DIE PARLEMENT VERLEEN GOEDKEURING AAN …
Die Parlement van die Republiek van Suid-Afrika het ŉ afvalbestuursbeleid ontwikkel as deel van ŉ duidelike plan om ŉ veilige en doeltreffende werkomgewing te bestuur. 
Kragtens die Grondwet het die mense van Suid-Afrika die reg tot ŉ omgewing wat nie hul gesondheid of welsyn tot nadeel strek nie. Dít sluit in die beskerming van die omgewing deur die instel van redelike wetgewing en ander maatreëls om besoedeling en ekologiese agteruitgang te voorkom, bewaring te bevorder en ekologies volhoubare ontwikkeling te verseker. Ons kan ŉ gedeelte van die skade wat aan ons planeet aangerig is, omkeer, indien ons almal stappe doen wat ŉ verskil sal maak.
Die Parlement is daartoe verbind om die gesondheid en veiligheid van al die Lede en personeel van die Parlement te verseker, asook alle persone wat regmatig binne die grense van die Parlement werksaam is of dit betree. Dié instelling is daartoe verbind om goed na die terrein van die Parlement om te sien, ten einde ŉ veilige en gesonde werkomgewing te voorsien en omgewingsrisko’s in die werkplek proaktief te bestuur.
DIE ROL EN VERANTWOORDELIKHEID VAN DIE PARLEMENT OM DIE OMGEWING MEER GROEN TE MAAK
Wetgewing soos die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid verplig die Parlement om, sover dit redelikerwys uitvoerbaar is, ŉ werkomgewing te voorsien wat geen gevaar of risiko’s inhou vir sy werknemers nie. Daar is ŉ verwagting dat werknemers met die werkgewer sal saamwerk om toe te sien dat die bepaling van die Wet nagekom word. Dit is die Parlement se verantwoordelikheid om bewustheid onder sy werknemers te skep oor die belangrikheid daarvan om die omgewing te bewaar, asook die gepaardgaande rolle en verantwoordelikhede. 
MAATREËLS EN PROSEDURES
Die Parlement het ŉ duidelike plan ontwikkel om ŉ veilige en doeltreffende werkomgewing te bestuur, insluitend die ontwikkeling van ŉ afvalbestuursbeleid. 
Die doel van die beleid is om ŉ raamwerk vir billike, bekostigbare en volhoubare dienslewering aan werknemers en openbare persone binne die grense van die Parlement te voorsien. Die beleid beoog om die veilige verwydering van afvalmateriaal te verseker ten einde besoedeling te verminder, herwinning te optimaliseer en om toe te sien dat die afval wat in die Parlement voortgebring word ooreenkomstig die riglyne hanteer word wat daarin vervat is.
DIE BESPARING VAN ENERGIE 
Die Parlement bevorder die gebruik van energiebesparende gloeilampe ten einde besoedeling te verminder en energie en koste te bespaar. Energiebesparende gloeilampe word vir beligting in alle openbare gebiede en gange in die Parlement gebruik.
AFVALBESTUUR
“Afval” beteken enige materiaal – hetsy in gasagtige, vloeistof of vaste vorm, of enige kombinasie daarvan – wat van tyd tot tyd deur die Nasionale Minister van Omgewingsake en Toerisme by kennisgewing in die Staatskoerant omskryf word.
Die bestuur van vaste afval
Droë afval
Droë afval word op ŉ daaglikse grondslag in alle gebiede in duidelike plastieksakke en houers versamel en aan die gemagtigde afvalverwerkingsterrein gelewer.
Mediese afval
Mediese afval word in standaard (geel) plastiekhouers geplaas en op ŉ gereelde grondslag, of wanneer benodig, deur ŉ gekontrakteerde diensverskaffer verwyder. 
Elektriese afval
Alle oortollige fluoor-buisligte word na ŉ fasiliteit geneem waar dit veilig vernietig word deur die glas te breek en fyn te druk.
Nat afval 
Nat afval word in die gemerkte standaard houers of blikke geplaas en op ŉ gereelde grondslag verwyder.
Chemiese afval 
Chemikalieë word in ŉ chemiese pakhuis gestoor wat toegesluit word om ongemagtigde verbruik te verhoed. Alle chemikalieë moet in geïdentifiseerde houers geplaas word en klein hoeveelhede gevaarlike chemikalieë moet van die korrekte etikette voorsien word.
Drukgassilinders
Die diensverskaffer verwyder onmiddellik oortollige drukgassilinders van die terrein en sien toe dat die silinders kragtens regsvereistes verwyder word, om te verhoed dat dit per ongeluk weer gebruik word.
INISIATIEWE VIR DIE TOEKOMS
Verwydering van kookolie
Die Parlement is besig om herwonne houers te bekom waarin gebruikte olie geplaas kan word, waartydens die kookolie wat verwyder word in diesel omskep word. Die praktyk waartydens kookolie in afvoerslote gestort word, moet ontmoedig word.
Die verwydering en herwinning van skeurpapier
Die Parlement is besig om ŉ nuwe diensverskaffer te bekom om skeurpapier vir herwinning te verwyder. Alle kantore in die Parlement sal van kartonbokse voorsien word waarin skeurpapier gegooi kan word. Dié bokse sal op ŉ weeklikse grondslag leeggemaak word.
Elke stap om ons omgewing te beveilig, energie te bewaar en afval te verwyder is belangrik. Dit is die kollektiewe verantwoordelikheid van alle Suid-Afrikaanse burgers, insluitend alle Lede en personeel van die Parlement, om ons omgewing vir die nageslag te bewaar en om ŉ kultuur van volhoubare ontwikkeling te bevorder.
