DIE PARLEMENT EN TOESIGHOUDING



Die werklike toets vir demokrasie is die mate waarin die Parlement kan verseker dat die regering aanspreeklik teenoor die mense is. Dit word gedoen deur voortdurende toesighouding (monitering) te handhaaf oor die regering se werksaamhede.



Die Parlement en sy Komitees beskik oor die bevoegdheid om enige persoon of instelling te ontbied om getuienis te lewer of dokumente beskikbaar te stel, en aan hulle verslag te doen.  



Grondwetlike mandaat

Die Grondwet bepaal dat die Parlement die mag het om toesig te hou oor alle staatsinstellings, insluitend dié op provinsiale en plaaslike regeringsvlak.



 Wat is toesighouding?

Toesighouding is ‘n funksie kragtens die Grondwet aan die Parlement verleen om die regering se werksaamhede te moniteer en daaroor toesig te hou.

Wanneer toesighouding uitgeoefen word, fokus die Parlement op die volgende terreine:

die deurvoer van wette

die aanwending van begrotings

die streng nakomingvan wette van die Parlement en die Grondwet

die doeltreffende bestuur van staatsdepartemente.



Waarom die Parlement se toesighoudingsrol belangrik is?

Deur toesig te hou oor die werksaamhede van die regering kan die Parlement verseker dat dienslewering plaasvind, sodat alle burgers ‘n beter lewensgehalte kan hê.



Toesighouding deur die Parlement geskied om die volgende redes:

om misbruike op te spoor en te voorkom

om onwettige en ongrondwetlike optrede deur die regering te voorkom

om die regte en vryhede van burgers te beskerm

om die regering aanspreeklik te hou vir die wyse waarop belastingbetalers se geld bestee word

om regeringsondernemings meer deursigtig te maak en openbare vertroue in die regering te verhoog.



Die toesighoudingsrol van die twee Huise van die Parlement

Die Parlement bestaan uit twee Huise, naamlik:

die Nasionale Vergadering (NV), en

die Nasionale Raad van Provinsies (NRP).



Elkeen het ‘n spesifieke toesighoudingsrol te speel.



 Die Grondwet bepaal dat die Nasionale Vergadering verkies word om die mense te verteenwoordig en om regering deur die mense volgens die Grondwet te verseker. Dit word gedoen deur:

te verseker dat alle uitvoerende staatsinstellings in die nasionale regeringsfeer teenoor hom aanspreeklik is, en

deur toesig te hou oor die uitoefening van die nasionale uitvoerende gesag, en die toepassing van wetgewing.



Die Nasionale Raad van Provinsies verteenwoordig die provinsies om te verseker dat provinsiale belange in berekening gebring word in die nasionale regeringsfeer.

Die NRP se rol is om toesig te hou oor nasionale aspekte van provinsiale en plaaslike regering.

Die NRP kan van ‘n lid van die Kabinet , ‘n amptenaar van die nasionale regering of ‘n LUK van ‘n provinsiale regering vereis om ‘n sitting van die Raad of ‘n komitee by te woon.



 Die rol van die Parlementêre komitees

Parlementêre komitees word gestig as instrumente van die Huise ooreenkomstig die Grondwet om toesighouding te behartig en die regering te moniteer.

Dié komitees is die “enjinkamers” van die Parlement se toesighoudings- en wetgewende werk.

Komitees ondersoek wetgewing noukeurig, hou toesig oor die regering se werksaamhede, en skakel met die publiek.

Een van die mees belangrike aspekte van die toesighoudingsfunksie is die oorweging deur komitees van die jaarverslae van staatsinstellings, en verslae deur die Ouditeur-generaal.

Na gelang van die doel van toesighouding, sal die Komitee óf ‘n opdrag van die staatsinstansie aanvra, óf dit met die oog op ‘n feiteondersoek besoek.



Toesighoudingsmeganismes



a) Begrotingsposte

Die Minister van Finansies kondig die begrotingsramings vir die volgende boekjaar aan, sowel as die begrotingsposte van elke departement.

Die Parlement moet die Begroting goedkeur.

Ná die voorlegging van die begrotingsposte het elke Komitee ‘n verhoor met die bepaalde Staatsdepartement waaroor hy toesig hou.

Dit dien om vas te stel of die Department sy beloftes van die vorige jaar nagekom het, en belastingbetalers se geld na behore bestee het.



b) Vrae vir beantwoording deur uitvoerende gesag

Om Vrae aan die regering te stel, is een van die maniere waarop die Parlement die regering aanspreeklik hou.

Vrae vir mondelinge of skriftelike beantwoording kan aan die President, die Adjunkpresident en Ministers gestel word oor aangeleenthede waarvoor hulle verantwoordelikheid aanvaar.

Vraetyd bied aan Parlementslede die geleentheid om lede van die regering uit te vra oor aangeleenthede rakende dienslewering, namens hul politieke partye of die kieserskorps.



c) Ledeverklarings

Deur dié proses kan lede van die Parlement oor enige aangeleentheid verklarings in die Huis doen.



d) Kennisgewing van voorstelle

Deur ‘n Kennisgewing van Voorstel kan ‘n lid van enige politieke party sake vir bespreking in die Parlement opper, en daardeur help om hul verantwoordelikheid van toesighouding na te kom.



e) Volle sittings

Volle sittings is nog ‘n manier om belangrike inligting onder die aandag van die regering te bring rakende spesifieke regeringsprogramme of wetgewing wat vereis word om dienslewering te verbeter.



f) Kiesafdelingwerk

Kiesafdelingwerk bied Parlementslede die beste geleentheid om individuele toesighouding uit te oefen. 

Kiesafdelingwerk verskaf die mees direkte skakeling tussen Parlementslede en die publiek.

Dit is lede se plig om die Parlement in kennis te stel van enige aangeleenthede wat gedurende sodanige toesighouding geïdentifiseer is.

 Hoe jy betrokke kan raak



a) Doen ‘n voorlegging

Om ‘n voorlegging te doen aan ‘n komitee van die parlement is een manier om jou stem in die Parlement te laat hoor.

Deur ‘n voorlegging te doen, het jy ‘n geleentheid om die mening van lede van die Komitees te beïnvloed wat spesifieke konsepwetgewing bespreek voordat dit ‘n wet word.



b) Versoekskrif

Elke burger het die reg om ‘n versoekskrif tot die Parlement te rig, soos bepaal word in die Grondwet.

Enige persoon, groep mense of organisasie mag ‘n versoekskrif tot die Parlement rig.

‘n Versoekskrif is ‘n formele versoek tot ‘n owerheid om stappe te doen. Dit kan geskied by wyse van ‘n eis, ‘n versoek om ‘n guns, óf om aandag te skenk aan ‘n grief.



