TEKS VIR PARLEMENT SE VIRTUELE TOER 

INLEIDING

Welkom by die Parlement van Suid-Afrika, die Parlement van en vir die 21ste eeu!

Dié Parlement gaan oor die mense! 

Ons visie is om ŉ doeltreffende Parlement vir die mense te bou wat ag slaan op die behoeftes van die mense, en voortgedryf word deur die ideaal van die verwesenliking van ŉ beter lewensgehalte vir al die mense van Suid-Afrika.

Deur middel van ons programme streef ons daarna om toe te sien dat randstandige gemeenskappe altyd ingesluit word.

Die rol en einddoel van die Parlement is om die mense te verteenwoordig en om regering deur die mense kragtens die Grondwet te verseker.

Dít word verkry deur die aanneem van wetgewing, toesighouding oor regeringsoptrede en die betrokkenheid van die publiek by parlementêre prosesse. 

Die Grondwet is die hoogste reg van die Republiek en lê die grondslae vir ŉ demokratiese en oop samelewing waarin regering op die wil van die mense gebaseer is, en elke burger gelyke beskerming deur die reg geniet. 

Dit stipuleer die waardes en meganismes vir die bestuur van ŉ mens-gesentreerde demokrasie.



Die Parlement bestaan uit 400 vrylik verkose verteenwoordigers van die mense wat die Nasionale Vergadering vorm.    

Die provinsies word in die Parlement verteenwoordig deur 10 afgevaardigdes per provinsie in die Nasionale Raad van Provinsies. 

Ons demokratiese Parlement het ŉ trotse geskiedenis van vroueverteenwoordiging.  

Vroue maak tans 43% van die parlementslede uit.

Sedert 2009 is ons nou derde op die wêreldranglys wat vroueverteenwoordiging betref.

Die teiken vir vroueverteenwoordiging in die Parlement is 50%.

Ons het ook ŉ baie vlytige Parlement!

Ons eerste demokratiese Parlement het in 1994, as een van sy eerste take, President Nelson Mandela as die staatshoof aangewys.

On 24 Mei 1994 het president Mandela die eerste staatsrede gelewer by ŉ gesamentlike sitting van die twee Huise van die eerste demokraties-verkose Parlement. 

Sedertdien het die Parlement die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika in 1996 aangeneem, asook meer as 1 000 nuwe wette!



Is jy gereed om die gange van dié dinamiese Parlement te verken? 

Kom ons gaan voort met ons toer van die Parlement van Suid-Afrika!



Dié virtuele toer fokus op drie kerngebiede in die Parlement, naamlik die Volksraad, die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies.

Neem jou tyd en Verken! …



Parlementstraat



Dít is Parlementstraat. Die Huise, naamlik die Nasionale Vergadering, die Nasionale Raad van Provinsies, asook Tuynhuis, is langs dié straat geleë waar regeringskantore asook die kantore van parlementêre politieke partye voorkom. Die President loop langs Parlementstraat na die Nasionale Vergadering om die jaarlikse staatsrede te lewer by die gesamentlike sitting van die twee huise van die Parlement. Gedurende die staatsrede, wat deurgaans as die “Parlementsopening” bekend staan, word beide kante van Parlementstraat deur die Siviele Erewag betree.



Slawelosie 



Die Slawelosie is ŉ perseel van herinnering en herdenking. Dit is in 1679 deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) gebou. Dit het as die setel vir die Adviesraad gedien voordat die Kaapse Parlement gebou is. Die Slawelosie is ook as regeringsgebou, Hooggeregshof, Poskantoor en, laastens, Kultuurhistoriese Museum gebruik.



Gedurende die staatsrede beweeg die President en die prosessie op die rooi tapyt vanaf die Slawelosie na die Nasionale Vergadering vir die gesamentlike sitting. 



Marksgebou



Die Marksgebou is oorkant die gebou van die Nasionale Raad van Provinsies aan Parlementstraat geleë. Dit is in 1904 gebou en huisves tans die opposisiepartye en hul personeel. Dit is voorheen - voor 1987 - deur die Huis van Afgevaardigdes in die driekamerparlement gebruik. Die driekamerparlement van 1985 het raadsale gehad vir blankes, kleurlinge en Indiërs, maar swartmense uitgesluit. 



Afrika-huis



Afrika-huis is strategies geleë in die kern van die parlementêre terrein oorkant die Nasionale Vergadering. Dit was voorheen die kantoor van die Britse Hoë Kommissaris en huisves tans die Gesamentlike Komitee oor Intelligensie en ander parlementêre kantore



Afrika-huis 2



Binne-in Afrika-huis is een van die oudste parlementêre kunsprodukte van plaaslike oorsprong: ŉ Kis wat gemaak is van die hout van ŉ 350 jaar-oue Mimosa-boom, wat gedurende ŉ sterk suidoostewind in 1892 omgewaai het. Die ampstaf van die Speaker van die Parlement is vir talle dekades hierin geberg.



Stalpein



Die oorspronklike hoofingang by Stalplein, vernoem na die stalle van die Goewerneur van die Kaap, het gegrens aan die kant van Tuynhuis by die Kompanjiestuine, waarvan die oorsprong ŉ werkswinkel was vir die VOC, ook bekend as die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, en later deur al die goewerneurs van die Kaap gebruik is. Die opeenvolgende geboue van die Parlement het nader beweeg namate nuwe gedeeltes aangebou is, tot in 1988 toe die nuwe vleuel wat die Nasionale Vergadering huisves, Tuynhuis bereik het. Gedurende parlementêre sessies gebruik die President Tuynhuis as die amptelike kantoor. Tuynhuis word onafhanklik van die Parlement bestuur.



Ingang tot die Parlement vanaf Roelandstraat 



Die Parlement het vir ŉ lang tyd verskillende dinge vir verskillende mense beteken. By die Roelandstraat-ingang van die Parlement, waar die figuur van generaal Louis Botha bo-op ŉ perd sit, word die vraag dikwels gevra: Wat van die nuwe helde van die nasie? Dié standbeeld behoort egter aan die Stad Kaapstad. Die Parlement se grense word afgebaken deur heinings langs Pleinstraat en die Kompanjiestuine aan die westelike kant. Die ingang by Roelandstraat bied ook toegang aan Lede en ondergrondse parkeergebiede aan LP’s en parlementêre personeel.



Die Vlam van Herinnering             

Gedurende die openingseremonie en ander staatsgebeure, brand ŉ vlam van herinnering by die Parlement ter ere van diegene wat in oorloë gesneuwel het waarby Suid-Afrika betrokke was. Die President van Suid-Afrika is die opperbevelhebber van die gewapende magte.


Die besoekersentrum 

Die besoekersentrum is in die ou poskantoor geleë, wat nou deel uitmaak van die parlementêre terrein. Die Parlement huisves besoekers van naby en ver en veral leerders is welkom. Meer as 25 000 besoekers toer deur die Parlement elke jaar. Daar word van besoekers verwag om amptelike identifikasie te toon voordat hulle by die Parlement toegelaat word. Dit is veral besig op die dag waarop die staatsrede (ook bekend as die jaarlikse Parlementsopening) gelewer word, of wanneer die Minister van Finansies die begrotingsrede lewer.



Poorthuis, openbare ingang tot die Parlement 

Poorthuis staan ook bekend as die “Gate House” en is die ingang tot die Ou Volksraadgebou. ŉ Mens moet deur die sekuriteitspunt beweeg voordat toegang tot die gebou verkry kan word. Net binne die ingang is die eerste 30 meter van die Keiskamma-tapisserie.



Wandelgang wat lei tot die Raadsaal van die Nasionale Vergadering



Nadat die trappe na die statige ingang tot die gebou van die Nasionale Vergadering geklim is, betree ŉ mens die marmerteëlvloer van die wandelgang van die Raadsaal van die Nasionale Vergadering. Dié wandelgang lei tot die Lede se ingang. Daar is twee stelle trappe aan albei kante van die ingang van die wandelgang wat lei tot die openbare galery, die mediagalery, diplomate se sitplekke en kantore. Gedurende die staatsrede en staatsbesoeke word ŉ rooi tapyt deur die wandelgang uitgerol tot by die Lede se ingang.



Nasionale Vergadering



In dié raadsaal vind die volle sittings en gesamentlike sittings van die Nasionale Vergadering plaas. Tans kom 400 Parlementslede hier byeen om wetgewing aan te neem en die optrede van die Parlement waar te neem. Die President sit aan die regterkant van die Speaker, in die sitplek met die wapen daarop. Die meerderheidsparty sit aan die regterkant van die Speaker en die opposisiepartye aan die linkerkant. In dié raadsaal het voormalige President F W de Klerk gedurende die apartheidsera die opheffing van die verbod op die ANC en ander politieke organisasies aangekondig. Nege dae later, op 11 Februarie 1990, is Nelson Mandela uit die tronk vrygelaat na meer as 27 jaar in aanhouding. Gedurende ŉ roerende seremonie in 1994 is mnr Mandela as die eerste demokraties-verkose President van Suid-Afrika verwelkom.



Die podium voor die Speaker se stoel word gedurende staatsbesoeke of deur die President of Ministers gebruik wanneer daar op vrae gereageer word. Gedurende debatte, of wanneer Lede hul verklarings doen, maak hulle gewoonlik van die podium gebruik, maar hulle mag ook vanaf hul sitplekke, wat almal met mikrofone toegerus is, kennis gee van ŉ mosie, of vrae of punte van orde opper. Daar is elektroniese stem-meganismes by elke sitplek om vertroulike stemmery te verseker, maar elke party is in staat om te sien hoeveel van hul Lede vir of teen die wetgewing gestem het.



Speaker se stoel



Die Speaker se stoel is op die verhewe platform aan die agterkant van die Raadsaal van die Nasionale Vergadering geleë. Hiervandaan lei die Speaker die verrigtinge van die Huis.



Die eerste Speaker van die demokratiese Parlement, dr Frene Ginwala, het gereël dat die leiers van die kleiner partye in die voorste banke moet sit, sodat alle kiesers hul verkose partye kon sien. Wanneer daar ŉ gesamentlike sitting van die Huise is, byvoorbeeld wanneer die staatsrede gelewer word, word ekstra sitplekke op die vloer tussen die twee gedeeltes bygevoeg om Lede van die Nasionale Raad van Provinsies tegemoet te kom.



Ou Voksraadsaal



Die Ou Volksraadsaal is deur die Parlement gebruik sedert die totstandkoming van die Unie in 1910, totdat die eerste demokratiese regering in 1994 verkies is. In 1994 is die destydse Parlement in dié raadsaal ontbind: ŉ Simboliese gebaar wat die einde van apartheid en sy wette aangekondig het. In 1961 het Suid-Afrika die Statebond verlaat en ŉ Republiek geword. Vier maande nadat Suid-Afrika die Statebond verlaat en ŉ Republiek geword het, het Dimitri Tsafendas die Eerste Minister, dr Hendrik Verwoerd, met ‘n mes doodgesteek waar hy gesit het.



Dié raadsaal word tans vir openbare verhore, die aanneem van wette en die toesighoudingsfunksie van die Parlement gebruik. Dit word ook as ŉ vergaderplek vir seminare, groepe en komitees, ANC-koukusvergaderings en openbare verhore gebruik.



Eetkamer van die Ou Volksraad



Die eetkamer van die ou Volksraad het deel uitgemaak van die oorspronklike struktuur wat in 1885 gebou is, en het as die Raadsaal van die Wetgewende Vergadering van die Kaap gedien. Ná die stigting van die Unie in 1910, is die vergadersaal bygevoeg. Die Raadsaal van die Kaapse regering het ŉ eetkamer vir Lede en gaste geword. Die Britse Eerste Minister Harold MacMillan het in 1960 sy “winde van verandering”-toespraak hier gelewer, wat die onafhanklikheid van die Britse kolonies in Afrika voorafgegaan het.



Wandelgang van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP)



 Die Nasionale Raad van Provinsies se wandelgang het as “Queen’s Hall” bekend gestaan en is na koningin Victoria vernoem. Dié naam is tot 1961 gebruik. In 1961, toe Suid-Afrika ŉ Republiek geword het, is die naam na die Galerysaal verander.



Die wandelgang se vloer is ŉ tipiese keramiekpatroon wat veral in die Victoriaanse era gewild was.



Die Raadsaal van die NRP



Dít is die Raadsaal van die NRP, een van die betekenisvolste skeppings in Suid-Afrikaanse grondwetlike geskiedenis, wat burgers van alle provinsies verteenwoordiging in die Parlement bied. Hier word debat gevoer oor wetgewing wat provinsies raak en dit word in dié raadsaal afgehandel. Die NRP bestaan uit 10 lede van elke provinsie – ses permanente en vier spesiale afgevaardigdes.



In dié raadsaal sit Lede ooreenkomstig hul provinsie en stem as deel van die provinsie. Kiesers het ŉ aparte stem om lede van die nege provinsiale wetgewers te verkies, en dit vind elke vyf jaar plaas, op dieselfde dag as die nasionale verkiesings. Elke provinsie het sy wapen wat in die Raadsaal van die Nasionale Raad van Provinsies uitgestel word. 



President se tafel in NRP waarop sy wapen verskyn



Wanneer die President genooi word om ŉ volle sitting in die Nasionale Raad van Provinsies by te woon, sit hy of sy in die voorste ry aan die regterkant van die voorsitter, op die sitplek waarop die presidensiële wapen uitgekerf is. 



Galery van die NRP



 Die galery-gedeelte van die NRP word deur BBP’s en die publiek gebruik wanneer hulle die Parlement besoek.



Landswapen



Suid-Afrika se landswapen is die vernaamste visuele simbool van die staat. Die visuele kern van die embleem is die reusagtige protea, die nasionale blom, wat die harmonie van alle kulture verteenwoordig, en die opbloei van die land as ŉ nasie voorstel. Bokant die protea is ŉ sekretarisvoël met sy vlerke omhoog en ŉ opkomende son. Die koringare dui die vrugbaarheid van die grond van die land aan, terwyl die tande van die Afrika-olifant wysheid, krag en standvastigheid simboliseer.



Landswapen 2

In die middel staan ŉ skild wat dui op die beskerming van Suid-Afrikaners. Dit is geleë onder ŉ spies en knopkierie. Saam verkondig hierdie ensemble die verdediging van vrede eerder as ŉ staat van oorlog. Binne-in die skild is ŉ uitbeelding van die Khoisan-mense wat vroeë inwoners van die land was. Hierdie figure is oorgeneem van beelde op die Linton-steen, ŉ wêreldberoemde voorbeeld van Suid-Afrikaanse rotskuns. Die leuse op die landswapen beteken “uiteenlopende mense, verenig” of “mense wat verskillend is, kom saam” in die Khoisan taal van die /Xam mense: !ke e:/xarra//ke. 



Koningin-ingang by die NRP-gebou



Die koningin-ingang is in die oorspronklike gebou van die Kaapse Parlement geleë wat in 1885 gebou is. Dit bied toegang tot die Raadsaal, digby die ingang van die Kompanjiestuine. Die Kompanjiestuine se naam is afgelei van dié van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, wat in 1652 vir Jan en Maria van Riebeeck na die Kaap gestuur het. Nuwe gedeeltes is by die parlementêre kompleks gevoeg nadat die twee Britse kolonies (die Kaap en Natal) en die twee voormalige Boererepublieke (Transvaal en die Oranje-Vrystaat) die Unie van Suid-Afrika in 1910 gevorm het.



Biblioteek (duskant wandelgang van NRP-gebou)



Die biblioteek is geleë duskant die wandelgang van die NRP-gebou. In 1857 is ŉ kernbiblioteek gevestig met boekversamelings wat van die ou Kaapse Wetgewende Vergadering en die Wetgewende Raad afkomstig was. In 1910, met die stigting van die Unie, het dié versamelings die Biblioteek van die Parlement geword. In 1919 is skaars boeke, foto’s, kaarte en skilderye bygevoeg en dít het uiteindelik die Spesiale Versamelings geword. 



Vir meer as 150 jaar is indrukwekkende byvoegings tot dié kernbiblioteek gemaak, met inbegrip van die versameling van Sidney Mendelssohn. In 1917 het hy sy Africana-versameling, bestaande uit 7 000 items, aan die Parlement geskenk. Daar is sowat 200 000 titels in die biblioteek, met inbegrip van vroeë rekords van Suid-Afrika en Afrika.  





Kunswerke van die Parlement

 

Tussen die kunswerke wat teen die mure van die museum uitgestal word, is die werke van die sketskunstenaar, Francois Le Valliant. Hy was ŉ Franse reisiger wat gedurende 1781 en 1784 uitgebreide reise deur die oostelike en noordelike Kaap onderneem het. Die waterverftekeninge is ŉ rekord van dié reise.



Die kunswerke, kunsprodukte en erfenisversamelings in die Parlement word deur die Parlement se kunswerkekantoor bewaar, geboekstaaf en in stand gehou; en is toeganklik vir die publiek. Dié versamelings is histories belangrik en waardevol, maar dit verteenwoordig nie al die mense en die kuns van dié land nie. Die Parlement streef daarna om verteenwoordigend te wees in die weerspieëling van kuns wat alle Suid-Afrikaners verteenwoordig. Nuwe en verskillende soorte werke word vir uitstallings gesoek ten einde die kuns van die Parlement deel van die reis, eerder as die bestemming, te maak. 



Keiskamma-tapisserie 



Die Keiskamma-tapisserie verteenwoordig ŉ versameling van kunstenaars, eerder as ŉ individuele kunstenaar. Die oënskynlike magiese verandering in Suid-Afrika word deur die Keiskamma-tapisserie in die gange van die Ou Volksraadgebou vasgevang. Dié tapisserie beeld die stryd van die geskiedenis van Suid-Afrika uit en is deur vroue van die Oos-Kaap gemaak. Die tapisserie sluit ook in beelde van verkiesingsinligtingsbrosjures in wat gedurende die eerste demokratiese verkiesing aan Suid-Afrikaanse kiesers uitgedeel is. 









Vertoonkas in onderste ingang, by GOUE KAART ingang 2  



Die goue ampstaf wat in 1963 deur die Transvaalse en Vrystaatse Kamers van Mynwese aan die Parlement geskenk is, is deur die Ampstaf van die mense vervang. Heel bo-op die Ampstaf van die mense is die oop boek (verteenwoordigend van die Grondwet), met die drom wat verteenwoordigers van die nasie na ŉ indaba roep. 



Boonste vertoonkas 

Verskeie voorwerpe en kaste word in die gang, wat grens aan die gebou van die Nasionale Raad van Provinsies, uitgestal. Die ondertekende Wet wat tot die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910 gelei het, word uitgestal, met die koninklike seël, asook die Wet van 1961 wat die Republiek van Suid-Afrika tot stand gebring het.



Boonste vertoonkaste 

Die stoel is deur die Speakers van die Kaapse Parlement gebruik en later deur die Vergadering.

Die ou ampstaf in die vertoonkas toon ooreenkomste met die een wat in die Laerhuis (House of Commons) in Engeland gebruik is. Dít is voorheen op ŉ stut op die tafel van die Vergadering geplaas. 



 Boonste vertoonkaste 

Hier is heelwat vertoonkaste wat die volgende bevat:











Die Stem



Die nasionale volkslied wat deur C J Langenhoven vir die Unie van Suid- Afrika geskryf is, “Die Stem”, word hier uitgestal, langs die ererol van diegene wat gedurende die twee wêreldoorloë gesneuwel het, met die name van swart soldate wat in die Boeke van Herinnering opgeteken is. 



Kaste met pruike



Die dra van pruike deur voorsittende beamptes en senior amptenare by die tafels van die Vergadering en die Senaat is in Januarie 1987 ná ŉ gesamentlike vergadering van die Komitees oor Staande Reëls en Orders gestaak, hoewel die laaste pruik na bewering in 1994 gedra is.

 

MEER VERTOONKASTE

Klein rotsgedeeltes wat van die maan afkomstig is, en deur president Richard Nixon aan Suid-Afrika oorhandig is, word ook uitgestal. 











