DIE STAATSREDE
(SoNA)
“Celebrating the legacy of freedom through strengthening the link between Parliament and the People”
Die maand Februarie is ‘n belangrike  maand vir die Parlement en alle Suid-Afrikaners. Dit is ‘n tyd vir nabetragting, vooruitbeplanning en om die behoeftes van ons land voorop te stel.  Elke jaar in Februariemaand word die Staatsrede gelewer wanneer die President as staatshoof die nasie toespreek.   
Wat is die Staatsrede?
Die Staatsrede, wat gedurende die jaarlikse opening van die Parlement gelewer word, is ‘n toespraak gerig tot die nasie deur die President van die Republiek van Suid-Afrika. Die toespraak word gelewer by ‘n Gesamentlike Sitting van die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad van Provinsies (NRvP) van die Parlement.  Dit werp lig op die huidige politieke en sosio-ekonomiese toestand van die nasie. Die sitting word deur die President byeengeroep en die Speaker van die NV en die Voorsitter van die NRvP tree as voorsitter op. Dit is een van die seldsame geleenthede waartydens die drie vertakkings van die staat, naamlik die Uitvoerende Gesag, verteenwoordig deur die President, Vise-president en Ministers; die Regbank, verteenwoordig deur die land se Hoofregter en die Regterpresidente; en die Wetgewende Gesag, verteenwoordig deur die Lede van die Parlement (LP’s) saam op een plek vergader. Lede van die publiek word ook by die Staatsrede verteenwoordig om deel te neem aan die geleentheid wat ‘n belangrike rol speel om vorm aan ons nasie te gee.
Waarom is die Staatsrede belangrik? 
In die toespraak werp die President die lig op die prestasies en uitdagings van die afgelope jaar en sit die komende jaar in hooftrekke uiteen. Die toespraak dek politieke, ekonomiese en maatskaplike aangeleenthede en besin oor die algemene toestand in Suid-Afrika. Dit pleeg oorleg oor Suid-Afrika se huishoudelike sake sowel as sy betrekkings in Afrika en oorsee. Die Staatsrede is ‘n belangrike manier om verantwoording aan die Parlement en die Suid-Afrikaanse publiek te doen oor wat die afgelope jaar plaasgevind het en om die publiek betrokke te kry by die politieke agenda van die komende jaar. Die Staatsrede is ook ‘n viëring van ons nasie en nasiebou. 
Wanneer vind dit plaas?
Die Staatsrede word gewoonlik in Februarie gelewer. Wanneer daar egter algemene verkiesings is, word twee toesprake gelewer, een om die laaste sitting van die uitgaande Parlement aan te dui en die ander na die verkiesings, wanneer die nuwe President en Parlement bekend gemaak word. In Februarie 2010 is afgewyk van die tradisie toe die Staatsrede vir die eerste keer in die aand aangebied is om meer Suid-Afrikaners die geleentheid te gun om die verrigtings dop te hou en na die President se toespraak te luister.  As ‘n gevolg van dié verandering het televisiekykergetalle met ongeveer twee miljoen kykers tot byna vier miljoen kykers toegeneem. 
Openbare deelname aan die Staatsrede
Openbare deelname is ‘n integrale deel van die seremonie. Lede van die publiek word uitgenooi om deel te neem aan die seremonie as genooide gaste van die Parlement. Suid-Afrikaanse burgers regoor Suid-Afrika en van elke provinsie maak deel uit van die Junior- en Burgerlike Erewag. Die Burgerlike Erewag, wat die President by die Parlement verwelkom, bestaan uit gewone Suid-Afrikaners. Die Junior Erewag word saamgestel uit skole regoor die land en verteenwoordig die jeug, aan wie Suid-Afrika die land se toekoms toevertrou. 
Belangrike Suid-Afrikaners word gewoonlik uitgenooi om deel uit te maak van die bedrywighede.  Hulle word gekies uit die provinsies en is individue wat ‘n uitstaande bydrae tot die land gelewer het.
Die Staatsrede en die toesiggewende funksie van die Parlement
Die Staatsrede maak ‘n integrale deel uit van toesighouding en verantwoordbaarheid. ‘n Ware toets vir demokrasie is die mate waarin die Parlement kan verseker dat die regering verantwoordbaar bly jeens die mense. Toesighouding is ‘n funksie toegestaan deur die Grondwet aan die Parlement om die optrede van die regering te moniteer en daaroor toesig te hou.  Die Parlement het volmag om toesig te hou oor alle organe van die Staat met inbegrip van dié op provinsiale en plaaslike vlak ten einde:
Die regering aanspreeklik te hou vir belastingbetalers se geld
Regeringswerksaamhede meer deursigtig te maak en
Openbare vertroue in die regering te verhoog.
Wanneer die Parlement toesighouding uitvoer, spits hy hom toe op:
Hoe wette in werking gestel word
Hoe begrotings aangewend is en
Of regeringsdepartemente doeltreffend bestuur word.
Die toesighoudende funksie behels die doeltreffende bestuur van regeringsdepartemente ten einde dienslewering te verbeter en om ‘n beter lewenskwaliteit vir alle burgers daar te stel. 
In die Staatsrede hou die President sy vinger op die pols van die nasie en sit beleidsdoelwitte en ondernemings uiteen vir die jaar wat voorlê. Dit is gemeet aan dié doelwitte en beplande ondernemings dat die Minister van Finansies die Begroting vir die komende jaar indien, gewoonlik teen die einde van Februarie. Die beleidsdoelwitte en vernaamste ondernemings vorm die grondslag vir wat die regering in die komende jaar moet doen. Dit is die norm waarvolgens die Parlement die regering verantwoordbaar hou jeens die mense, vir dit wat gelewer word, en waarvolgens geld wat toegewys is, gespandeer word.
Wat gebeur na die Staatsrede?
Nadat die Staatsrede gelewer is, word dit deur die twee Huise van die Parlement gedebatteer. Politieke partye het ‘n geleentheid om hul menings te lug en vrae te vra oor sake wat in die toespraak aangeraak is. Sake wat kommer wek, word geopper en terreine van kritieke belang vir die nasie word uitgelig. Die publiek word genooi om dié debat by te woon en aan te hoor soos die geval is met alle sittings in die Parlement. Op sy beurt antwoord die President op die punte geopper en vrae wat voortspruit uit die debat.
Wat is die Parlement se tema vir hierdie jaar?
Die Parlement se tema vir 2011 is “Celebrating the legacy of freedom through strengthening the link between Parliament and the People”. Elke jaar bepaal die Parlement n tema wat deur die Parlement se strategiese fokus ingegee is. ’n Ware demokratiese staat streef daarna om sy gesag van die mense te verkry, deur middel van gereelde verkiesings en voortdurende openbare deelname aan die proses van bestuur. Die tema moedig die verwesenliking van ‘n deelnemende, verteenwoordigende en konstitusionele demokrasie aan, waar burgers betrokke is by sake betreffende wetgewing en toesighouding. Dit versterk die Parlement se rol om die mense te verteenwoordig en verseker regering deur die mense volgens die Grondwet.  Die werksaamhede  van die Parlement en van sy Lede moet daarop toegespits wees om die bande tussen die mense en hul verkose verteenwoordigers te versterk. Die welslae van die Parlement hang af van die daadwerklike deelname van alle Suid-Afrikaanse burgers om leiding te verskaf aan die werksaamhede van hul verkose Lede van die Parlement (LP’s) en aan die inrigting.
Hoe kan die publiek aan die Parlement deelneem?
Betrokkenheid by die seremoniële prosedures van die Staatsrede is een manier waarop die publiek betrokke kan raak by hul Parlement. Daar is ander maniere van deelname aan die Parlement en dit sluit in om tydens verkiesings te stem, by ‘n politieke party aan te sluit, stemme te werf en by ‘n vrywillige of nie-regeringsorganisasie aan te sluit, LP’s te kontak, voorleggings of voorstelle te maak en om versoekskrifte aan die Parlement te stuur.
Die Parlement is daartoe verbind om homself toeganklik vir die Suid-Afrikaanse publiek te maak deur geleenthede te skep vir die betekenisvolle betrokkenheid en deelname van almal: mans en vroue, geletterd of ongeletterd, werksaam of werkloos, liggaamlik geskik of mense met gestremdhede, die armes (veral die landelike armes), en ander teikengroepe: om saam te kom en hul menings te lug oor sake rakende hul basiese behoeftes. Spesifieke programme soos die Volksvergadering, Neem die Parlement na die Mense,  die Vroueparlement en die Jeugparlement is almal platforms wat daarop gemik is om met die publiek te skakel om hul standpunte te hoor oor wat vir hulle die meeste saak maak.  Die Parlement wil openbare betrokkenheid en deelname uitbrei in ooreenstemming met dié jaar se tema “Celebrating the legacy of freedom through strengthening the link between Parliament and the People”.
Sal jy daarvan hou om die Parlement te besoek?
Die Openbare Onderwyskantoor van die Parlement bied gratis toere van die Parlement aan  en ‘n geleentheid vir die publiek om vanuit die galery na debatte van die Nasionale Vergadering en Nasionale Raad van Provinsies te luister. Reëlings kan ook vir die publiek getref word om Lede van die Parlement te spreek en om Openbare Verhore of Komiteevergaderings by te woon. Indien dit vir jou onmoontlik is om na die Parlement toe te kom, kan jy ons webwerf  www.parliament.gov.za besoek en ‘n virtuele toer van ons Parlement vanuit enige deel van die wêreld onderneem.
Vir meer besonderhede kontak:
Kontakpersoon:	Nhlanhla Mrwerwe
Telefoon:		(021) 403 2266
Faks:			(021) 403 3817 / 403 3303
E-pos:		nmrwerwe@parliament.gov.za 
KITSFEITE 
Die Staatsrede (SONA) sal weer in die aand plaasvind, op 10 Februarie 2011.
Die Staatsrede word in drie fases opgedeel. Die eerste is openbare deelname as die Burgerlike Erewag die President en sy gaste verwelkom wanneer hulle op die rooi tapyt loop. Dit word gevolg deur ‘n staatseremonie wat ‘n 21-geweersaluut en ‘n verbyvlug deur die Lugmag insluit en ten slotte die langverwagte toespraak deur die President.
Lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) beman die roete wat die President na die Parlement neem..
Die Militêre Erewag neem ook aan die seremonie deel en die militêre orkes speel die Suid-Afrikaanse volkslied.
Die 21-geweersaluut word afgevuur ter ere van die Hoof van die Staat, die nasionale vlag, die Hoof van ‘n buitelandse Staat, ‘n lid van ‘n heersende koninklike familie en ‘n voormalige  Staatshoof.
VISIE
To build an effective people’s Parliament that is responsive to the needs of the people and that is driven by the ideal of realizing a better quality of life for all the people of South Africa.
