring van die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad –

(i) een of meer maatskappye, beslote korporasies of ander soortgelyke liggame stig en bedryf, en om aandele in sodanige maatskappye, beslote korporasies of ander sodanige soortgelyke liggame te koop en verkoop; 

(ii) gesamentlike ondernemings met ander instellings, organisasies, munisipaliteite, liggame of persone aangaan; 

(iii) vennote of aandeelhouers in maatskappye, beslote korporasies of ander liggame word en om alles of deel van sodanige aandele of belange te verkoop; en  

(iv) genoeg fondse insamel deur middel van donasies en borgskappe;

(b) met enige ander entiteit, staatsorgaan, organisasie of instelling skakel wie se aktiwiteite of doelstellings ‘n impak het op en                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                   verband hou met die ontwikkeling, bevordering of bemarking van belegging in die provinsie;

(c) deur die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad ondersoek instel en aanbevelings maak aan die Uitvoerende Raad, aangaande enige saak wat direk of indirek verband hou met die bevordering, ontwikkeling of bemarking van belegging in die provinsie; 

(d) ooreenkomste sluit vir die bereiking van sy oogmerke, die uitoefening van sy bevoegdhede, pligte en funksies of die bestuur en administrasie van sy sake of spesifiek in hierdie artikel daarvoor voorsiening gemaak is of nie; en 

(e) enige ander ding doen of aan enige ander saak aandag skenk wat die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad nodig ag vir die behoorlike implementering van hierdie Wet.



(3) Buiten die bevoegdhede vermeld in subartikel (2), het die Agentskap die bevoegdhede vermeld in artikel 34 van, en bylae 2 tot, die Maatskappywet, 1973 (Wet No. 61 van 1973).





HOOFSTUK 3

AGENTSKAPSRAAD



Samestelling van Raad

5.(1) Die Raad bestaan uit –

(a) ten minste vyf, maar nie meer nie as 20, lede aangestel deur die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad; en

	(b) die Hoof- uitvoerende beampte, ex officio, soos bedoel in artikel 17(5).



(2) Lede van die Raad moet gepaste en geskikte persone wees om die beste belange van die provinsie te dien, en gesamentlik oor die volgende beskik  –

(a) toepaslike kennis of ondervinding in georganiseerde kiesafdelings binne die besigheidsbedryf; en 

(b) die volgende vaardighede en kundigheid:

(i) regsvaardighede, -ondervinding en -kwalifikasies;

(ii) finansiële vaardighede, ondervinding en kwalifikasies;

(iii) ondervinding of kwalifikasies in belegging en uitvoer;

(iv) ondervinding of kwalifikasies in die arbeidsmark;

(v) ondervinding of kwalifikasies in menslike hulpbronne of opvoedkunde;

(vi) gemeenskapsontwikkelingsvaardighede en -ondervinding; en 

(vii) vaardighede en ondervinding in beplanning of ontwikkeling.

 

(3) By aanstelling van lede op die Raad, moet die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad verseker –

(a) dat historiese ongelykhede aangespreek word;

(b) dat die Raad gesamentlik oor die nodige en toepaslike vaardighede en kundigheid beskik; 

(c) dat die Raad verteenwoordigend is van persone wat in diens of betrokke is by die invoer-, uitvoer-, handel- en beleggingsbesigheidsondernemings in die provinsie;

(d) munisipale belange verteenwoordig is op die Raad op sodanige wyse dat billike ruimtelike verteenwoordiging van munisipaliteite bereik word: Met dien verstande dat nie meer as vier persone op die Raad aangestel mag word om uitvoering te gee aan die bepalings van hierdie paragraaf nie; en

(e) georganiseerde plaaslike regering op die Raad verteenwoordig word.



(4) Die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad –

	(a) moet –

(i) een van die lede van die Raad as die voorsitter van die Raad aanwys; en

(ii) een van die lede van die Raad as die adjunkvoorsitter van die Raad aanwys.



	(b) kan ‘n werknemer van die Departement as sy of haar verteenwoordiger 

aanstel wat –

	(i) skakeling tussen die verantwoordelike lid van die Uitvoerende Raad en 

	die Raad vergemaklik;

	(ii) van tyd tot tyd aan die verantwoordelike lid van die Uitvoerende Raad 

verslag moet doen aangaande aangeleenthede wat as tersaaklik beskou 

word; en

(iii) vergaderings van die Raad mag bywoon en aan besprekings deelneem, maar nie die reg het om te stem wanneer ‘n raadsbesluit geneem word nie.



	(c) moet, deur kennisgewing in die Koerant enige belanghebbendes binne die 

	provinsie uitnooi om kandidate te benoem vir aanstelling op die Raad en die 

	uitnodiging om benoemings moet –

		(i) die benoemingsprosedure; 

		(ii) die vereistes vir benoeming; en

		(iii) die sluitingsdatum vir benoeming,

spesifiseer.



(d) moet alle benoemings wat ingedien word in reaksie op die kennisgewing 

oorweeg, en ‘n keurpaneel aanstel bestaande uit die senior departementele 

beamptes om al die benoemings te oorweeg en aanbevelings aangaande die 

benoemdes aan die verantwoordelike lid van die Uitvoerende Raad te maak.



(e) moet die name van die persone wat op die Raad aangestel word, in die 

Koerant laat publiseer en in ten minste twee koerante met wye sirkulasie in die 

Provinsie, onmiddellik nadat sodanige persone skriftelik in kennis gestel is van 

hul aanstelling op die Raad.



(f) moet, binne twee maande na die aanstelling van lede van die Raad ingevolge 

subartikel (2), die Uitvoerende Raad en die Portfolio Komitee inlig oor die name 

van die aangestelde lede insluitend die termyn van hul aanstelling.



(5) Hierdie artikel is, met die nodige veranderings, van toepassing op die vul van ‘n vakature op die Raad.





Diskwalifisering van aanstelling op Raad

6. ‘n Persoon word gediskwalifiseer van aanstelling op die Raad of om op die Raad te bly dien, op grond van die feit dat hy of sy –

(a) ‘n ongerehabiliteerde insolvent is of word;

(b) deur ‘n bevoegde hof as ontoerekeningsvatbaar verklaar is of word;

(c) direk of indirek belang het in enige kontrak met die Agentskap en versuim om sy of haar belang en die aard daarvan te verklaar op die wyse wat deur hierdie Wet vereis word;

(d) onder kuratorskap is;

(e) te eniger tyd uit ‘n vertrouensamp verwyder is as gevolg van wangedrag wat diefstal of bedrog insluit;

(f) skuldig bevind is en gevonnis is tot ‘n termyn van gevangenisstraf sonder keuse van ‘n boete, behalwe dat die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad, by die openbaarmaking van volle besonderhede van ‘n misdryf in ‘n beëdigde verklaring van ‘n persoon wat vir aanstelling benoem is, ‘n skuldigbevinding kan oorsien op ‘n wyse wat konsekwent is met artikel 106(1)(e) van die Grondwet: Met dien verstande dat ‘n diskwalifikasie ingevolge hierdie subartikel eindig vyf jaar nadat die vonnis uitgedien is; en

(g) versuim om ‘n belang in ooreenstemming met artikel 7 te verklaar of die verrigtinge van die Raad bygewoon het of daaraan deelgeneem het terwyl hy of sy ‘n belang het soos in die vermelde artikel bedoel.





Verklaring van finansiële of ander belange van lede van Raad

7.(1) ‘n Persoon wat benoem is om op die Raad te dien ingevolge subartikel 5(6) moet,  binne 10 dae na benoeming, ‘n skriftelike verklaring aan die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad voorlê van alle direkte of indirekte belange in enige maatskappy of ander besigheidsbelange.



(2) Enige versuim deur die benoemde om finansiële en ander belange ingevolge subartikel (1) te verklaar, diskwalifiseer sodanige benoemde ingevolge artikel 6 om oorweeg te word vir die posisie as lid van die Raad.  



(3) Elke lid van die Raad moet, by aanvaarding van die amp en aan die begin van elke finansiële jaar van die Agentskap, ‘n skriftelike verklaring van sy of haar direkte of indirekte belang in enige maatskappy of ander besigheidsbelang voorlê op die wyse waarvoor in artikel 234(3)(a) van die Maatskappywet, 1973 (Wet No. 61 van 1973) voorsiening gemaak word.



(4) Waar ‘n lid van die Raad ‘n belang in enige maatskappy of ander besigheidsbelange verkry te eniger tyd gedurende sy of haar dienstyd as ‘n lid van die Raad moet hy of sy binne 10 dae na die datum van die verkryging van sodanige belang, ‘n skriftelike verklaring van sodanige belang aan die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad voorlê.



(5) Enige versuim deur die lid om sy of haar belang te verklaar soos bedoel in subartikels (3) en (4) moet lei tot beëindiging van aanstelling van sodanige lid ingevolge artikel 10(2).     



(6) Die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad moet ‘n opgedateerde register hou van die belange van lede van die Raad wat ingevolge hierdie artikel verklaar is.





Versuim om finansiële of ander belange deur lid van Raad te verklaar

8.(1) ‘n Lid van die Raad wat versuim om ‘n verklaring te maak soos beoog in artikel 7 kan, onderhewig aan subartikel (2) gediskwalifiseer word om op die Raad aan te bly.



(2) Die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad moet, wanneer hy of sy bewus raak dat ‘n lid van die Raad versuim het om aan die bepalings van artikel 7 te voldoen, die aangeleentheid ondersoek en toepaslike dissiplinêre stappe oorweeg.





Ampstermyn en heraanstelling van lid van Raad 

9. Die ampstermyn van persone wat op die Raad aangestel is, duur ‘n tydperk van drie jaar of sodanige korter tydperk as wat die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad mag bepaal en is, onderhewig aan artikel 5, verkiesbaar vir heraanstelling by die verstryking van sodanige tydperk: Met dien verstande dat geen persoon heraangestel mag word nadat hy of sy op die Raad gedien het vir ‘n aaneenlopende tydperk van nege jaar nie.





Vakatures, verwydering en bedanking uit amp van lede van Raad

10.(1) ‘n Lid van die Raad moet die amp verlaat indien hy of sy onderhewig raak aan diskwalifikasie bedoel in artikel 6.



(2) Die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad kan, nadat die lid ‘n geleentheid gebied is om sy of haar saak te stel, te eniger tyd die ampstermyn van sodanige lid beëindig, indien volgens sy of haar diskresie, daar goeie redes daarvoor is.



(3) ‘n Lid moet sy of haar amp verlaat indien hy of sy afwesig is, sonder dat verlof tot afwesigheid deur die Raad toegestaan is, van twee opeenvolgende vergaderings van die Raad waarvoor redelike kennis persoonlik of per pos aan daardie lid gegee is.



(4)  ‘n Lid kan skriftelik uit die amp bedank deur nie minder nie as 30 dae kennis aan die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad te gee: Met dien verstande dat die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad die kennisgewing van bedanking kan laat vaar.



(5)  Wanneer ‘n vakature op die Raad ontstaan, moet die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad, onderhewig aan artikel 5, ‘n persoon aanstel om sodanige vakature te vul vir die onverstrykde deel van die ampstydperk van die lid in wie se plek sodanige persoon aangestel is.



(6) Die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad kan, onderhewig aan subartikel (2), die aanstelling beëindig van –

	(a) al die lede van die Raad; of

	(b) die meerderheid van die lede van die Raad, elke beëindiging die Raad buite werking kan stel.



(7) In die geval dat die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad sy of haar bevoegdhede ingevolge subartikel (6) uitoefen, kan hy of sy, nieteenstaande die prosedure vir die aanstelling van die lede van die Raad soos in artikel 5 uiteengesit, onderhewig aan subartikels 5(2) en 5(3) persone aanstel om op ‘n voorlopige grondslag te dien as lede van die Raad: Met dien verstande dat –

	(a) die persone aangestel ingevolge subartikel (7) nie op die Raad mag aanbly 

vir ‘n tydperk van meer as 90 dae na die datum van hul aanstelling nie; en

(b) die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad, onderhewig aan artikel 5, 

die lede van die Raad aanstel binne 90 dae na die aanstelling bedoel in 

subartikel (7). 

	



Tydelik skorsing van lid van Raad

11. Die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad kan ‘n lid van die Raad skors terwyl die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad bewerings ondersoek wat, indien daar gevind word dat dit korrek is, kan lei tot beëindiging van die lid se aanstelling ingevolge artikel 10(2).





Vergaderings en vergaderingsprosedures van Raad

12.(1) Die eerste vergadering van die Raad moet gehou word op ‘n datum, tyd en plek soos deur die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad bepaal waarna alle toekomstige vergaderings moet plaasvind soos deur die voorsitter bepaal.



(2) Die kworum vir ‘n vergadering van die Raad is die meerderheid van die lede van die Raad.



(3) Die verrigtinge by ‘n vergadering van die Raad moet, onderhewig aan die bepalings van hierdie artikel, deur die voorsitter bepaal word insluitend die reg om te besluit dat enige aangeleentheid onder bespreking onttrek kan word voordat daaroor gestem word.



(4) Die voorsitter moet by alle vergaderings van die Raad voorsit: Met dien verstande dat die adjunkvoorsitter in sy of haar afwesigheid as voorsitter moet optree en indien beide die voorsitter en die adjunkvoorsitter by ‘n vergadering van die Raad afwesig is, kan die lede teenwoordig, uit hul eie geledere, ‘n persoon verkies om as voorsitter op te tree vir die duur van daardie spesifieke vergadering.



(5) ‘n Besluit van die Raad moet geneem word deur ‘n meerderheid van die stemme van die lede wat by ‘n vergadering teenwoordig is en, in die geval van ‘n staking van stemme oor enige aangeleentheid, het die voorsitter ‘n beslissende stem buiten sy of haar gewone stem.



(6) Die Raad moet reël dat notules van sy vergaderings gehou word.



(7) Geen besluit van die Raad is ongeldig slegs op grond van ‘n vakature in die Raad nie: Met dien verstande dat die besluit geneem word deur die vereiste meerderheid van die lede van die Raad daar teenwoordig en geregtig daarop om as lede van die Raad te sit.



(8) Die voorsitter, of ‘n meerderheid van die Raad, kan ‘n buitengewone vergadering van die Raad roep in welke geval die bepalings van hierdie artikel, met die nodige veranderings, van toepassing is.



(9) Die Raad kan, volgens sy diskresie, lede van die publiek toelaat om enige vergadering van die Raad by te woon.



Onttrekking van lid van vergaderings en verrigtinge van Raad

13.(1) ‘n Lid van die Raad moet hom- of haarself van ‘n saak onttrek wat deur die Raad ondersoek, oorweeg of oor gestem word indien een of meer van die volgende geld –

(a) indien hy of sy ‘n direkte of indirekte belang het; of  

(b) indien daar ‘n moontlikheid bestaan dat ‘n direkte of indirekte belang mag ontstaan.



(2) Indien dit in enige stadium gedurende die loop van enige verrigtinge voor die Raad blyk dat ‘n lid wat by daardie vergadering teenwoordig is, of ‘n belang kan hê bedoel in subartikel (1), moet sodanige lid onverwyld die aard van sy of haar belang verklaar en die vergadering verlaat. 



(3) Enige verklaring van belang wat ingevolge subartikel (1) gemaak is, moet opgeteken word in die notule van die betrokke vergadering.



(4) Indien dit daarna blyk dat die Raad ‘n besluit geneem het oor ‘n saak ten opsigte waarvan ‘n lid versuim het om ‘n belang bedoel in subartikel (1) te verklaar, is sodanige besluit deur die Raad ongeldig.



(5) Vir die doeleindes van hierdie artikel sluit “indirekte belang” in, maar is nie beperk nie tot, ‘n belang wat gehou word deur enige lid se –

	(a) besigheidsvennoot, kollega of werkgewer, buiten die Staat;

(b) eggenoot, deelgenoot in ‘n gewoontehuwelik, of persoon saam met wie sodanige lid bly of leef asof hul getroud is; of

(c) kind, ouer, of broer of suster.





Vergoeding van lede van Raad

14.(1)(a) ‘n Lid van die Raad kan uit die fondse van die Agentskap sodanige vergoeding en toelae betaal word soos bepaal deur die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad in oorleg met die Lid van die Uitvoerende Raad verantwoordelik vir finansies.

(b) ‘n Lid van die Raad wat vergoeding, toelae of ander voordele ontvang uit hoofde van sy of haar pos of diens in –

(i) die nasionale regering;

(ii) ‘n provinsiale regering;

(iii) ‘n munisipaliteit; of 

(iv) ‘n korporasie, liggaam of instelling waarin die nasionale of ‘n provinsiale regering ‘n beherende belang het,

en wat voortgaan om sodanige vergoeding, toelaes of ander voordele te ontvang terwyl hy of sy as ‘n lid van die Raad dien, mag slegs vergoeding en toelae ontvang soos vermeld in paragraaf (a) tot die omvang wat vereis word om sodanige lid in die finansiële posisie te plaas waarin hy of sy sou gewees het indien dit nie vir sodanige pos of diens was nie.



(2)(a) ‘n Lid van die Raad en ‘n persoon wat aan die Raad gekoöpteer is, kan met betrekking tot sy of haar funksies as ‘n lid of gekoöpteerde lid, vergoeding ontvang uit die fondse van die Agentskap vir redelike werklike reis- en verblyfkoste genoodsaak deur die werklike bywoning van ‘n vergadering van die Raad. 

(b) Die Lid van die Uitvoerende Raad verantwoordelik vir finansies moet prosedures, insluitende beheermaatreëls, bepaal vir die bestuur, hantering en verwerking van eise vir reis- en verblyfkoste bedoel in paragraaf (a).





Instelling van komitees om Raad by te staan

15.(1) Die Raad kan komitees instel wat uit een of meer van sy lede bestaan om –

(a) die Raad by te staan in die uitvoering van enige van die bevoegdhede, pligte of funksies van die Agentskap bedoel in artikel 4; of

(b) ondersoek in te stel of navorsing te doen oor enige saak wat binne die mandaat van die Raad ingevolge hierdie Wet val.



(2) Wanneer ‘n komitee bedoel in subartikel (1) ingestel word, moet die Raad –

(a) die verwysingsterme van sodanige komitee bepaal, insluitend maar nie beperk nie tot, of sodanige komitee ophou voortbestaan of nie wanneer dit die taak of take voltooi het wat deur die Raad daaraan toegewys is;

(b) ‘n voorsitter van sodanige komitee aanstel wat ‘n lid van die Raad moet wees; en

(c) bepaal of sodanige komitee persone mag koöpteer wat nie lede  van die Raad is nie, en indien wel, op watter terme en voorwaardes.



(3) Die Raad kan, te eniger tyd, die bestaan van ‘n komitee of enige mandaat wat aan ‘n komitee gegee is, beëindig, ongeag of sodanige komitee die taak of take voltooi het wat daaraan deur die Raad toegewys is.



(4)(a) Die Hoof- uitvoerende beampte mag vergaderings van die Raad bywoon en daaraan deelneem, maar nie die reg het om te stem nie.

(b) ‘n Personeellid van die Raad mag, op uitnodiging deur die tersaaklike komitee, ‘n vergadering van daardie komitee bywoon.





Koöptering van persone aan Raad of komitees van Raad

16.(1) Die Raad mag, indien hy van mening is dat ‘n spesifieke persoon in staat is om hom by te staan met betrekking tot enige van sy funksies en bevoegdhede, sodanige persoon koöpteer vir daardie doel.



(2) ‘n Persoon wat gekoöpteer is ingevolge subartikel (1) is nie geregtig daarop om te stem by enige vergadering van die Raad of ‘n komitee nie.



(3) ‘n Persoon wat gekoöpteer is ingevolge subartikel (1) moet sodanige vergoeding en toelae ontvang uit die fondse van die Agentskap soos deur die Raad bepaal.





HOOFSTUK 3

HOOF- UITVOERENDE BEAMPTE EN PERSONEEL VAN AGENTSKAP



Hoof- uitvoerende beampte van Agentskap 

17.(1) Die Raad moet, in oorleg met die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad, die Hoof- uitvoerende beampte van die Agentskap aanstel.



(2)(a) Die Hoof- uitvoerende beampte word aangestel vir ‘n tydperk wat nie vyf jaar oorskry nie. 

(b) Die Hoof- uitvoerende beampte mag heraangestel word vir slegs een bykomende ampstermyn wat nie vyf jaar oorskry nie.



(3)(a) Die aanstelling van die Hoof- uitvoerende beampte is onderhewig aan die sluiting van ‘n skriftelike prestasie-ooreenkoms wat aangegaan word tussen daardie persoon en die Raad.

(b) Die Raad en die Hoof- uitvoerende beampte mag, skriftelik en volgens ooreenkoms, die prestasie-ooreenkoms wysig.



(4) Vir doeleindes van die verklaring van finansiële of ander belange, is die bepalings van artikel 7 van toepassing met die nodige veranderings op die Hoof- uitvoerende beampte behalwe dat die Hoof- uitvoerende beampte sy of haar belange aan die Raad moet verklaar.



(5) Die Hoof- uitvoerende beampte is ‘n ex officio-lid van die Raad maar het nie die reg om by sy vergaderings te stem nie.





Funksies van Hoof- uitvoerende beampte

18.(1) Die Hoof- uitvoerende beampte is die hoofadministratiewe- en rekenpligtige owerheid van die Raad soos bedoel in die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet No. 1 van 1999), en is verantwoordelik vir –

(a) die administratiewe en finansiële bestuur van die Raad in ooreenstemming met die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet No. 1 van 1999), en die opdrag van die Raad;

(b) die aanstelling van personeellede van die Agentskap bedoel in artikel 20(1) in oorleg met die Raad; 

(c) die bepaling van ‘n gedragskode, in oorleg met die Raad, van toepassing op die Hoof- uitvoerende beampte, alle personeel van die Agentskap en beregbaar vir doeleindes van dissiplinêre stappe, om die volgende te verseker –

		(i) nakoming van toepaslike reg, insluitend hierdie Wet;

(ii) die doeltreffende, doelmatige en ekonomiese gebruik van die Agentskap se fondse en hulpbronne;

(iii) die bevordering en handhawing van ‘n hoë standaard van professionele etiek;

		(iv) die voorkoming van botsende belange;  

		(v) die beskerming van vertroulike inligting gehou deur die Agentskap; en

		(vi) professionele, eerlike, onpartydige, regverdige, etiese en billike diens;

(d) die handhawing van dissipline oor die personeel aangestel ingevolge paragraaf (b) en moet, vir daardie doeleindes, aan die Raad verantwoordbaar wees; 

(e) die hou en handhawing van die register van belange verklaar deur ‘n personeellid van die Agentskap; en

(f) versekering van nakoming deur die Raad van die bepalings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet No. 1 van 1999), en enige ander toepaslike wetgewing.



(2) Indien die Hoof- uitvoerende beampte om enige rede nie in staat is om enige van sy of haar funksies uit te voer nie, moet die Raad, skriftelik en in oorleg met die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad, ‘n ander persoon aanstel as Waarnemende Hoof- uitvoerende beampte tot die Hoof- uitvoerende beampte in staat is om daardie funksies te hervat.





Bedanking en verwydering uit amp van Hoof- uitvoerende beampte

19.(1) Die Hoof- uitvoerende beampte ontruim sy of haar amp – 

(a) in die geval van bedanking, wanneer die bedanking van krag word;

(b) wanneer, ingevolge die Maatskappywet, 1973 (Wet No. 61 van 1973), die persoon wat daardie amp hou gediskwalifiseer is om te dien as direkteur van ‘n maatskappy; en

(c) by verwydering uit amp ingevolge subartikel (2).



(2) Die Raad kan, in oorleg met die Lid van die Uitvoerende Raad, kan die Hoof- uitvoerende beampte se diens beëindig in ooreenstemming met toepaslike emplojerings- en arbeidsreg.





Personeel van Agentskap

20.(1) Die Hoof- uitvoerende beampte moet, onderhewig aan subartikel (2), personeellede van die Agentskap emplojeer soos wat redelikerwys nodig blyk te wees –

(a) om hom of haar by te staan in die vervulling van sy of haar funksies ingevolge 	hierdie Wet; en 

(b) om die Raad by te staan met die werk eie aan die verrigting van sy funksies deur die Raad.               



(2) Die Raad moet, onderhewig aan artikel 25(4), ‘n menslike hulpbronbeleid vir personeellede van die Agentskap bepaal, insluitend die Hoof- uitvoerende beampte.



(3) Vir doeleindes van die verklaring van finansiële of ander belange, en onderhewig aan artikel 18(1)(e), is die bepalings van artikels 7(3), (4) en (5) van toepassing met die nodige veranderings op personeellede van die Agentskap.



(4) Die Hoof- uitvoerende beampte moet ‘n opgedateerde register hou van die belange van personeellede van die Agentskap wat verklaar is ingevolge hierdie subartikel (3).





Sekondering of oorplasing van personeel na Agentskap

21. Die Agentskap kan die dienste benut van persone wat vanaf die staatsdiens gesekondeer of oorgeplaas word in ooreenstemming met die bepalings van die Staatsdienswet, 1994 (Proklamasie No. 103 van 1994).





HOOFSTUK 4

BEPALING VAN PROVINSIALE BELEGGINGS- EN UITVOERBELEID



Provinsiale Beleggings- en Uitvoerbeleid 

22. Die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad moet, na oorlegpleging met die Raad, ‘n Provinsiale Beleggings- en Uitvoerbeleid ontwikkel. 





Provinsiale Beleggings- en Uitvoerplan

23.(1) Die Raad moet, binne ses maande na die ontwikkeling van die Provinsiale Beleggings- en Uitvoerbeleid ingevolge subartikel (1), ‘n Provinsiale Beleggings- en Uitvoerplan ontwikkel om die beleid en oogmerke wat deur die die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad ingevolge hierdie Wet ontwikkel is, te bereik en uitvoering daaraan te gee.

 

(2) Wanneer die Agentskap sy funksies ingevolge hierdie Wet verrig, moet hy uitvoering gee aan die Provinsiale Beleggings- en Uitvoerplan.





Beleidsvoorskrifte

24.(a) Die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad kan strategiese riglyne stel vir die nastrewing van die Agentskap se oogmerke en kan beleidsvoorskrifte aan die Raad uitreik.  

(b) Die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad kan enige beleidsopdragte uitgereik ingevolge paragraaf (a) onttrek of wysig.





HOOFSTUK 5

BEFONDSING EN FINANSIËLE BESTUUR VAN AGENTSKAP



 Fondse van Agentskap

25.(1) Die fondse van die Agentskap bestaan uit –

(a) geld bewillig deur die Provinsiale Wetgewer;

(b) rente op beleggings van die Agentskap; en

(c) inkomste wat wettig afkomstig is van enige ander bron.



(2) Die Agentskap moet sy fondse benut –

(a) vir die betaling van vergoeding, toelaes en reis- en verblyfkoste van –

		(i) die lede van die Raad;

		(ii) die Hoof- uitvoerende beampte; en

		(iii) die personeellede van die Agentskap; en

 (b) om kostes te dek met betrekking tot –

		(i) die dag-tot-dag bedryf en administrasie van die Agentskap; en

(ii) die verrigting van die pligte en funksies van die Agentskap en die uitoefening van sy bevoegdhede ingevolge hierdie Wet.



(3) Die Hoof- uitvoerende beampte moet, met die instemming van die Raad –

(a) ‘n rekening in die Agentskap se naam oopmaak by ‘n instelling geregistreer as ‘n bank ingevolge die Bankwet, 1990 (Wet No. 94 van 1990); en

(b) daarin alle geld wat ingevolge subartikel (1) ontvang is, deponeer.



(4) Die Raad, in oorleg met die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad, moet die volgende bepaal –

(a) die vergoeding en diensvoorwaardes; en

(b) die pensioen- en aftreevoordele,

van die Hoof- uitvoerende beampte en die ander personeellede van die Agentskap. 



(5) Die Agentskap kan gelde belê wat in sy rekening gedeponeer is wat nie vereis word vir onmiddellike gebruik nie: Met dien verstande dat die Raad redelike stappe moet doen om te verseker dat die belegging nie spekulatief van aard is nie.



(6) Die Kommissie word beperk van die leen van geld of uitreiking van waarborge, kwytskeldings of sekuriteite of die aangaan van enige ander transaksies wat die Kommissie bind, tensy sodanige leen, waarborg, kwytskelding, sekuriteit of ander transaksie gemagtig word ingevolge hierdie Wet en nie teenstrydig is met die Wet op Openbare Finansiële Bestuur nie.





Finansiële bestuur

26.(1) Die Hoof- uitvoerende beampte moet volledige en behoorlike boeke van die rekening en al die nodige rekords wat daarop betrekking het, byhou.



(2) Die Hoof- uitvoerende beampte moet verseker dat die Agentskap se jaarlikse begrotings, korporatiewe planne, jaarverslae en geouditeerde finansiële state voorberei en voorgelê word in ooreenstemming met die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet No. 1 van 1999).



(3) Die Hoof- uitvoerende beampte moet, binne drie maande voor die einde van elke finansiële jaar, die volgende aan die Raad voorlê vir goedkeuring –

(a) ‘n besigheidsplan vir die Agentskap, wat meetbare doelwitte bevat en die ander inligting bedoel in artikel 28(3)(b) en (c); en

(b) ‘n staat van die beraamde inkomste en uitgawes van die Agentskap, 

met betrekking tot die volgende drie finansiële jaar.



(4) In enige finansiële jaar kan die Hoof- uitvoerende beampte aangepaste of bykomende state van die beraamde inkomste en uitgawes van die Agentskap vir daardie finansiële jaar aan die Raad voorlê vir goedkeuring.



(5)  Die Agentskap mag geen finansiële verbintenis aangaan buiten sy goedgekeurde begroting en opgegaarde reserwes nie.



(6)  Die Hoof- uitvoerende beampte kan –

(a) met die goedkeuring van die Raad, enige onbestede gedeelte van sy fondse by die Korporasie vir Openbare Deposito’s of enige ander instelling belê soos van tyd tot tyd deur die Nasionale Tesourie gekategoriseer of gelys as ‘n Kategorie “A1” finansiële instelling; of

(b) met die goedkeuring van die Raad, op enige ander manier van daardie gedeelte afstand doen.



(7)  Die Hoof- uitvoerende beampte kan, met die goedkeuring van die Raad, reserwefondse instel en bedrae soos goedgekeur deur die Raad, daarin deponeer.





Oudit en jaarverslag

27.(1) Die Ouditeur-Generaal moet die finansiële state van die Agentskap oudit.



(2)(a) Die Raad moet ‘n verslag oor die aktiwiteite van die Agentskap gedurende ‘n finansiële jaar in die Provinsiale Wetgewer ter tafel lê binne vyf maande na die einde van daardie finansiële jaar.

(b) Binne vyf maande nadat die verslag ter tafel gelê is, moet ‘n delegasie bestaande uit die voorsitter van die Raad en ten minste twee ander lede van die Raad die betrokke Portfoliokomitee oor die jaarverslag inlig. 



(3) Die verslag moet –

(a) ‘n balansstaat en ‘n inkomste-en-uitgawestaat gesertifiseer deur die Ouditeur-Generaal insluit;

(b) die omvang verklaar waartoe die Agentskap sy oogmerke vermeld in artikel 3 bereik of bevorder het en die meetbare doelwitte soos uiteengesit in sy besigheidsplan soos bedoel in artikel 26(3)(a) gedurende die betrokke finansiële jaar; en

(c) relevante prestasie-inligting bevat aangaande die ekonomiese, doelmatige en doeltreffende toepassing van hulpbronne en in besonder ‘n vergelyking tussen beplande en werklike prestasie-aanduiders soos uiteengesit in daardie besigheidsplan.





Stigting en administrasie van spesiale fondse

28.(a) Die Agentskap kan, in oorleg met die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad, spesiale fondse stig en onderhou, insluitend ‘n fonds om die voorheen benadeelde groepe in die hoofstroom van invoer en uitvoer te bring.

(b) Die Agentskap moet sodanige fondse administreer op die wyse soos bepaal deur die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad.





Finansiële jaar van Agentskap 

29. Die finansiële jaar van die Agentskap begin op 1 April van ‘n spesifieke jaar en eindig op 31 Maart van die volgende jaar.



	

Vaste eiendom

30. Die Agentskap kan, ingevolge ‘n beleid en prosedures deur die Raad bepaal en met die goedkeuring van die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad, vaste eiendom verkry, hou of oor beskik in die loop van sy besigheid.





Regstappe teen Agentskap

31.(1) Enige regstappe teen die Agentskap moet ingestel word in ooreenstemming met die Wet op die Instel van Geregtelike Verrigtinge teen Sekere Staatsorgane, 2002 (Wet No. 40 van 2002).



(2) Die Agentskap word, vir doeleindes van subartikel (1), beskou as staatsorgaan bedoel in paragraaf (c) van die omskrywing daarvan in artikel 1 van die vermelde Wet.





HOOFSTUK 7

ALGEMENE BEPALINGS



Sekuriteit van vertroulike inligting gehou deur Agentskap

32.(1) Onderhewig aan die Grondwet en die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (Wet No. 2 van 2000), mag geen persoon enige inligting wat aan die Agentskap voorgelê word met betrekking tot enige regsopdrag of -instruksie openbaar maak nie, tensy –

(a) hy of sy deur ‘n geregshof daartoe gelas word; of

(b) die persoon wat sodanige opdrag of instruksie gegee het, skriftelik daartoe instem. 



(2) Geen persoon mag enige inligting wat in die register bedoel in artikels 7, 17(4) en 20(4) gehou word, openbaar maak nie tensy sodanige openbaarmaking –

(a) ingevolge enige wet is wat sodanige openbaarmaking verplig of magtig;

(b) wesenlik nodig is vir die behoorlike funksionering van die Agentskap; of

(c) gemaak is vir doeleindes van monitering, evaluering, ondersoek of oorweging van enige aktiwiteit wat op die Agentskap, of enige personeellid van die Agentskap, betrekking het.





(3) Enige persoon wat subartikel (1) of (2) oortree, is skuldig aan ‘n misdryf.





Ontbinding van Agentskap

33. Die Agentskap mag slegs ontbind word ingevolge ‘n wet van die Provinsiale Wetgewer.





Gebruik van naam van Agentskap

34.(1) Geen persoon mag, sonder vooraf skriftelike magtiging van die Agentskap, op enige wyse die Agentskap verteenwoordig of gebruik maak van die naam, akroniem, logo, ontwerpe of materiaal gebruik of besit deur die Agentskap nie.



(2) Geen persoon mag valslik beweer dat hy of sy namens die Agentskap optree nie. 



(3) Enige persoon wat subartikel (1) of (2) oortree, is skuldig aan ‘n misdryf.





Delegasies

35.(1) Die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad mag aan die Hoof van die Departement –

(a) enige bevoegdheid delegeer wat verleen is aan die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad deur hierdie Wet, behalwe die bevoegdheid om regulasies vermeld in artikel 36 uit te vaardig; of

(b) enige plig delegeer wat aan die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad deur hierdie Wet opgelê is, behalwe enige plig aangaande die aanstelling en beëindiging van die amp van die lede van die Raad bedoel in artikels 5(2) en 10(2).



(2) Die Raad kan, deur ‘n spesiale beslissing, enige bevoegdheid of plig wat aan die Raad verleen of opgelê is deur hierdie Wet, aan die Hoof- uitvoerende beampte of personeellid van die Agentskap delegeer.



(3) Die Hoof- uitvoerende beampte kan aan enige personeellid van die Agentskap enige bevoegdheid of plig wat aan die Hoof- uitvoerende beampte deur hierdie Wet verleen of opgelê is, delegeer behalwe enige plig as rekenpligtige beampte van die Agentskap.



(4) Enige bevoegdheid of plig gedelegeer ingevolge subartikel (1), (2) of (3) moet uitgeoefen of verrig word onderhewig aan sodanige voorwaardes soos wat die persoon of liggaam wat die delegering gedoen het, nodig ag.



(5) Enige delegasie vermeld in subartikel (1), (2) of (3) –

(a) moet skriftelik wees;

(b) verbied nie die persoon of liggaam wat die delegering gedoen het om daardie bevoegdheid uit te oefen of daardie plig te verrig nie; en

(c) mag ter enige tyd skriftelik deur daardie persoon of liggaam onttrek of gewysig 

word.





Regulasies

36. Die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad kan, in oorleg met die Raad en deur middel van kennis in die Koerant, regulasies uitvaardig met betrekking tot –

(a) enige aangeleentheid wat voorgeskryf mag of moet word ingevolge hierdie 

Wet; of

(b) enige administratiewe of prosedurale aangeleentheid wat nodig is om uitvoering te gee aan die bepalings van hierdie Wet.





Likwidasie van maatskappy en oorgangsbepalings wat daarmee verband hou 

37.(1)(a) Die Handel en Belegging KwaZulu-Natal met Maatskappyregistrasienommer 98/11946/08, ingestel ingevolge die Maatskappywet, 1973 (Wet No. 61 van 1973), moet vrywillig gelikwideer en geskrap word.

(b) Die lede van die Maatskappy moet, by likwidasie van die Maatskappy vermeld in subartikel (1), onder andere voldoen aan artikels 349 en 350 van die Maatskappywet, 1973 (Wet No. 61 van 1973).



(2) Op die datum van likwidasie van die Maatskappy bedoel in subartikel (1), word alle bates, laste, regte, pligte en verpligtinge, insluitend enige onbestede gedeelte van enige opgelope fondse of fondse ontvang deur die Maatskappy, oorgeplaas na, en berus by, Handel en Belegging KwaZulu-Natal, ingestel ingevolge artikel 2.



(3) Handel en Belegging KwaZulu-Natal is, met betrekking tot die bates, laste, regte, pligte en verpligtinge en fondse vermeld in subartikel (2), vir alle doeleindes regtens die opvolger van, en die regsopvolger tot, die Maatskappy. 



(4) Die lede van die Raad van die Maatskappy moet as behoorlik gemagtigde en bemagtigde lede van die Agentskapsraad optree tot sodanige tyd as wat die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad, ingevolge artikel 5(2), die Raad aangestel het ingevolge hierdie Wet.



(5) ‘n Werksaanbod moet binne ses maande na die inwerkingtreding van hierdie Wet aan alle personeellede van die Maatskappy gemaak word deur die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad vir oorplasing na die Agentskap op ‘n datum soos bepaal deur die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad.



(6) Die vergoeding, voordele en voorregte wat deur die verantwoordelike Lid van die Uitvoerende Raad in ooreenstemming met subartikel (1) gebied word, mag nie minder wees nie as dit betaalbaar aan die personeellid deur die Maatskappy, onmiddellik voor sy of haar oorplasing.



(7) Vir die doeleindes van die Inkomstebelastingwet, 1962 (Wet No. 58 van 1962), word geag dat geen verandering van werkgewer plaasgevind het nie met betrekking tot ‘n personeellid wat ‘n werksaanbod bedoel in subartikel (1) aanvaar. 



(8) Wanneer ‘n persoon ingevolge subartikel (1)  ‘n personeellid van die Agentskap 

word –

(a) behou hy of sy alle opgelope vakansieverlof tot sy of haar krediet tot die datum onmiddellik voor die datum van oorplasing, aangepas in ooreenstemming met die diensvoorwaardes van die Agentskap; en

(b) moet enige navraag wat ingestel of beoog word ten opsigte van beweerde wangedrag gepleeg deur sodanige persoon voor die datum van oorplasing, beskik word oor of ingestel word deur die Agentskap en die Agentskap moet toepaslike stappe doen teen die betrokke persoon in ooreenstemming met die wette, beleid en diensvoorwaardes wat van toepassing is op hom of haar onmiddellik voor die datum van oorplasing.





Algemene oortredings 

38.(1) ‘n Lid van die Raad, ‘n personeellid, adviseur, agent of enige ander persoon in diens van of waarnemend namens die Agentskap is skuldig aan ‘n misdryf indien hy of sy direk of indirek enige omkoopgeld aanvaar en of enige ongemagtigde fooi of beloning ontvang vanaf enige persoon in verband met enigiets gedoen of gebied deur die Agentskap.

   

(2) Enige persoon is skuldig aan ‘n misdryf indien hy of sy, met betrekking tot of in verband met enigiets wat deur die Agentskap gedoen of gebied word, ‘n lid van die Raad, ‘n personeellid, adviseur, agent of enige ander persoon in diens van of waarnemend namens die Agentskap, omkoop of poog om om te koop of omkoopbaar beïnvloed of poog om omkoopbaar te beïnvloed. 

 

(3) Enige persoon wat valslik beweer dat hy of sy gemagtig is om fooie, donasies of bydraes te hef of in te vorder, namens of in opdrag van die Agentskap is skuldig aan ‘n misdryf.  

      

   

Strawwe 

39. Enige persoon wat skuldig bevind is aan ‘n misdryf ingevolge hierdie Wet is aanspreeklik vir ‘n boete of gevangenisstraf vir ‘n tydperk wat nie 5 jaar oorskry nie of beide.





Kort titel 

40. Hierdie Wet word genoem die KwaZulu-Natal Wet op Handels- en Beleggingsagentskap, 2008.        



