HOE DIE BEGROTING VIR ONS WERK
Wat is ’n Begroting? 
’n Begroting is ’n plan wat toon hoeveel inkomste ontvang is en hoe dit binne ’n gegewe tydperk bestee gaan word. As individue doen ons heelwat beplanning betreffende ons persoonlike inkomste en uitgawes. ’n Begroting is belangrik omdat, ons baie dinge wil koop, hoewel ons nie altyd genoeg geld daarvoor het nie. Dit beteken dus dat ons onbeperkte begeertes het maar beperkte bronne om te koop wat ons begeer. Om te begroot, beteken daar moet keuses gemaak word oor hoe ons ons geld bestee. As ons aan een artikel geld bestee, sal ons sonder iets anders moet bly. 
Hoe stel die Staat sy Begroting op? 
Op byna dieselfde wyse word die Staat gekonfronteer met keuses. Die strukture van die Staat moet die beskikbare hulpbronne en die behoeftes van die mense teen mekaar opweeg. Die begroting word toegewys ooreenkomstig die voorkeure waarop besluit is vir die jaar. Die nasionale Begroting verskaf ’n raming van die Staat se verwagte inkomste en uitgawes vir die boekjaar, vanaf 1 April tot 31 Maart die volgende jaar. Die nasionale Begroting verskil van ander begrotings, deurdat dit aandui hoe geld bestee sal word, en besonderhede verskaf van hoe die geld verkry gaan word om die land se uitgawes te dek.
Hoe die Staat sy geld invorder? 
Die vernaamste bron van inkomste vir die staat is belasting. Belasting is die verpligte betaling deur individue, besighede en enige ander belastingpligtige instellings aan die Ontvanger van Inkomste. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is verantwoordelik vir die invordering van belasting. Daar is verskillende tipes belasting. Die Staat ontvang sy belasting hoofsaaklik uit die inkomste van individue. Elke individu in die land wat meer as ’n sekere inkomste kry, word verplig om belasting aan die Staat te betaal. Dié vorm van belasting staan bekend as inkomstebelasting. Ander vorms van belasting sluit in Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW) en aksynsregte. Die meeste mense het al gehoor van BTW, en dat sekere basiese goedere nie onderhewig aan BTW is nie. Aan die ander kant word ekstra belasting soms gehef op luukse goedere. Dié soort aksynsbelasting word “sondebelasting” genoem. Die Grondwet verklaar hoe die President die inkomste moet bestuur. Enige inkomste wat die land ontvang word gedeponeer in die skatkisrekening. ’n Wet wat deurgevoer is deur die Parlement is nodig vir onttrekkings van enige fondse uit dié rekening. Enige begroting moet ’n uitgawe en inkomste balansstaat hê. 
Hoe werk die Begroting? 
Die Staatsbegroting word verdeel in Inkomste en Uitgawes, Tekorte voor Lenings en Staatskuld. Die inkomste en uitgawes staan ook bekend as die Staat se inkomsterekening. Die Staatsbegroting begin met uitgawes terwyl die meeste ander begrotings met die inkomste begin. Die verskil tussen inkomste en uitgawes staan bekend as ’n tekort of ’n oorskot. ’n Tekort ontstaan wanneer die Staat beplan om meer geld te bestee as wat dit uit gewone belasting kan invorder. Staatskuld ontstaan wanneer die regering geld plaaslik of in die buiteland leen om uitgawes te dek. Wanneer die inkomste besteding oorskry, byvoorbeeld wanneer meer individuele belasting ingevorder word as wat verwag is, ontstaan ’n oorskot. 
Die Begrotingsproses 
Die begroting neem tot 14 maande om voor te berei. Dit beteken dat teen die tyd dat vanjaar se Begroting by die Parlement ingedien word, die Begroting vir die komende jaar reeds die afgelope twee maande voorberei word. Verskillende departemente is betrokke by die raming van die begroting. Hulle stuur hul ramings en die meegaande redes aan die onderskeie Hoofkantore. Die Hoofkantoor sal ’n opsomming maak en dit aan die Departement van Finansies voorlê. Die Departement van Finansies maak ’n opsomming wat die uitgawes van die onderskeie departemente toon. Die Direktoraat van Binnelandse Belasting en die Direktoraat van Doeane stel begrotingskattings op wat hulle aan die Departement van Finansies stuur. Die Minister van Finansies en die Goewerneur van die Reserwe Bank voer samesprekings oor die begrotingskattings. Die samesprekings sal beïnvloed word deur politieke, ekonomiese en finansiële faktore. Die Direkteur-generaal van Finansies berei die begroting voor. 
Die Minister van Finansies lewer gewoonlik jaarliks in Februarie die Begrotingsrede in die Parlement. Daarna word die Begroting in die Parlement bespreek. Die Kabinetministers moet oortuigende redes kan aanvoer vir die voorgestelde uitgawes van hul onderskeie departemente. Die Begrotingsrede volg gewoonlik ’n vaste patroon. Dit begin met die vorige jaar se finansiële resultate, gee ’n algemene oorsig van die land se ekonomiese sake, en ’n oorsig van die komende boekjaar. Dit dui aan hoe die geraamde inkomste en uitgawes gebalanseer sal word. Dit is ’n beginsel in ons demokratiese Grondwet dat die Regering slegs geld kan bestee indien dit deur die Parlement goedgekeur is. Die begroting word soos enige ander wet hanteer wat deur die Parlement goedgekeur moet word voor dit bindend word. Na die Minister se Begrotingsrede bespreek die Lede van die Parlement die Begroting en stem daaroor. Nadat elke Begrotingsrede bespreek is, moet beide Huise van die Parlement daaroor stem. As die Begroting goedgekeur is, kan toestemmining verleen word aan die betrokke departement om voort te gaan met sy finansiële program.
Die Begroting en Toesighouding? 
Belastinginvordering en uitgawes moet bestuur word om te verseker dat geld bestee word soos voorgestel deur die Parlement. Die Ouditeur-generaal doen verslag aan die Parlement of voorskrifte vir besteding nagekom is. Die begroting is ’n belangrike beleidsdokument en ’n belangrike instrument vir toesighouding, ingevolge waarvan die regering aanspreeklik gehou word vir die wyse waarop geld bestee word.
