STAATSREDE DEUR SY EKSELLENSIE J G ZUMA, PRESIDENT VAN DIE REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA, GESAMENTLIKE SITTING VAN DIE PARLEMENT,  KAAPSTAD

Agb Speaker; Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies; Adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering en Adjunkvoorsitter van die NRP; Adjunkpresident van die Republiek, agb Kgalema Motlanthe; Hoofregter van die Republiek van Suid-Afrika en hooggeagte lede van die regbank; Isithwalandwe President Nelson Rolihlahla Mandela; voormalige President FW de Klerk; ons vader, voormalige President Kenneth Kaunda van Zambië; voormalige Adjunkpresidente; hooggeplaaste premiers en Speakers van ons provinsies; voorsitter van Salga en leiers in ons stelsel van plaaslike regering; voorsitter van die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers; hoofde van hoofstuk 9-instellings; President van die Reserwebank; spesiale internasionale gaste, voorsitter van die Kommissie van die Afrika-unie, mnr Jean Ping, in die besonder; voormalige politieke gevangenes en veterane; lede van die diplomatieke korps; Suid-Afrikaanse en buitelandse media; mede-Suid-Afrikaners, dumelang, molweni, goeienaand, good evening, sanibonani nonke emakhaya! [Goeienaand aan almal wat tuis is!]



Siyavuya ukuba nani ngobubusuku bubaluleke kangaka. [Dit is vir ons baie aangenaam dat u almal op so 'n belangrike aand hier teenwoordig kan wees.]



Vanaand staan ek hier voor u, 20 jaar sedert president Nelson Rolihlahla Mandela uit die tronk vrygelaat is.



Ons het dié dag gekies vir die Gesamentlike Sitting van die Parlement om die staatsrede te lewer ter herdenking van ’n keerpunt vir verandering in ons land. Die vrylating van Madiba is teweeggebring deur die stryd wat die mense van Suid-Afrika op onverskrokke wyse gevoer het. 



Eertydse politieke gevangenes en veterane getuig hiervan omdat hulle deel van daardie proses was. U sal natuurlik onthou dat die massas van hierdie land in hul verskeie organisasies met vasberadenheid gereageer het op die kreet om die land onbeheerbaar en apartheid onwerkbaar te maak.



Die herdenking van hierdie dag vier ons saam met voormalige politieke gevangenes wat ons spesiaal uitgenooi het om by ons aan te sluit. Ons verwelkom veral diegene wat vanuit die buiteland gereis het om hier te wees, Helen Pastoors, Michael Dingake van Botswana, mnr Andimba Toivo ya Toivo van SWAPO in Namibië.



Ons skep behae daarin dat lede van die regspan in die Rivonia-hoogverraadverhoor – lord Joel Joffe wat nou in London gevestig is en regter Arthur Chaskalson – hier teenwoordig is. Ter nagedagtenis aan mnr Harry Schwarz, wie se heengaan verlede week ons bedroef stem, wil ons graag hulde aan hom bring. Hy was, onder andere, ’n lid van die verdedigingspan by die Rivonia-verhoor.



Ons wil graag dankbaarheid uitspreek teenoor ons vriende en kamerade in die internasionale gemeenskap wat die stryd saam met ons gevoer het om ons vryheid te bewerkstellig.



Ons wil die Mandela-familie in die besonder welkom heet Hulle simboliseer die opofferings van baie van diegene wat die spit moes afbyt tydens apartheid. 



Ons groet die leierskap van die regerende party en sy alliansievennote vir wie dit ’n baie besondere geleentheid is.



Op hierdie besondere dag moet ons erkenning gee aan die bydrae van diegene wat deel was van die Nasionale Party se leierskap en uiteindelik tot die besef gekom het dat apartheid nie ’n toekoms het nie. Vergun my die geleentheid om die rol wat voormalige president PW Botha gespeel het, te noem. Hy was die persoon wat die bespreking oor die moontlike vrylating van politieke gevangenes aan die gang gesit het. President Botha het saam met die voormalige Minister van Justisie, mnr Kobie Coetzee, gewerk wat op sy beurt deur dr Neil Barnard en mnr Mike Louw bygestaan is. Saam het hulle ’n merkwaardige rol gespeel in die proses wat tot die vrylating van Madiba gelei het.



Suid-Afrika moet nog volle erkenning gee aan die kritieke rol van die voormalige ANC-president kameraad Oliver Tambo, wat die grondslag gelê het vir hierdie land om ’n ligtende voorbeeld van vryheid en demokrasie te word. Dit was sy voortreflike leierskap, oorleg en helder visie wat daartoe gelei het dat die ANC sy strewe na ’n ooreengekome skikking versterk het. Sy wysheid word ook getoon in die Harare-verklaring wat hy geskryf en voorgestaan het. 



Dit lê ten grondslag aan die historiese aankondiging deur president FW de Klerk 20 jaar gelede. Met dié aankondiging het president De Klerk buitengewone dapperheid en deurslaggewende leierskap getoon.



Op hierdie besondere dag wil ek ook erkenning gee aan die rol wat wyle me Helen Suzman gespeel het. Sy was baie jare lank in die Parlement 'n eensame stem wat verandering bepleit het.



Ons gee ook erkenning aan die rol van die leier van die Inkatha Vryheidsparty, inkosi Mangosuthu Buthelezi wat die vrylating van Madiba sowel as ander politieke gevangenes en die terugkeer van uitgewekenes voorgestaan het.



Ons beklemtoon ons innige dankbaarheid aan die internasionale gemeenskap vir hul onwrikbare steun aan ons stryd.



Dié oomblikke in ons geskiedenis lewer bewys van ons vermoë om saam te staan, selfs in die moeilikste omstandighede, en die land se belange bo alle ander belange te stel.



Deur saam te werk, kan ons meer bereik.



In die loop van dié jaar gaan ons die honderdjarige bestaan vier van die Unie van Suid-Afrika, wat in 1910 gestig is. Daarmee is 'n unitêre staat tot stand gebring. Dit is van groot belang dat die uitsluiting van swartmense uit dié Unie een van die vernaamste redes was vir die stigting van die African National Congress in 1912. Wanneer ons later vanjaar die honderdjarige bestaan vier, moet ons besin oor hoe ver ons land reeds gevorder het.



Ons herinner ons die woorde van Madiba tydens sy vrylating, toe hy gesê het:



I stand before you, not as a prophet but as a humble servant of you, the people. Your tireless and heroic sacrifices have made it possible for me to be here today. I therefore place the remaining years of my life in your hands.



Dié woorde besiel ons sodanig dat ons nie sal rus tot ons die ideale van 'n samelewing ontdaan van armoede en ontbering tot stand gebring het nie.



In die twee dekades sedert die vrylating van Madiba het ons land wesenlik verander. President Mandela het dié land verenig in die strewe na 'n nie-seksistiese, nie-rassige, demokratiese en welvarende Suid-Afrika.



Terwyl ons vandag Madiba se vrylating gedenk, moet ons ons opnuut daartoe verbind om 'n beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners, swart en wit, te bewerkstellig. Laat ons die ideaal nastreef waarvoor Madiba sy lewe lank gestry het – die ideaal van 'n demokratiese en vry samelewing, waarin alle mense in harmonie saamleef en gelyke geleenthede geniet.



Ons het 'n Gesamentlike Sitting vir die aand belê sodat die meerderheid van die mense in ons land, die werkers en skoolkinders, deel van dié geleentheid kan wees. Ons is beïndruk deur die jeug se geesdrif oor die geleentheid. Twee honderd en ses sestig kinders van alle provinsies het aan die debat vóór die staatsrede oor die rol van die jeug in die stryd teen armoede deelgeneem. Ons wil die algehele wenner, Charlotte le Fleur van die Sekondêre Skool Worcester, en al die ander deelnemers vir hul harde werk prys.



Ons vergader teen die agtergrond van 'n wêreldwye ekonomiese krisis. Verlede jaar het ons ons eerste insinking in 17 jaar beleef. Die krisis het ons ekonomie ongeveer 900 000 werkgeleenthede gekos. Baie van dié wat hul werk verloor het, was die broodwinners in arm huisgesinne.



In Februarie verlede jaar het die regering, die sakesektor, arbeidsektor en gemeenskapsverteenwoordigers ooreengekom oor 'n pakket maatreëls om die omvang en uitwerking van die krisis te verminder. Ons het reeds talle van dié maatreëls in werking gestel. Ons het doelgerigte besteding gemik teen die ekonomiese insinking, veral besteding aan die infrastruktuur, bewerkstellig.



Ten einde 'n veiligheidsbuffer vir die armes te verseker het ons die verhoging van maatskaplike toelaes vroeër van toepassing gemaak, en die kinderhulptoelae uitgebrei tot kinders bo die ouderdom van 14 jaar. Oor die volgende drie jaar sal 'n verdere twee miljoen kinders tussen die ouderdom van 15 en 18 jaar uit arm huishoudings deur die kinderhulptoelae bevoordeel word.



Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie het R6 miljard opsygesit om maatskappye in nood te help. Die regering het 'n stelsel van tydelike ontslag in werking gestel om aan werkers die keuse van 'n tydperk van opleiding te bied, pleks van uitdiensstelling.



Dié maatreëls is deur ons openbare werke-program versterk.



Die nasie sal onthou dat ek gedurende die staatsrede in 2009 aangekondig het dat die Uitgebreide Openbare Werke-program 500 000 werkgeleenthede teen Desember 2009 sou skep. Ek wil herhaal dat dít nie werkgeleenthede in die hoofstroom van die ekonomie was nie. Dít is werkgeleenthede wat geskep is om aan werklose mense 'n inkomste, werkondervinding en geleenthede vir opleiding te bied.



Dit is vir ons aangenaam om te kan aankondig dat ons teen die einde van Desember meer as 480 000 werkgeleenthede in openbare werke geskep het, wat 97% is van die teiken wat ons gestel het. Die werk is op terreine soos konstruksie, tuis- en gemeenskapsgebaseerde sorg en omgewingsprojekte. Ons het sekere terreine geïdentifiseer waar daar verbetering kan wees, wat ons mettertyd sal teweegbring, insluitend om meer arbeidsintensiewe projekte te verseker. Ons weet dat hierdie en ander maatreëls nie die uitwerking van die insinking ten volle kan teenwerk nie. Ons is dankbaar vir die gees van familie, gemeenskap en vrywillige werk wat talle mense besiel om diegene wat die ergste deur die krisis geraak word, deur dié moeilike tyd te help.



Ekonomiese aanwysers dui daarop dat die ergste nou verby is. Ekonomiese aktiwiteite is aan 't toeneem in Suid-Afrika, en ons verwag dat daar mettertyd groei sal wees. Die arbeidstatistieke wat Dinsdag bekend gemaak is, toon dat die ekonomie nou werkgeleenthede skep eerder as werkgeleenthede verloor. Dit is egter te vroeg om gerus te raak oor die tempo waarteen herstel plaasvind. Die regering sal derhalwe nie sy ondersteuningsmaatreëls onttrek nie. Die tyd het nou aangebreek om die grondslag te lê vir sterker groei in die toekoms, en vir groei wat meer werkgeleenthede skep.



Ons infrastruktuurprogram vir die lang termyn sal ons help om vinniger groei te bewerkstellig.



Ons opvoedings- en vaardigheidsprogramme sal ons produktiwiteit en mededingendheid verhoog.



Ons nywerheidsbeleid-aksieplan en ons nuwe fokus op werkgeleenthede in die groensektor sal sterker en meer arbeidsintensiewe nywerhede tot stand bring. Ons landelike ontwikkelingsprogram sal produksie in landelike gebiede verbeter, sowel as die lewe van die mense wat daar woon.



Ons kapitaalbeleggingsprogram lê ten grondslag aan ons strategie vir ekonomiese herstel en groei. Oor die volgende drie jaar sal die regering R846 miljard aan die openbare infrastruktuur bestee. Wat vervoer betref, sal ons ons padnetwerk in stand hou en uitbrei. Ons sal seker maak dat ons spoornetwerk betroubaar en mededingend is, en beter by ons hawens ingeskakel is.



Ten einde betroubare kragvoorsiening te verseker, het ons ’n Interministeriële Komitee oor Energie op die been gebring om ’n geïntegreerde hulpbronplan vir die volgende twintig jaar te ontwikkel. Die plan maak onder meer voorsiening vir die deelname van onafhanklike kragprodusente en vir die beskerming van die armes teen stygende elektrisiteitstariewe. Ons sal ’n onafhanklike stelseloperateur instel wat nie deel uitmaak van Eskom Holdings.nie. Eskom sal steeds bykomende opwekkingskapasiteit ontwikkel en die instandhouding van sy kragsentrales verbeter.



Ten einde die bevordering van ’n inklusiewe ekonomie te verseker en groei en ontwikkeling te bevorder het ons die Adviesraad oor Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging, met die President as voorsitter, op die been gebring.



Die mees dringende fokus van beleidsverandering moet die ingrypingsmaatreëls wees waardeur werkgeleenthede vir jong mense geskep word. Die werkloosheidsyfer vir jong mense is aansienlik hoër as die gemiddelde syfer. Voorstelle sal ter tafel gelê word om die koste vir die indiensneming van jonger werkers te subsidieer om maatskappye aan te moedig om onervare personeel in diens te neem.



‘n Verdere uitbreiding van die openbare indiensnemingsprogramme is ook op pad. Dit sluit in plaaslike infrastruktuur en geletterdheidsprojekte, tuisversorging, skoolonderhoud en aansporingsmaatreëls vir vroeë kinderontwikkeling.



Verlede jaar het ons die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap bekend gestel. Ons het die agentskap versoek om vinniger te werk om sy strukture regdeur die land te vestig sodat dit ons kan help om aan  jeugontwikkelingsprogramme binne die regering voorrang te verleen.



Toe hierdie administrasie verlede jaar aan die bewind gekom het, het ons onderneem om harder te werk om ‘n sterk ontwikkelingstaat te bou. Ons het gesê dat dit ‘n staat gaan wees wat op die behoeftes en verwagtings van die mense sou reageer, en wat beter en vinniger gaan presteer.



Hierdie jaar, 2010, gaan ‘n jaar van aksie wees. Die onderskeidende kenmerk van hierdie administrasie sal wees dat hy weet waar die mense woon, hulle behoeftes begryp, en vinniger reageer. Die regering moet vinniger en harder werk, en slimmer te  werk gaan.



Ons verwag van die uitvoerende gesag en die Staatsdiens om aan dié visie te voldoen. Ons bou ‘n prestasie-gerigte regering deur beplanning, asook prestasiemonitering en -evaluering, te verbeter. Ons moet ook maatreëls vir geslagsgelykheid by die regering se aksieplan integreer. Dié proses sal verseker dat vroue, kinders en persone met gestremdhede toegang tot ontwikkelingsgeleenthede kan kry.



Ons wil graag aankondig dat die regering op ‘n nuwe manier te werk sal gaan.



Die werk van die departemente sal gemeet word aan doelwitte wat deur ons prestasiemonitering en -evalueringstelsel uitgewerk is. Die Ministers wat verantwoordelik is vir ‘n bepaalde doelwit sal ‘n breedvoerige Diensleweringsooreenkoms met die President onderteken. Dit sal ‘n uiteensetting gee van wat gedoen moet word, hoe, deur wie, binne watter tydperk en watter maatstawwe en hulpbronne gebruik sal word.



Soos u weet, is ons verbind tot vyf prioriteite: onderwys, gesondheid, landelike ontwikkeling en grondhervorming, die skep van behoorlike werkgeleenthede en die bekamping van misdaad. Daarbenewens, sal ons ons daarvoor beywer om die doeltreffendheid van plaaslike regering, infrastruktuurontwikkeling en menslike nedersettings te verbeter. Ons sal ‘n aantal uiters belangrike aktiwiteite onderneem ten einde dié doelwitte te bereik.



Dié regering se beleide sentreer rondom onderwys en die ontwikkeling van vaardighede. In ons program vir 2010 wil ons ons kinders se vermoë om te lees, skryf en tel in die grondslagfase verbeter. Tensy ons dit doen, sal ons nie die gehalte van onderwys verbeter nie.



Ons onderwysdoelwitte is eenvoudig maar van kritieke belang: ons wil hê dat leerders en onderwysers in die skool, in die klas en betyds is om vir sewe ure per dag te leer en te onderrig.



Ons sal onderwysers bystaan deur gedetailleerde daaglikse lesplanne te voorsien. Aan leerders sal ons gebruiksvriendelike werkboeke in al 11 tale voorsien. Van vanjaar af vorentoe sal alle graad 3-, 6- en 9-leerders geletterdheids- en syfervaardigheidstoetse skryf wat onafhanklik gemodereer sal word. Ons streef daarna om die slaagsyfer vir dié toetse teen 2014 van die huidige gemiddeld van tussen 35% en 40% na minstens 60% te verhoog. Uitslae sal aan ouers gestuur word om vordering na te gaan.



Boonop sal elk van ons 27 000 skole deur amptenare van die Departement van Basiese Onderwys geassesseer word. Dit sal aangeteken word in ‘n geskrewe verslag wat geoudit kan word.



Ons streef daarna om die getal matrikulante wat vir universiteitstoelating in aanmerking kom teen 2014 tot 175 000 per jaar te vermeerder. Ons doen ‘n beroep op ouers om met ons saam te werk om ‘n sukses hiervan te maak.



Ons verwelkom verlede maand se verklaring deur die drie onderwysersunies, Naposa, SADOU en die SAOU, waarin hulle hul verbintenis tot die Kwaliteit Leer- en Onderrigveldtog van die begin van 2010 herbevestig.



Ons moet in ons jeug belê om toe te sien dat ons arbeidsmag ervare en bekwaam is ten einde groei en werkskepping te steun. Ons beplan dus om die opleiding van persone tussen die ouderdom van 16 en 25 jaar in verdere onderwys- en opleidingsinstellings te verhoog. Dit sal ons in staat stel om aan diegene wat nie vir universiteitstoelating kwalifiseer nie ‘n tweede kans op verdere onderrig en opleiding te bied.



Ons werk saam met hoër onderwysinstellings om toe te sien dat studente wat vir toelating in aanmerking kom finansiële bystand deur die Nasionale Finansiëlehulpskema vir Studente verkry.



Ons het ook ambisieuse doelwitte vir die ontwikkeling van vaardighede gestel om bykomende ingenieurs en tegnici op te lewer, en om die getal gekwalifiseerde wiskunde- en wetenskaponderwysers te vergroot.



Ons moet ook die getal jeugdiges wat leederskappe in die privaat- en openbare sektor binnegaan, vermeerder.



Nog ‘n belangrike doelwit is om ‘n lang en gesonde lewe vir alle Suid-Afrikaners te verseker. Ons sal voortgaan om ons gesondheidsorgstelsel te verbeter. Dit sluit die bou en opknap van hospitale en klinieke in en om die werksomstandighede van gesondheidsorgwerkers verder te verbeter.



Ons het ‘n vennootskap met die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika gesluit om die werking van openbare hospitale en hul distrikskantore te verbeter. Ons werk ook saam met die OBSA en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie aan ‘n program vir Openbare-Private Vennootskappe om hospitale te verbeter en finansiering vir projekte te bied.



Ons moet dringend aandag skenk aan die feit dat lewensverwagting met geboorte van 60 jaar in 1994 tot net onder 50 jaar vandag gedaal het. Ons doen dus ingrypings om moedersterftesyfers te verklein, om nuwe MIV-infeksies te verminder en om MIV en tuberkulose doeltreffend te behandel. Ons sal ook kindersterfte deur middel van ‘n groot immunisasieprogram verminder. Ons sal weer gesondheidsprogramme in skole herstel. Ons sal al die beloftes wat op Wêrelddag vir Vigs gemaak met betrekking tot nuwe MIV-voorkomings- en behandelingsmaatreëls in werking stel. Intensiewe werk word gedoen om toe te sien dat dié werk volgens beplanning verloop.



Ons sal ook voortgaan met voorbereidings vir die skep van ‘n nasionale gesondheidsversekeringstelsel.



Ons werk hard daaraan om te verseker dat elkeen in Suid-Afrika veilig voel en veilig is. Ons sal voorts daaraan werk om ernstige en geweldsmisdaad te verminder en toe te sien dat die regstelsel doeltreffend werk. Ons is besig om planne in werking te stel om die getal polisiemanne en -vroue met 10% oor die volgende drie jaar te verhoog. Ons het die volgende kwessies as die belangrikste vyf prioriteite uitgewys: Die stryd teen kapery, inbrake by sakeondernemings en huise; asook kontakmisdaad soos moord, verkragting en aanranding.



Ons almal kan ŉ rol speel. Ons kan deelneem aan gemeenskapsveiligheidsforums. Ons kan voortaan weier om gesteelde goedere te koop. Ons kan altyd gereed wees om die polisie van inligting oor misdadige bedrywighede te voorsien.



Tshebedisanommoho e tla lwantsha botlokotsebe [As almal saamwerk, kan ons misdaad bekamp].



Die plaaslike regering moet werk. Munisipaliteite moet werk aan die verbetering van die voorsiening van huise, water, sanitasie, elektrisiteit, afvalbestuur en paaie.



Ons het verlede jaar ŉ vergadering met burgemeesters en munisipale bestuurders belê. Dít het ons waardevolle insig gegee wat die uitdagings van plaaslike regering betref.



Ons het ook verskeie gemeenskappe en munisipaliteite besoek, met inbegrip van Balfour in Mpumalanga en Thembisa in Gauteng. Na afloop van die besoek aan Balfour, het ons ŉ span van nege Ministers na die gebied gestuur om aandag te skenk aan die kwessies wat deur die gemeenskap geopper is.  ŉ Aantal kwessies het reeds die nodige aandag geniet. Ek het die Ministers opdrag gegee om aan die oorblywende kwessies aandag te skenk.



Ons herhaal dat daar geen griewe is wat geweld en die beskadiging van eiendom regverdig nie. Wetstoepassingsagentskappe is opdrag gegee om sterker standpunt in te neem teen die wetteloosheid in Balfour en ander gebiede.



In Desember 2009 het die Kabinet ŉ omkeerstrategie vir plaaslike regering aangeneem. Dít sal verseker dat plaaslike regering oor die korreke bestuurs-, administratiewe en tegniese vaardighede beskik. Ons moet gedurende dié jaar van aksie saamwerk, sodat plaaslike regering almal se besigheid kan word.



Ons beywer ons daarvoor om goed geleë informele nedersettings te verbeter, en teen 2014 aan minstens 500 000 huishoudings behoorlike dienste en grondbesit te voorsien. Ons beplan om meer as 6 000 hektaar goed geleë staatsgrond opsy te sit vir lae-inkomste- en bekostigbare behuising.



ŉ Uiters belangrike nuwe inisiatief is om mense tegemoet te kom wie se salarisse te hoog is om staatsubsidies te ontvang, maar wat te min verdien om vir ŉ gewone huisverband by die bank te kwalifiseer. Ons gaan ŉ waarborgfonds van R1 miljard instel om die privaatbank- en behuisingsektor aan te moedig om nuwe produkte te ontwikkel om in dié behuisingsaanvraag te voorsien.



Ngonyaka odlule sathi, abantu basemakhaya nabo banelungelo lokuba nogesi, amanzi, izindlu zangasese ezigijima amanzi nemigwaqo.



Sathi kufanele babe nezindawo zezemidlalo kanye nezindawo zokuthenga ezinkulukazi eziphucuzekile njengasemadolobheni. [Ons het verlede jaar gesê dat mense van die landelike gebiede ook op elektrisiteit, water, spoeltoilette en paaie geregtig is.



Ons het gesê dat hulle sportgeriewe, asook groot, uiters moderne winkelkomplekse moet hê, soortgelyk aan dié wat in stedelike gebiede voorkom].



In dié verband het ons die eerste proefterrein van die omvattende landelike ontwikkelingsprogram in Giyani, Limpopo, in Augustus verlede jaar begin. Sedertien is 231 huise gebou. Daar is ook vordering gemaak met betrekking tot die voorsiening van infrastruktuur om landboukundige ontwikkeling te ondersteun en opleiding vir gemeenskapslede te verskaf. Toegang tot gesondheidsgeriewe en opvoedingsgeriewe het verbeter.



Tans word daar soortgelyke programme op sewe terreine regoor die land in werking gestel waarby 21 wyke baat vind. Ons beoog om teen 2014 terreine in 160 wyke te hê. Ons mikpunt is om 60% van die huishoudings teen 2014 te hê wat deur eie produksie in hul voedselvereistes voorsien.



Kancane kancane kuze kulunge, phela bakwethu, kuthiwa nempandla iqala ngenhlonhlo. [Stadig maar seker sal ons dit bereik; Rome is nie in een dag gebou nie.]



Ons moet ook grondhervormings- en landboukundige ondersteuningsprogramme beter integreer. Ons sukses op dié gebied sal gemeet word aan die toename in die getal kleinskaalboere wat ekonomies lewensvatbaar word.



Ons is nie ‘n waterryke land nie. Tog verloor ons steeds baie water deur lekkende pype en onvoldoende infrastruktuur. Ons sal maatreëls instel om teen 2014 ons waterverlies met die helfte te verminder.



As deel van ons pogings om groter ekonomiese groei aan te moedig, beywer ons ons daarvoor om kommunikasiekoste te verminder. Die Suid-Afrikaanse publiek kan daarna uitsien dat kostes ten opsigte van breëbandspoed, selfone, landlyne en openbare telefone selfs verder verminder sal word. Ons sal poog om breëbandspoed te vermeerder en om ‘n internetdiens van ‘n hoë standaard in ooreenstemming met internasionale standaarde in te stel.



Dié regering sal verseker dat ons omgewingsbates en natuurlike hulpbronne goed beskerm en voortdurend versterk word.



In samewerking met Brasilië, Indië en China én die Verenigde State, wat die ontwikkelde wêreld verteenwoordig het, sal ons ‘n aansienlike bydrae lewer tot die ooreenkoms, wat Desember verlede jaar tydens die Beraad oor Klimaatsverandering in Kopenhagen aanvaar is. Alhoewel dit nie aan die verwagte vereistes voldoen nie, is dit ‘n belangrike stap vorentoe, aangesien dit alle lande daartoe verbind om klimaatsverandering teen te werk. Ons sal ons daadwerklik daarvoor beywer om ‘n regtens bindende ooreenkoms met ons internasionale ampsgenote daar te stel. Ons het ons as Suid-Afrikaners vrywillig daartoe verbind om bepaalde mikpunte ten opsigte van die vermindering van bepaalde uitlaatgasse te bereik en sal steeds werk aan ons lantermynstrategie om klimaatsverandering teen te werk.



Ons sal ons pogings verskerp om die belange van Suid-Afrikaners wêreldwyd te bevorder. Ons sal pogings steun om die politieke en ekonomiese integrasie van die SAOG-streek te versnel en om handel en belegging onderling tussen streke te bevorder. Suid-Afrika speel steeds ‘n leidende rol in die kontinentale pogings om die Afrika-unie en sy instellings te verstewig en om hom vir eenheid te beywer. Ons sal daadwerklik poog om die nuwe vennootskap vir Afrika se ontwikkeling (Nepad) as ‘n strategie vir ekonomiese ontwikkeling op die vasteland te laat herlewe.



Die Staatsdiens moet reageer op die oproep wat dié termyn een van vinnige optrede en beter staatsdienslewering sal kenmerk. Ons vereis voortreflikheid en harde werk. Ons het staatsamptenare nodig wat toegewyd en bevoegd is en wat vir die behoeftes van landsburgers omgee. Die regering is reeds besig met die ontwikkeling en toepassing van ‘n ontwikkelingsprogram vir die Staatsdiens waarin die norme en standaarde vir staatsamptenare in alle sfere uiteengesit sal word.



Ons gaan voort met ons pogings om korrupsie en bedrog met betrekking tot verkrygings- en tenderprosedures en by aansoeke om bestuurderslisensies, maatskaplike toelaes, en identiteitsdokumente, ensovoorts, uit te roei Ons is tevrede met die vordering wat die regering op sommige gebiede gemaak het. Gedurende die afgelope week het ons uitbetalings ter waarde van R180 miljoen gekeer wat afkomstig is van 32 687 maatskaplike toelaes wat onregmatig bekom is. Ons Interministeriële Komitee oor Bedrog ondersoek tans metodes om korrupsie op ‘n beslissende wyse te bekamp.



Nga u shumisana rothe ringa bveledza zwinzhi. [Deur saam te werk, kan ons meer doen.]



Soos u bewus is, het ons die Presidensiële Blitslyn ingestel om die regering en die Presidensie meer toeganklik vir die publiek te maak, asook om diensleweringsprobleme uit die weg te ruim. Die blitslyn verteenwoordig ons vasbeslotenheid om regeringsake op ‘n ander manier te takel.



Dit het ‘n verskil in die lewens van baie Suid-Afrikaners gemaak. So kan ons verwys na mev Buziwe Ngaleka, wie se oproep oor haar oorlede man se pensioen die eerste oproep op die eerste dag van die diens was. Sy is vanaand hier saam met ons. Ook saam met ons is mnr Nkululeko Cele, aan wie hulp verleen is om identiteitsdokumente te verkry, waarmee dit vir hom moontlik was om by die Tshwane-universiteit van Tegnologie in te skrywe. Dit is net twee van baie suksesverhale.



Uit dié en ander voorbeelde kan ons swakhede bepaal wat deur verskeie regeringsfere reggestel behoort te word. Deur die Speaker het ons ‘n veelpartyafvaardiging van die Parlement uitgenooi om die oproepsentrum te besoek, waardeur LP's ‘n eerstehandse verslag kan kry oor die werk wat gedoen word.



Ek het ‘n oorsig gegee van die hoofbestanddele van ons planne vir 2010 en ons gesamentlike verbintenis as regering tot die mense van Suid-Afrika. Die staatsrede verskaf ‘n breë oorsig van ons aksieplan. Die Ministers sal in hul onderskeie begrotingsredes die besonderhede verskaf. 



In November vanjaar gedenk ons die 150ste jaar sedert die aankoms van Indiërs in Suid-Afrika. Dit verskaf ‘n geleentheid om erkenning te gee aan die belangrike bydrae deur die Indiese gemeenskap op die gebied van arbeid, besigheid, wetenskap, sport, godsdiens, kuns, kultuur en die bereiking en verstewiging van ons demokrasie.



Ek gebruik dié geleentheid om weer eens ons opregte meegevoel met die regering en die mense van Haïti te betuig oor die enorme tragedie wat hulle getref het. Ons is bly ons reddingspanne kon soontoe gaan om hulp te verleen. Ek wil graag veral een Suid-Afrikaner noem wat nooit nalaat om ten tye van rampe bystand te verleen nie. Ons verwelkom dr Imtiaz Sooliman van die Gift of the Givers, wat vandag in dié Huis teenwoordig is.



Die aanbieding van die Fifa-sokkerwêreldbekertoernooi maak van 2010 ‘n jaar van aksie. Ons beplan reeds baie jare vir dié Wêreldbekertoernooi. Daar is slegs drie maande oor. En ons is vasbeslote om ‘n sukses daarvan te maak. Die infrastruktuur, sekuriteit en logistieke maatreëls is ingestel om ‘n suksesvolle toernooi te verseker. 



As ‘n nasie is ons aan die Plaaslike Reëlingskomitee vir 2010 groot dank verskuldig vir hul deeglike ywer. Ons wens die PRK se voorsitter, Irvin Khoza, HUB Danny Jordaan en Bafana Bafana se afrigter Carlos Perreira alles van die beste toe vir die maande wat voorlê. 



Oud-president Mandela was die hooffiguur met sy bystand om die regte om dié grootse geleentheid aan te bied vir ons land te wen. Ons moet dus in sy eer ‘n reusesukses van die Wêreldbekertoernooi maak.



Landgenote, kom ons steun die nasionale span, Bafana Bafana. Ek is een van diegene wat glo dat Bafana Bafana verassings gaan oplewer. Van die grootste belang . . . ithikithi esandleni bakwethu! [Landgenote, kom ons kry ons kaartjies!] Kom ons koop almal betyds kaartjies om die wedstryde te kan bywoon.



Terwyl ons vandag Madiba se vrylating vier, verbind ons ons tot versoening, nasionale eenheid, nie-rassigheid en samewerking aan ‘n beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners, swart en wit.



Ons word gelei deur Madiba se woorde in die getuiebank, dat:



During my lifetime I have dedicated myself to this struggle of the African people. I have fought against white domination, and I have fought against black domination. I have cherished the ideal of a democratic and free society in which all persons live together in harmony and with equal opportunities. It is an ideal which I hope to live for and to achieve. But if needs be, it is an ideal for which I am prepared to die.



Geïnspireer deur ons ikoon, Madiba, is dit vir my ‘n eer om die staatsrede van 2010 aan al ons helde en heldinne, besonge en onbesonge, bekend en onbekend, op te dra.



Laat ons saamwerk om dié jaar van optrede 'n suksesvolle jaar vir ons land te maak.



Ek dank u.



