







DIE KWAZULU-NATAL 

WETSONTWERP OP DUBE TRADEPORT CORPORATION, 2008



                                                                                                                                        

	



















WETSONTWERP



Om voorsiening te maak vir die stigting van ‘n maatskappy wat bekend staan as Dube TradePort Corporation (Pty) Ltd om aangewese projekte te bestuur en te onderneem; om voorsiening te maak vir aandelebelang in die maatskappy; om die maatskappy se doelwitte te bepaal; om voorsiening te maak vir befondsing van die maatskappy; om voorsiening te maak vir die aanstelling van ‘n hoof- uitvoerende beampte en ‘n direksie; om voorsiening te maak vir aangeleenthede wat verband hou met die beheer en bestuur van die maatskappy deur ‘n direksie en ‘n hoof- uitvoerende beampte; om die maatskappy se bevoegdhede, funksies, finansiële en operasionele aanspreeklikheid te bepaal en om die funksionering daarvan te reguleer; om voorsiening te maak vir die formulering van regulasies; en om voorsiening te maak vir aangeleenthede wat daarmee verband hou.





DAAR WORD soos volg deur die Wetgewer van die provinsie KwaZulu-Natal bepaal:–





HOOFSTUK 1

INLEIDING



OMSKRYWINGS  

1. In hierdie Wet, tensy uit die konteks anders blyk, beteken –



“die Wet” met inbegrip van die regulasies daarkragtens uitgevaardig.



“Departement" die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling of enige opvolger provinsiale departement waarvan die funksies dié van Ekonomiese Ontwikkeling in KwaZulu-Natal insluit; 



“direkteur” enige persoon wat die posisie van direkteur of plaasvervangerdirekteur beklee, ongeag met watter naam hy beskryf word, en wat in sodanige posisie aangestel is ingevolge hoofstuk 3 van hierdie Wet;



“Grondwet” die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996, en sluit enige wysigings daaraan in;



“hoof- uitvoerende beampte” die hoof- uitvoerende beampte van die Korporasie, bedoel in artikel 21; 



“Hoof van Departement” die persoon wat aangestel is as hoof van die Departement ingevolge artikel 12 van die Staatsdienswet, (Proklamasie 103 van 1994);



“indirekte belang” sluit in, maar is nie beperk nie tot, ‘n belang gehou deur enige direkteur se:-

besigheidsvennoot, medewerker of werkgewer, buiten die staat;

eggenoot, deelgenoot in ‘n gewoontehuwelik, of persoon saam met wie sodanige direkteur woon of leef asof hulle getroud is; of

                              iii.	kind, familielid, broer of suster.



“Koerant” die koerant van die KwaZulu-Natal provinsiale regering;



“Korporasie”  die Dube TradePort Corporation (Pty) Ltd registrasienommer 2005/030980/07, ‘n privaat maatskappy met beperkte aanspreeklikheid na behore geïnkorporeer, soos beoog in artikel 20 van die Maatskappywet en gestig in artikel 2 van hierdie Wet,



"KwaZulu-Natal" die provinsie KwaZulu-Natal bedoel in artikel 103 (1) (d) van die Grondwet;



"LUR" die Lid van die Uitvoerende Raad van KwaZulu-Natal verantwoordelik vir ekonomiese ontwikkeling in die provinsie of enige ander lid van die Uitvoerende Raad wat deur die Premier aangewys is;



“Maatskappywet” die Maatskappywet, No. 61 van 1973, en sluit enige wysigings daaraan in;



"portfoliokomitee" die portfoliokomitee van die Provinsiale Wetgewer verantwoordelik vir ekonomiese ontwikkeling;



“provinsiale regering” die provinsiale regering van die provinsie soos saamgestel ingevolge die Grondwet;



"provinsie" die KwaZulu-Natal provinsie bedoel in artikel 103 (1) (d) van die Grondwet;

	

“raad” die direksie bedoel in hoofstuk 3 van hierdie Wet;



“rekenpligtige beampte” die persoon wat aangestel is as die hoof- uitvoerende beampte van die entiteit soos bedoel in hoofstuk  4 van hierdie wetsontwerp onderhewig aan die bepalings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur;



““rekenpligtige gesag” die Raad soos bedoel in hoofstuk 3 van hierdie Wetsontwerp onderhewig aan die bepalings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur;



"Uitvoerende raad" die Uitvoerende Raad van die provinsie bedoel in artikel 132 van die Grondwet;



“verbandhoudende projekte” die projekte en besighede wat voortspruit uit of verband hou met die Dube TradePort projek wat deur die provinsiale regering in werking gestel is, en as sodanig deur die LUR aangewys is deur middel van kennisgewing in die Koerant;



        ;"Wetgewer" die Wetgewer van die provinsie soos bedoel in artikel 105 van die 

Grondwet, en met wetgewende outoriteit vir die provinsie bedoel in artikel 104 

(1) van die Grondwet; en



"Wet op Openbare Finansiële Bestuur" die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet No. 29 van 1999) en enige wysigings daartoe en regulasies daarkragtens uitgevaardig.





Oogmerk van die Wet

2.(1) Die oogmerk van hierdie Wet is om voorsiening te maak vir –



(a) die stigting en registrasie van ‘n korporasie ingevolge die Maatskappywet, wat verantwoordelik sal wees vir strategiese beplanning, ontwerp, konstruksie en bedryf van die Dube TradePort projek, asook enige ander verwante projekte.



(b) skepping van ‘n omgewing wat samewerkende beheer en finansiële aanspreeklikheid ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur bevorder.



(c) bevordering van die provinsiale verpligtinge in die kweek van ekonomiese ontwikkeling in die provinsie, om langtermyn belegging aan te trek, om in- en uitvoere aan te moedig deur die medium van die Dube TradePort, en om voorsiening te maak vir die ontwikkelingsbehoeftes van die provinsie se bevolking.



(d) die bestuur en administrasie van die KwaZulu-Natal Dube TradePort Corporation.





HOOFSTUK 2

DUBE TRADEPORT CORPORATION (PTY) LTD





Stigting van Dube TradePort Corporation (Pty) Limited 

3.(1) Die verantwoordelike lid van die Uitvoerende Raad moet, met die instemming van die Uitvoerende Raad – 

‘n maatskappy laat stig en registreer, soos omskryf in die Maatskappywet, 1973 (Wet No. 61 van 1973) onderhewig aan die goedkeuring van die Registrateur van Maatskappy, om bekend te staan as die KwaZulu-Natal Dube TradePort Corporation (Pty ) Ltd; of sodanige naam as wat deur die Uitvoerende Raad goedgekeur word;

aandele te verkry en te besit as die enigste aandeelhouer namens die provinsiale regering in sodanige korporasie;

sodanige korporasie laat lys as ‘n bylae 3 deel D openbare entiteit ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet No. 1 van 1999) as ‘n provinsiale regering besigheidsonderneming.



Oogmerke van korporasie

4. (1) Die oogmerke van die korporasie is om –

(a) projekte te onderneem of daarin te belê wat verband hou met die Dube TradePort; 

(b) toenemende privaatsektor in staat te stel, deur die benutting van wetlik erkende besigheidsondernemings 

(c) ekonomiese ontwikkeling in die provinsie te kweek;

(d) langtermynbeleggings na die provinsie aan te trek,

(e) in- en uitvoere deur die Dube TradePort aan te moedig;

(f) ekonomiese groei en voorspoed te bevorder; en

(g) die ontwikkelingsbehoeftes van die provinsie se bevolking aan te spreek.



Rolle en funksies van korporasie

5.(1) Die korporasie moet –

(a) verantwoordelik wees vir die strategiese beplanning, stigting, ontwerp, konstruksie, bedryf, bestuur en beheer van die Dube TradePort projek en alle verbandhoudende projekte;

(b) sy bates ooreenkomstig sy meesterplan benut, en binne die raamwerk van provinsiale regeringsbeleid.



 (2) Die provinsiale regering kan rolle en verantwoordelikhede aan die korporasie toeken.



(3) Die korporasie moet nie, sonder vooraf skriftelike goedkeuring van die Uitvoerende Raad –

(a) sy eie aandele koop of lenings of voorskotte toestaan teen die sekuriteit daarvan nie; 

(b) die aandele van enige maatskappy koop nie; of

(c) geld uitleen of voorskotte gee teen die sekuriteit van ‘n verband van vaste eiendom of van ‘n notariële of ander verband of oormaking daarvan.





HOOFSTUK 3

BEHEER VAN DIE DUBE TRADEPORT CORPORATION



Direksie van korporasie

6.(1) Die Direksie is die rekenpligtige gesag van die korporasie ingevolge artikel 49 (2)(a) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.



(2) Die korporasie handel deur ‘n direksie.



(3) Die LUR moet, deur kennisgewing in die Koerant, asook in ten minste twee koerante met wye sirkulasie in die provinsie, benoemings uitnooi van persone vir die raad van die korporasie wat binne 21 dae na die publikasiedatum moet plaasvind.



(4) Die uitnodiging om benoemings ingevolge subartikel (3) moet die volgende spesifiseer:

(a) kriteria vir keuring;

(b) benoemingsprosedure;

(c) vereistes vir benoeming; en 

(d) datum waarteen benoemings deur die LUR ontvang moet word.



(5) Die LUR moet alle benoemings wat voorgelê is in reaksie op die kennisgewing oorweeg.



(6) Die LUR kan ‘n keurkomitee aanstel van nie minder nie as twee (2) departementele senior beamptes en twee (2) Dube TradePort Corporation senior beamptes om alle benoemings te hersien en aanbevelings aangaande die benoemdes aan die LUR te maak.





Samestelling, aanstelling en vergoeding van direksie

7.(1) Die LUR moet –

(a) na oorweging van die aanbevelings, indien enige, van die keurkomitee 

vermeld in artikel 6(6), ‘n totaal van nie minder nie as drie (3) en nie meer nie 

as agt (8) persone as direkteure van die raad aanstel.

(b) wanneer die aanstellings gemaak word, ‘n balans van belange verkry deur 

ras en geslag te oorweeg onder die persone wat die volgende kategorieë 

verteenwoordig –

(i) ten minste een (1) senior beampte, met 

vertrouensaanspreeklikheid,   van die departement as ‘n ex officio-lid 

aan die direksie; met toesigfunksie namens die provinsiale regering;

(ii) ten minste twee (2) lede, met kennis en kundigheid in finansiële 

bestuur;

(ii) persone van enige ander kategorie wat nodig geag word  om die 

bevordering van die oogmerke van die korporasie te verseker.



(2) Die LUR moet, deur kennisgewing in die Koerant en ten minste twee (2) koerante met wye sirkulasie in die provinsie, openbare kommentaar uitnooi aangaande die kortlys van kandidate wat binne 21 dae na die publikasiedatum moet plaasvind.



(3) Na verstryking van die tydperk vir openbare kommentaar vermeld in subartikel (2) en oorweging van enige voorleggings, moet die LUR ooreenkomstig subartikel (1)(a) die vereiste aantal direkteure op die raad aanstel.  



(4) Die direksie kan van tyd tot tyd sodanige ander persone aanwys om op die raad te dien ooreenkomstig die memorandum en artikels van assosiasie van die korporasie en dienooreenkomstig aanbevelings by die LUR maak vir sodanige aanstelling.



(5) Alle aanstellings gemaak deur die LUR moet gedoen word na oorlegpleging met die Uitvoerende Raad en die tersaaklike portfoliokomitee.



(6) ‘n Direkteur wat op die raad aangestel word, word sodanige vergoeding en toelae betaal soos wat deur die LUR bepaal word in oorleg met die Lid van die Uitvoerende Raad verantwoordelik vir finansies.



(7) Geen vergoeding moet aan ‘n direkteur van die raad wat ‘n lid van die staatsdiens is, betaal word bykomend tot sy of haar salaris nie, buiten vir reis en los uitgawes wat verband hou met die besigheid of aktiwiteite van die korporasie ooreenkomstig die tersaaklike reis-en-verblyfbeleid van die departement.





Aanstelling van voorsitter en adjunkvoorsitter van raad

8.(1) Die LUR moet ‘n voorsitter en ‘n adjunkvoorsitter van die raad aanstel.



(2) Persone wat aangestel word ingevolge subartikel (1) moet nie openbaarverkose lede van nasionale, provinsiale of plaaslike sfere of regering wees nie.



(3) In die geval dat die amp van voorsitter vakant is of indien die voorsitter afwesig, onbevoeg is of weier of versuim om as voorsitter van die raad op te tree, word die adjunkvoorsitter bemagtig om al die bevoegdhede, regte, funksies en pligte van die voorsitter uit te voer gedurende die tydperk van sodanige vakature, afwesigheid, onbevoegdheid, weiering of versuim. 



(4). In die geval dat –

(a) die ampte van beide die voorsitter en adjunkvoorsitter tydelik vakant is as gevolg van ‘n vertraging om die vakante posisie te vul; of

(b) beide die voorsitter en adjunkvoorsitter afwesig of onbevoeg is of weier of versuim om hul pligte uit te voer,

moet die lede dan teenwoordig ‘n ander lid aanstel om as voorsitter op te tree gedurende die tydperk van die tydelike vakante posisie, afwesigheid, onbevoegdheid, weiering of versuim.





Ampstermyn van direkteure van die raad

9.(1) ‘n Lid word op die raad aangestel vir ‘n ampstermyn gelyk aan ‘n tydperk van vyf jaar of sodanige korter termyn as deur die LUR bepaal. 



(2) Verskillende ampstermyne kan bepaal word vir die aanstelling van verskillende direkteure.



(3) ‘n Direkteur kan geskik wees vir heraanstelling by die verstryking van sy of haar ampstermyn, maar mag nie as direkteur van die raad dien vir meer as twee opeenvolgende termyne nie.



(4) ‘n Persoon wat aangestel is om ‘n vakature op die raad te vul, word geag die volle termyn van vyf (5) jaar waarvoor hy of sy aangestel is, te gedien het.





Onbevoegverklaring en beëindiging van aanstelling op lidmaatskap van die raad

10. (1) ‘n Persoon is onbevoeg vir aanstelling as direkteur van die raad, of indien aanstelling plaasgevind het, moet sy of haar lidmaatskap onmiddellik beëindig word indien hy of sy – 

(a) ‘n ongerehabiliteerde insolvent is of word;

(b) deur ŉ bevoegde hof as ontoerekeningsvatbaar verklaar is;

(c) direk of indirek belang het by enige kontrak met die Korporasie en versuim 

om sy of haar belang en die aard daarvan te verklaar op die wyse soos deur 

hierdie Wet vereis;

(d) nadat artikel 106(1)(e) van die Grondwet inwerking getree het, skuldig bevind is of word aan ‘n misdryf en gevonnis word tot meer as 12 maande gevangenisstraf sonder die keuse van ‘n boete, hetsy in die Republiek, of buite die Republiek indien die gedrag wat die misdryf uitmaak, ‘n misdryf in die Republiek sou wees:  Met dien verstande dat niemand geag word as gevonnis voordat ‘n appèl teen die skuldigbevinding of vonnis bepaal is nie, of totdat die tyd vir ‘n appèl verstryk het nie. ‘n Onbevoegdheidsverklaring kragtens hierdie paragraaf eindig vyf jaar nadat die vonnis uitgedien is;

(e) uit sy openbare amp verwyder is of word as gevolg van wangedrag;

(f)  versuim het om hom- of haarself aan die saak te onttrek soos deur artikel 12 vereis word;

(g) gedrag geopenbaar het wat, na die mening van die LUR, die departement, of die aktiwiteite van die raad of die korporasie in diskrediet bring of kan bring of die integriteit van die departement, raad of korporasie kan bedreig; of

(h) versuim het om die pligte en funksies van die raad na die beste van sy of haar vermoë uit te voer.





(2) Die LUR kan die aanstelling van die direkteur van die raad beëindig, nadat uitvoering gegee is aan enige administratiewe regte van die direkteur –

(a) op enige van die gronde waarvoor in subartikel (1) voorsiening gemaak is;

(b) op die aanbeveling van die raad, om redes wat billik en regverdig is, deur ‘n besluit wat aanvaar is met ‘n ondersteunende stem van ten minste twee-derdes van die direkteure van die raad; of

(c) by versuim deur die direkteur om te voldoen aan die bepalings van hierdie Wet.



(3) Die LUR moet, op versoek van die direkteur van die raad wie se diens beëindig is soos bepaal in subartikel (1) gee skriftelike redes vir diensbeëindiging.



(4) Enige vakature op die raad moet gevul word vir die onverstrykte gedeelte van die termyn waarvoor die ontruimende direkteur aangestel is op dieselfde wyse waarop die ontruimende direkteur aangestel is.



(5) Die LUR moet, by beëindiging van aanstellings soos bedoel in hierdie artikel, die Uitvoerende Raad en portfoliokomitee van die beëindiging in kennis stel.





Bedanking van direkteur van die raad

11. ‘n Direkteur van die raad kan te eniger tyd en met nie minder nie as dertig (30) dae skriftelike kennisgewing, bedank buiten dat die LUR of sy of haar benoemde ‘n korter kennistydperk kan aanvaar waar hy of sy tevrede is dat dit nie die effektiewe funksionering van die raad negatief sal beïnvloed nie.



Status van lede en onttrekking van lede

12.(1) Alle direkteure van die raad moet nie-uitvoerende direkteure wees.



 (2) Elke direkteur van die raad moet, by aanvaarding van amp en aan die begin van elke finansiële jaar van die korporasie, ‘n algemene bekendmaking maak van sy of haar belang in enige maatskappy of ander besigheidsbelang op die wyse soos bepaal in artikel 234(3)(a) van die Maatskappywet.



(3) Onderhewig aan die bepalings van subartikel (4), waar, met betrekking tot ‘n saak wat deur die raad ondersoek, oorweeg of oor gestem word, ‘n direkteur wat enige direkte of indirekte belang het wat daardie direkteur verhinder of kan verhinder om sy of haar funksies op ‘n regverdige, onbevooroordeelde en behoorlike wyse uit te voer of waar potensiële vooroordeel en/of botsing van belang moontlik kan opduik, en moet hy of sy nie aan die ondersoek, oorweging of stemming deelneem nie, en moet hom- of haarself van die ondersoek, oorweging of stemming onttrek.



(4) Indien dit op enige stadium gedurende die loop van enige verrigtinge voor die raad blyk dat ‘n direkteur wat by daardie vergadering teenwoordig is, ‘n belang bedoel in subartikel (3) het of mag hê, moet sodanige direkteur onverwyld die aard van sy of haar belang bekend maak en die vergadering verlaat om die oorblywende direkteure in staat te stel om die saak te bespreek en te besluit of sodanige direkteur aan subartikel (3) bo moet voldoen. 



(5) Enige bekendmaking en bepaling bedoel in hierdie paragraaf moet opgeneem word in die notule van die betrokke vergadering.



(6) Indien dit gevolglik aan die lig kom dat ‘n direkteur versuim het om ‘n belang bedoel in subartikel (3) te verklaar, sal tersaaklike verrigtinge van die raad ongeldig gemaak word.



(7) Waar ‘n direkteur van die raad of familielid of nabye medewerker ‘n verandering in finansiële of enige ander belang soos bedoel in hierdie artikel ervaar, of ‘n belang in die Dube TradePort projek verkry, moet die direkteur van die raad binne tien (10) dae na die datum van sodanige veranderde belang, ‘n skriftelike bekendmaking van die verandering in finansiële of ander belange aan die LUR voorlê.





Versuim om finansiële of ander belange te verklaar

13.(1) ‘n Direkteur wat versuim om ‘n bekendmaking bedoel in artikel 12 te doen commits an offence. kan, onderhewig aan subartikel (2), onbevoeg verklaar word om op die raad aan te bly.





(2) Die hoof van departement of die hoof- uitvoerende beampte van die korporasie moet, wanneer hy of sy bewus raak daarvan dat ‘n direkteur van die raad versuim het om te voldoen aan die bepalings van artikel 12, die aangeleentheid ondersoek en na die LUR verwys vir toepaslike dissiplinêre stappe. 





Vul van vakatures

14. In die geval van ‘n vakature in die amp van voorsitter of in die geledere van die direkteure van die raad wat om enige rede ontstaan, kan die LUR, onderhewig aan die bepalings van hierdie Wet, ‘n persoon of persone aanstel om sodanige vakature of vakatures te vul vir ‘n ampstydperk soos deur die LUR bepaal wanneer sodanige aanstelling gemaak word.





Tydelike skorsing van voorsitter of lid

15. Die LUR kan ‘n lid van die korporasie skors, terwyl die LUR bewerings ondersoek wat, indien dit gevind word om korrek of wesenlik korrek te wees, kan uitloop op beëindiging van die lid se aanstelling ingevolge artikel 10.





Publikasie van aanstellings

16. Wanneer die voorsitter, adjunkvoorsitter of ‘n direkteur van die raad aangestel word, moet die LUR ‘n kennisgewing in die Koerant laat publiseer so gou doenlik na die aanstelling wat die naam van die aangestelde persoon, die amp beklee, die datum van inwerkingtreding en tydperk van aanstelling bekend maak.





Vergaderings van direksie van korporasie 

17.(1) Die raad moet ten minste drie keer per jaar ontmoet op tye en plekke soos deur die raad bepaal.



(2) Die eerste vergadering van die korporasie moet gehou word op sodanige tyd en plek soos deur die voorsitter bepaal.



(3) Die voorsitter, of in die afwesigheid van die voorsitter, die adjunkvoorsitter –

kan ‘n spesiale vergadering van die raad byeenroep;

moet ‘n spesiale vergadering byeenroep binne veertien (14) dae na ontvangs van ‘n skriftelike versoek wat deur ten minste vier lede van die raad geteken is om sodanige vergadering byeen te roep.



(4) Die kworum vir ‘n vergadering van die raad sal ‘n meerderheid wees van die totale aantal lede wat op daardie tydstip aangestel is.



(5) ‘n Besluit van die meerderheid van die lede teenwoordig by ‘n vergadering van die raad sal ‘n besluit van die raad wees, en in die geval van ‘n staking van stemme sal die voorsitter die beslissende stem hê buiten sy of haar gewone stem.



(6) Die raad kan na goeddunke lede van die publiek toelaat om enige vergadering van die raad by te woon.



(7) Die prosedure by vergaderings van die direksie moet wees soos deur die memorandum en statute van die korporasie bepaal.



(8) Die hoof- uitvoerende beampte van die korporasie moet ‘n vergadering van die raad bywoon en daaraan deelneem, maar mag nie stem nie.



(9) Indien ‘n direkteur van die raad enige belang het, met betrekking tot enige aangeleentheid om by ‘n vergadering van die raad oorweeg te word, wat daardie direkteur verhinder om op ‘n regverdige, onbevooroordeelde en behoorlike wyse op te tree met betrekking tot sy of haar lidmaatskap van die raad, mag die direkteur 

nie –

stem of op enige ander wyse deelneem aan daardie vergadering van die raad nie; of

teenwoordig wees op die plek waar die vergadering gehou word nie. 





Delegerings deur die raad

18.(1) Die raad kan deur spesiale besluit enige van die bevoegdhede, funksies of pligte wat aan hom verleen is, aan enige lid van die korporasie se personeel delegeer, en kan op dieselfde wyse enige sodanige delegasie onttrek.



(2) Die raad sal nie ontneem wees van enige bevoegdheid of onthef wees van enige funksie of plig wat deur hom gedelegeer is nie.



(3) Enige delegasie gemaak ingevolge hierdie Wet – 

kan gemaak word op en onderhewig aan enige voorwaardes deur die raad bepaal;

moet skriftelik wees;

kan gegee word saam met die bevoegdheid om te subdelegeer op en onderhewig aan enige voorwaardes so bepaal (indien enige).





Notule van verrigtinge

19.(1) Die raad en sy komitees moet notule hou van hul onderskeie vergaderings, en afskrifte van die notule aan hul onderskeie direkteure sirkuleer.



(2) Die notule wat so voorberei is, sal, wanneer dit deur die betrokke voorsitter geteken word by ‘n later vergadering van die raad, in die afwesigheid van bewyse van enige foute daarin, geag word as ‘n ware en korrekte rekord van die verrigtinge en aangeleenthede wat hulle beweer om te notuleer, en sal voldoende bewys wees van daardie verrigtinge en aangeleenthede tydens enige verrigtinge voor ‘n geregshof, tribunaal of kommissie van ondersoek.





Funksies van die raad

20. (1) Die LUR kan, na oorleg met die raad –

(a) strategiese riglyne stel vir die najaag van die korporasie se doelwitte;

(b) skriftelike beleidsopdragte aan die raad uitreik; of

(c) enige beleidsopdragte so uitgereik, onttrek of wysig.



20(2) Die raad met die hoof- uitvoerende beampte is verantwoordelik –

om te verseker dat tersaaklike en toepaslike beleid ontwikkel word in oorleg met die LUR vir alle operasionele kwessies by die korporasie;

vir die bepaling van ‘n gedragskode wat van toepassing is op alle personeel van die korporasie en beregbaar is vir die doel van dissiplinêre verrigtinge;

om die effektiewe, doeltreffende en ekonomiese gebruik van die korporasie se fondse en hulpbronne te verseker;

om hoë etiese standaarde te bevorder en te handhaaf;

vir die voorkoming van botsing van belange;

vir die beskerming van vertroulike inligting wat deur die raad gehou word; en

om professionele. Eerlike, onpartydige, regverdige etiese en billike diens te verseker.





Beëindiging van hele raad

20A.(1) Die verantwoordelike lid van die Uitvoerende Raad kan, onderhewig aan subartikel (2), die aanstelling beëindig van – 

(a) al die lede van die raad; of 

(b) die meerderheid van die lede van die raad, welke beëindiging die raad buite werking kan stel.



(2)  In die geval dat die verantwoordelike lid van die Uitvoerende Raad sy of haar bevoegdhede ingevolge sub-artikel (1) uitoefen, kan hy of sy, nieteenstaande die prosedure vir die aanstelling van die lede van die raad, soos in hierdie hoofstuk uiteengesit, persone aanstel om op ‘n voorlopige grondslag te dien as lede van die raad: Met dien verstande dat –

(a) die persone aangestel ingevolge subartikel (1) nie op die raad mag aanbly vir ‘n tydperk van meer as 90 dae na die datum van hul aanstelling nie; en 

(b) die verantwoordelike lid van die Uitvoerende Raad, onderhewig aan artikel 2, die lede van die raad aanstel binne 90 dae na die aanstelling bedoel in subartikel (2). 













HOOFSTUK 4

HOOF- UITVOERENDE BEAMPTE EN PERSONEEL VAN DUBE TRADEPORT CORPORATION





Aanstelling van hoof- uitvoerende beampte van die korporasie

21.(1) Die raad, in oorleg met die LUR, moet ‘n geskikte persoon aanstel as die hoof- uitvoerende beampte van die korporasie vir ‘n termyn van vyf jaar.



(2) Die hoof- uitvoerende beampte is verkiesbaar vir heraanstelling vir een bykomende termyn van vyf jaar.



(3) Nieteenstaande die bepalings van subartikel (2),  en in die belang van die korporasie, kan die raad in oorleg met die LUR, die verkiesbaarheid van die hoof- uitvoerende beampte oorweeg vir ‘n verdere aanstelling na die tydperk vermeld in subartikel (1) en (2), tot sodanige verdere tydperk soos deur die raad bepaal in oorleg met die LUR.



(4) Die aanstelling van die hoof- uitvoerende beampte is onderhewig aan die sluiting van ‘n skriftelike prestasie-ooreenkoms wat aangegaan is tussen daardie persoon en die direksie.



(5) Die direksie en die hoof- uitvoerende beampte kan, skriftelik en volgens ooreenkoms, die prestasie-ooreenkoms wysig.



(6) Die raad kan, na oorleg met die LUR, die hoof- uitvoerende beampte se diens beëindig ooreenkomstig toepaslike emplojerings- en arbeidsreg.



(7) Die hoof- uitvoerende beampte moet die vergoeding en toelae betaal word soos deur die LUR bepaal in oorleg met die LUR verantwoordelik vir finansies.



(8) Die LUR moet ook die diensvoorwaardes en voordele van toepassing op die hoof- uitvoerende beampte bepaal.



(9) Die hoof- uitvoerende beampte is ‘n ex officio-lid van die direksie sonder stembevoegdhede.



(10) Artikels 12 en 13 is van toepassing op die hoof- uitvoerende beampte met die nodige veranderings, buiten dat hy of sy sy of haar belange of enige botsing van belang aan die direksie moet bekend maak.





Skorsing en verwydering uit amp van hoof- uitvoerende beampte

22.(1) Die hoof- uitvoerende beampte ontruim sy of haar amp – 

in die geval van bedanking, wanneer die bedanking van krag word;

wanneer, ingevolge die Maatskappywet, die persoon wat daardie amp beklee, onbevoeg raak om as die direkteur van die korporasie te dien;

wanneer hy of sy uit die amp verwyder word ingevolge sub-artikel (2).



(2) Onderhewig aan subartikel (3) kan die raad, na oorleg met die LUR, die hoof- uitvoerende beampte uit sy of haar amp verwyder – 

as gevolg van wangedrag;

as gevolg van versuim om die pligte verbonde aan daardie amp uit te voer of om dit toegewyd en effektief uit te voer;

indien die bekleër van daardie amp, as gevolg van enige fisiese of geestessiekte of gestremdheid, onbevoeg geraak het om die funksies en pligte verbonde aan daardie amp uit te voer of effektief uit te voer.



(3) Die hoof- uitvoerende beampte mag nie uit sy of haar amp verwyder word nie, tensy die LUR tevrede is dat verwydering uit die amp in die omstandighede geregverdig is.



(4) Die LUR kan ‘n onpartydige persoon aanstel om die bewerings teen die hoof- uitvoerende beampte te ondersoek.    



(5) Die LUR kan nie oor die aangeleentheid beslis nie, tensy die LUR tevrede is dat die aangestelde onpartydige persoon –

voldoende geleentheid aan die hoof- uitvoerende beampte gebied het om op daardie beweringe te reageer of gronde aan te voer waarom hulle nie verwydering uit amp regverdig nie (na gelang van die geval), en om vertoë te rig en enige verduidelikings aan te voer wat nodig geag word; en

die ondersoekverslag na behore oorweeg het met betrekking tot die waarheid en akkuraatheid, of andersins, van daardie beweringe en/of met betrekking tot die vraag of dit voldoende is om verwydering uit amp te regverdig.



(6) Die raad, in oorleg met die LUR, kan die hoof- uitvoerende beampte uit sy of haar amp skors, hangende die uitslag van die ondersoek.





Waarnemende hoof- uitvoerende beampte

23.(1) Die raad, in oorleg met die LUR, kan enige werknemer van die korporasie wat nie onbevoeg is ingevolge die Maatskappywet nie, aanstel om ‘n direkteur van die korporasie te wees, om as hoof- uitvoerende beampte op te tree gedurende enige siekte of afwesigheid van die hoof- uitvoerende beampte, of terwyl daardie amp vakant is indien die bekleër van daardie amp geskors is.



(2) Enige persoon wat aangestel is om op te tree as hoof- uitvoerende beampte sal bevoeg wees om al die betrokke bevoegdhede, funksies en pligte uit te voer wat die hoof- uitvoerende beampte opgelê is ingevolge hierdie Wet, en isbe onderhewig aan al die verpligtinge van die hoof- uitvoerende beampte.



(3) Enige handeling wat uitgevoer of nagelaat word deur daardie persoon gedurende daardie tydperk van aanstelling sal geag word as uitgevoer of nagelaat deur die hoof- uitvoerende beampte.





Delegering deur hoof- uitvoerende beampte

24. Die hoof- uitvoerende beampte kan, met die raad se goedkeuring, enige van die bevoegdhede, funksies of pligte van daardie amp aan enige werknemer van die korporasie delegeer, met dien verstande dat daardie delegasie nie die hoof- uitvoerende beampte sal verhinder om daardie bevoegdheid uit te voer nie. 





Funksies van hoof- uitvoerende beampte

25.(1) Die hoof- uitvoerende beampte is verantwoordelik vir –

die dag tot dag bestuur van die korporasie, onderhewig aan die opdrag van die raad;

die opstel van ‘n besigheids- en finansiële plan en verslae ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet No.1 van 1999), vir goedkeuring deur die raad;

die aanstelling van personeel van die korporasie; 

die beheer en handhawing van dissipline oor personeel van die korporasie;

om te verseker dat volledige rekeningboeke gehou word en dat al die nodige rekords wat daarmee verband hou, gehou word; 

om te verseker dat die raad se jaarlikse begrotings, besigheidsplanne, jaarverslae en geouditeerde finansiële state voorberei en aan die departement voorgelê word ooreenkomstig die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet No.1 van 1999); en

die voorlegging vir goedkeuring deur die LUR van –

(i) ‘n besigheidsplan vir die korporasie wat meetbare doelwitte bevat; en

(ii) ‘n staat van die korporasie se geprojekteerde inkomste en uitgawes, met betrekking tot die volgende finansiële jaar.



(2) Die hoof- uitvoerende beampte is die rekenpligtige beampte van die korporasie, en is ‘n ex officio-direkteur van die raad, sonder stembevoegdhede.



Personeel van die korporasie

26.(1) Met die goedkeuring van die raad, kan die hoof- uitvoerende beampte personeel aanstel vir die korporasie om die werk te verrig wat nodig is vir, of wat voortspruit uit die verrigting van die korporasie se funksies ingevolge hierdie Wet.



(2) Die vergoeding, toelae en diensvoordele van die korporasiepersoneel sal van tyd tot tyd deur die raad bepaal word in oorleg met die LUR en die LUR verantwoordelik vir finansies.



(3) Geen personeellid mag, sonder vooraf skriftelike toestemming van die hoof- uitvoerende beampte, enige besoldigende werk buite sy of haar diens by die korporasie verrig nie.



(4) Die korporasie moet regverdige en billike dienspraktyke instel en volg.



(5) Artikels 12 en 13 is van toepassing op die personeel van die korporasie met nodige veranderings, buiten dat elke personeellid sy of haar belange of enige botsing van belange aan die hoof- uitvoerende beampte moet bekendmaak.



(6) ‘n Personeellid van die korporasie mag nie sy of haar posisie of voorregte, of vertroulike inligting bekom as ‘n personeellid van die korporasie, gebruik vir persoonlike gewin of om ‘n ander persoon onregverdig te bevoordeel nie.



(7) ‘n Personeellid van die korporasie wat versuim of weier om aan die bepalings van hierdie Wet te voldoen, is onderhewig aan dissiplinêre maatreëls ingevolge toepaslike emplojerings- en arbeidsreg, en die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet No. 1 van 1999).



(8) Die raad moet ‘n register hou van die verklaarde belange van personeellede en moet daardie register van tyd tot tyd opdateer.





HOOFSTUK 5

FINANSIES, AANSPREEKLIKHEID EN AANDELEBESIT



Befondsing

27.(1) Die befondsing van die korporasie bestaan uit –

geld daaraan bewillig deur die Wetgewer ingevolge die departementele begrotingspos; 

enige ander opbrengste gerealiseer deur projekte wat verband hou met die Dube TradePort en sy verwante projekte; en

enige ander wettigeother  bron soos goedgekeur deur die MEC.Wet op Openbare Finansiële Bestuur, soos gewysig.



(2) Die raad en die korporasie moet sy fondse benut om kostes te dek met betrekking tot die uitvoering van sy pligte en funksies en die uitvoering van sy bevoegdhede ingevolge hierdie Wet.



(3) Die hoof- uitvoerende beampte moet, met die meewerking van die raad, die LUR en die LUR verantwoordelik vir finansies –

‘n rekening oopmaak in die naam van die korporasie by ‘n instelling wat as ‘n bank geregistreer is ingevolge die Bankwet, 1990 (Wet No. 94 van 1990); en

Alle geld ontvang ingevolge subartikel (1) daarin deponeer.



(4) Die hoof- uitvoerende beampte moet verseker dat die raad geen finansiële verbintenis buite sy goedgekeurde begroting en opgelope reserwes sluit nie.





Finansiële jaareinde

28.(1) Die finansiële jaareinde van die korporasie tree in werking op 1 April van ‘n spesifieke jaar en eindig op 31 Maart van die volgende jaar.





Nakoming van Wet op Openbare Finansiële Bestuur

29.(1) Die korporasie sal ‘n provinsiale regeringsbesigheidsonderneming wees soos bedoel in artikel 1 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.



(2) Die raad, as rekenpligtige gesag vir die korporasie, moet onverwyld die Nasionale Tesourie skriftelik in kennis stel van die stigting van die raad en versoek dat dit in bylae 3 tot die Wet op Openbare Finansiële Bestuur gelys word.



(3) Die korporasie moet voldoen aan die bepalings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die Tesourieregulasies wat van tyd tot tyd daarkragtens uitgereik is.



(4) Tensy of totdat die aandelebesit wat deur die verantwoordelike lid van die Uitvoerende Raad gehou word uit hoofde van sy of haar amp namens die provinsiale regering in die korporasie ingevolge artikel 33 verminder, onttrek of oorgedra word soos bedoel in artikel 33(5) ooreenkomstig ‘n program wat in die memorandum en statute van die korporasie vervat is, wat beteken dat die korporasie nie langer onder die "eienaarskapbeheer" van die provinsiale regering is nie, soos omskryf in die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999 (Wet No. 1 van 1999), is die tersaaklike bepalings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999, van toepassing op ‘n "provinsiale regerings besigheidsonderneming" en ‘n "provinsiale openbare entiteit" soos omskryf in die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999, van toepassing op die korporasie.



(5) Die Korporasie mag nie geld leen of ‘n waarborg, kwytskelding of sekuriteit uitreik, of enige ander transaksie aangaan wat die korporasie verbind of kan verbind nie, tensy sodanige leen, waarborg, kwytskelding, sekuriteit of ander transaksie gemagtig is deur die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, soos gewysig.





Jaarverslae

30.(1) Die korporasie moet, nie later nie as 31 Julie van elke jaar, ‘n verslag aan die LUR voorlê aangaande die aktiwiteite van die korporasie vir die twaalfmaande tydperk wat op die voorafgaande 31 Maart eindig, welke verslag deur die LUR ter tafel gelê moet word in die Provinsiale Wetgewer nie later nie as 31 Augustus van elke jaar.



(2) Die jaarverslag moet –

(a) die stand van sake van die korporasie, sy besigheid, sy finansiële resultate, sy werksverrigting teen voorafbepaalde doelwitte en sy finansiële posisie soos teen die einde van die betrokke finansiële jaar regverdig voorhou;

	(b) die ouditeursverslag aangaande daardie state insluit;

die Jaarlikse Finansiële Staat bedoel in artikel 31 insluit; en

sodanige ander inligting as wat die LUR skriftelik mag vereis of voorskryf, insluit.





Oudits en jaarlikse finansiële state

31.(1) Die rekeningboeke en ander finansiële rekords van die korporasie moet jaarliks deur die Ouditeur-generaal of ‘n ouditeursfirma wat deur die Ouditeur-generaal goedgekeur is, geoudit word.



(2) Wanneer die jaarverslag bedoel in artikel 30 voorgelê word, moet die korporasie ook die geouditeerde Jaarlikse Finansiële Staat in subartikel (3) vir die tersaaklike finansiële jaar voorlê.



(3) Die jaarlikse finansiële staat moet voldoen aan enige toepaslike nasionale en provinsiale regsvereistes vir finansiële verslagdoening en rekeningkundige praktyke, insluitend die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.



(4) Die hoof- uitvoerende beampte moet binne vyf (5) maande na die einde van die finansiële jaar ‘n jaarverslag aan die LUR en dan aan die provinsiale tesourie voorlê vir goedkeuring aangaande sy aktiwiteite gedurende daardie finansiële jaar en geouditeerde finansiële state, vir ter tafellegging in die Wetgewer.





Maatskappywet

32. Die korporasie, sy personeel en sy direkteure moet ten alle tye in goedertrou handel, en voldoen aan die bepalings van die Maatskappywet.





Aandelekapitaal en -besit

33.(1) Die aandelekapitaal van die korporasie sal bestaan uit R1 000,00 (een duisend rand) verdeel in eenduisend gewone aandele van R1,00 (een rand) elk en die oorspronklike uitgereikte aandelekapitaal van die korporasie sal bestaan uit een honderd aandele.



(2) Die KwaZulu-Natal provinsiale regering is die alleen aandeelhouer van die korporasie.



(3) Die LUR voer die bevoegdhede en pligte van die KwaZulu-Natal provinsiale regering as aandeelhouer van die korporasie uit.



(4) Die korporasie mag nie ‘n groot bate of ‘n belang in enige ander entiteit of besigheidsonderneming verkry, oordra, sedeer, verkoop of op ander wyse daaroor beskik nie sonder die vooraf goedkeuring van die LUR, wat die terme en voorwaardes van daardie verkryging, oordrag, sessie, verkoop of beskikking kan bepaal.



(5) Die totale aantal en waarde van die aandele soos uitgereik en toegewys aan die korporasie moet, oorspronklik, deur die Uitvoerende Raad bepaal word.



(6) Die LUR kan van tyd tot tyd in oorleg met die Uitvoerende Raad, en ter bevordering van die oogmerke van hierdie Wet –

die aandelekapitaal van die korporasie verhoog indien hy dit wenslik en in 

belang van die korporasie ag;

(b) enige gedeelte van sodanige aandelebesit, hetsy alles of ‘n sekere soort, klas of kategorie van aandele in die korporasie aan enige een of meer Swart Ekonomiese Bemagtigingsmaatskappye verminder, onttrek of oordra. 





HOOFSTUK 6

ALGEMENE EN DIVERSE BEPALINGS





Algemene misdrywe en strawwe

34. Enige persoon wat enige bepaling van hierdie Wet oortree is skuldig aan ‘n misdryf en stel hom- of haarself bloot, by skuldigbevinding, aan ‘n boete, of gevangenisstraf vir ‘n tydperk wat nie vyf jaar oorskry nie of aan sodanige straf soos deur die Maatskappywet bepaal.





Regulasies

35.(1) Die LUR kan, in oorleg met die portfoliokomitee, en deur kennisgewing in die Koerant, regulasies uitvaardig aangaande aangeleenthede wat verband hou met –

uitnodiging om benoemings vir aanstellings op die raad;

terme en voorwaardes van aanstelling van lede van die raad, 

fooie en toelae betaalbaar aan die voorsitter, adjunkvoorsitter en lede van die raad;

terme en voorwaardes vir die gebruik van agente, kontrakteurs en konsultante deur die korporasie;

bevoegdhede, pligte en funksies van staatsdienswerkers wat aan die korporasie gesekondeer word;

betaling aan die korporasie van fooie en kostes wat direk of indirek voortspruit uit enige van die dienste wat voorsien word of erkennings wat deur die korporasie toegestaan word;

prosesse en metodes om die werksverrigting van die korporasie te evalueer;

enige aangeleentheid nodig vir of bykomstig tot die bevoegdhede, pligte of funksies van die korporasie;

samewerkingsooreenkomste met staatsdepartemente of openbare entiteite;

maatreëls om openbare toegang tot inligting aangaande die Dube TradePort inisiatiewe;

vergaderings en die wyse van bedryf van die raad;

enige ander aangeleentheid nodig vir of aanvullend tot die ontwikkeling, integrasie en implementering van die doelwitte van die Wet;

bevoegdhede, pligte en funksies van die direkteure van die raad van die korporasie, met dien verstande dat sodanige regulasies konsekwent moet wees met –

(i) die tersaaklike bepalings van die Maatskappywet, 1973 (Wet No. 61 van 1973); en

(ii) die memorandum en statute van die korporasie

enige ander aangeleentheid wat nodig is om die bepalings van hierdie 

Wet te implementeer.





Likwidasie

36. Die korporasie mag nie gelikwideer word nie buiten ingevolge ‘n Wet van die Provinsiale Wetgewer.





Kort titel en inwerkingtreding   

37.(1) Hierdie Wet heet die KwaZulu-Natal Wet op die Dube TradePort Corporation, 2008.



(2) Die Wet sal in werking tree wanneer dit deur die Premier geteken word en in die Koerant gepubliseer word.

