VIER AFRIKADAG
Afrikadag word elke jaar op 25 Mei gevier.
Die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) is op 25 Mei 1963 in Addis Ababa, Ethiopië, in die lewe geroep.
Om dié geleentheid te gedenk, sal Afrikadag dié jaar vir die 48ste keer gevier word.
Die OAE was die voorganger van die Afrika-unie (AU) wat op 9 Julie 2002 in Durban, Suid-Afrika, gestig is.
Daar is 54 lande in Afrika waarvan 53 lidstate van die AU is. Marokko is nie ‘n lidstaat van die AU nie. 
Die AU het die Afrikakontinent verenig om sy vele uitdagings soos gewapende konflik, klimaatsverandering en armoede aan te spreek.
DIE BELANGRIKHEID VAN AFRIKADAG
Afrikadag is ‘n viering van Afrika, sy mense en eensgesindheid.
Dit is ‘n dag waarop erkenning gegee word aan die vordering wat die mense van Afrika gemaak het en daar oor die gemeenskaplike uitdagings besin word wat mense wêreldwyd in die gesig staar.
DIE ROL VAN DIE AFRIKA-UNIE (AU) OP DIE VASTELAND
Die AU is ‘n belangrike instelling vir die bevordering van die sosio-ekonomiese integrasie van die vasteland, wat op groter eensgesindheid en samehorigheid tussen die lande en die mense van Afrika gemik is.
Die AU is op die gemeenskaplike visie van ‘n verenigde en sterk vasteland gebaseer.
Dit is ook op die behoefte gebaseer om ‘n vennootskap tussen regerings en alle afdelings van die burgerlike samelewing te vorm, in die besonder met vroue, die jeug en die privaatsektor.
As ‘n kontinentale organisasie fokus dit op vrede, veiligheid en bestendigheid en staan dit sentraal tot die vasteland se hernuwing.
Die AU poog om demokratiese regte, menseregte en volhoubare ekonomieë in Afrika te verseker, veral deur konflik te beëindig en ‘n doeltreffende gemeenskapsmark te skep.
VISIE
Die visie van die Afrika-unie is: “’n Geïntegreerde, voorspoedige en vreedsame Afrika wat deur sy eie burgers voortgedryf word en ’n stukrag in die internasionale arena verteenwoordig”.
GESAMENTLIKE OPTREDE DEUR DIE AFRIKA-UNIE
Die mense van Afrika het gesamentlike optredes deur die AU van stapel gestuur om:
die omgewing te beskerm;
internasionale terrorisme te beveg;
die kastyding van die MIV/Vigs pandemie, malaria en tuberkulose te bestry;
aan humanitêre kwessies aandag te skenk, soos die moeilike omstandighede waarin vlugtelinge en ontheemdes hulle bevind;
vrede, veiligheid en bestendigheid te bevorder, en samewerking en ontwikkeling in Afrika te organiseer; en
samehorigheid dwarsoor die vasteland te versterk en ‘n gemeenskaplike voorbestemming onder die mense van Afrika te bewerkstellig.
SUID-AFRIKA EN AFRIKADAG
Die vier van Afrikadag beklemtoon Suid-Afrika se bydraende rol en deelname ten opsigte van die vasteland se agenda.
Afrikadag is ‘n dag om ons Afrika-erfenis te vier, en om die vasteland se geskiedenis en kultuur deur middel van kuns ten toon te stel.
Dit skerp ‘n verantwoordelikheidsgevoel by almal in, veral die jeug, om die gehalte van lewe vir alle mense in die belangrikste gebiede van maatskaplike bestaan te verbeter, met inbegrip van:
Gesondheid, veiligheid en sekerheid
Morele herlewing
Maatskaplike samehang, kultuur en onderwys
Deur Afrikadag te vier, het ons die geleentheid om ons verbintenis tot onsself, die vasteland van Afrika en ons gedeelde erfenis en voorbestemming opnuut uit te spreek.
DIE ROL VAN DIE PARLEMENT VAN DIE REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Die Parlement van die Republiek van Suid-Afrika neem aan verskeie Afrika-organisasies deel, met inbegrip van die Pan-Afrika Parlement (PAP) en die Parlementêre Forum van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap.
In ooreenstemming met die land se buitelandse beleid gee die Parlement van die Republiek van Suid-Afrika in sy algehele beleidsraamwerk vir internasionale betrekkinge in die besonder aandag aan Afrika. Dit sluit in om proaktief met sommige wetgewende vergaderings van die lande om te gaan waar die Suid-Afrikaanse regering by vredesbouprosesse betrokke was.
Dié jaar sal die Parlement van die Republiek van Suid-Afrika op 23 Mei ‘n Afrika-dialoog aanbied wat op 25 Mei ter viering van Afrikadag deur ‘n debat met die tema “African renewal, advancement and development” gevolg sal word.
AFRIKA EN GEBEURTENISSE 2011
Wêreld Ekonomiese Forum oor Afrika 2011: Kaapstad, Suid-Afrika, 4 - 6 Mei 2011
Tema:  “From Vision to Action, Africa’s Next Chapter”
Die Wêreld Ekonomiese Forum is ‘n onafhanklike internasionale organisasie wat daartoe verbind is om die stand van die wêreld te verbeter deur sake, politieke, akademiese en ander leiers van die gemeenskap aan te stel om wêreld-, streeks- en bedryfsagendas te vorm.
Afrika Gesondheidsuitstalling en Kongres, 9 - 11 Mei 2011
Die Afrika Gesondheidsuitstalling en Kongres sal in Mei 2011 by die Johannesburg Expo-sentrum, Nasrec, Suid-Afrika, van stapel gestuur word. Afrika Gesondheid sal ‘n groot driedaagse uitstalling en kongres aanbied wat ‘n wye reeks onderwerpe sal aanraak wat met gesondheidsorg in Afrika verband hou, en duisende gesondheidsorgkundiges uit die omgewing en regoor die wêreld sal lok.
NUWE AFRIKADAG FEES, 27 - 29 Mei
Ter viering van Afrikadag van 27 - 29 Mei, sal Johannesburg ‘n naweeksfees genaamd Sanaa Africa aanbied. Die gees van die feesviering sal Afrika se ritmiese hart en lewendige siel aangryp deur sommige van die vasteland se mees opwindende kuns, vermaak, musiek en meer aan te bied.
ANDER BELANGRIKE DATUMS VIR AFRIKA 
16 Junie: Dag van die Kind van Afrika
9 Julie: Afrika-uniedag 
25 September: Pan-Afrika Vrouedag
