HOOFTOESPRAAK VIR DIE 50 JAAR-HERDENKINGSVIERING VAN DIE BELLVILLE-STADSKOUBURG
HOOFTOESPRAAK VIR DIE 50 JAAR-HERDENKINGSVIERING VAN DIE BELLVILLE-STADSKOUBURG
Dit is vir my 'n eer om deel te wees van hierdie herdenkingsviering, 'n mylpaal vir Bellville en vir Suid-Afrikaanse teater. Toe hierdie instelling sy deure 50 jaar gelede oopgemaak het, was dit ons land se eerste volwaardige munisipale teater. Dit is gevolg deur die opening van die Johannesburgse stadskouburg in 1962, en die Nico Malan-teatersentrum in Kaapstad in 1971, wat nou as die Kunstekaap bekendstaan.
Hierdie teater het 'n bekende baken in Bellville geword; 'n plek waar die gemeenskap bymekaarkom vir troues, feesvieringe en ander belangrike geleenthede. Dit het ook blootstelling gebied aan talentvolle uitvoerende kunstenaars oor etlike generasies heen en hulle die geleentheid gegee om hul loopbane te ontwikkel. En dit vorm ook die middelpunt vir kulturele produksies in die Bellvillese gemeenskap. Hierdie rol kan dalk in die toekoms verder uitgebou word.
'n Private teaterbestuursmaatskappy, Theatre 4 Productions, het onlangs 'n voorstel ingedien om die kompleks as 'n volwaardige teater te bedryf. 'n Verslag waarin 'n koste-opbrengs-ontleding aangevra word, sal in Oktober aan die Stad se portefeuljekomitee oor ekonomiese ontwikkeling voorgelê word, waarna 'n besluit geneem sal word.
Wat ook al gebeur, ons wil graag hierdie instelling as 'n sentrum vir die kunste sien vooruitgaan. Dit is die moeite werd om 'n oomblik lank na te dink oor hoekom hierdie kernfunksie steeds saak maak, 50 jaar later, in 'n eeu wat deur die elektroniese media oorheers word. Dit is 'n feit dat daar maklik op CD's of oor die radio geluister kan word na die musiekuitvoerings wat deur hierdie teater aangebied is, en weer vanaand aangebied sal word. 'n Mens kan dit selfs op DVD koop.
Maar niks vervang regte lewendige vertonings nie, en hierdie geleenthede bring ons inwoners bymekaar. Dit bou gemeenskapsgees - iets wat so dikwels in ons ingehokte daaglikse bestaan in motors en huise kortkom. Soms gee dit ons mense selfs die kans om saam te sing, na my mening baie beter as karaoke!
Net so kan skoolproduksies wat hier gehou word, ewe maklik in skoolsale gehou word. Maar deur dit hier te hou, in die openbare oog, kry ons jongmense die kans om hul beeldende vermoëns voor 'n ander tipe gehoor te ontwikkel. Dit verbreed hul horisonne en hul selfvertroue, en vorm 'n belangrike stap op die pad na deelname in die breër gemeenskap van Bellville en Kaapstad. En in die proses hou dit hulle weg van die negatiewe kant van die buitewêreld, die lokstem van misdaad, drank en dwelms.
Die plaaslik vervaardigde dramaproduksies wat hier opgevoer word, veral die groot Broadway-produksies, kan maklik as films of DVD's van oorsese produksies met groot begrotings tuis gekyk word. Maar om 'n platform vir plaaslike produksies te hê, stel ons plaaslike kunstenaars in staat om die klassieke werke so te vertolk dat hulle meer betekenis het vir die Suid-Afrikaners van vandag.
So het ons onlangs die plaaslike verwerkings van Charles Dickens se A Christmas Carol en The Magic Flute gesien, wat gevolg het op die prestasies van U-Carmen eKhayelitsha. Die unieke Suid-Afrikaanse konteks en styl wat na hierdie twee Europese klassieke werke gebring is, het getoon dat ons die internasionale gemeenskap baie kan bied, en dat ons kunstenaars het wat nie bang is om risiko's te loop nie. Die positiewe internasionale reaksie op U-Carmen eKhayelitsha het ons geleer dat die wêreld in Suid-Afrikaners se stories belangstel.
Ook die oogpunt waaruit ons die tydlose temas van die klassieke werke beskou, is vir die wêreld interessant. Ewe belangrik, wat drama betref, is dat hierdie stadskouburg die mense van Bellville en Kaapstad die geleentheid gee om hul eie unieke stories te vertel en 'n plaaslike geskiedenis uit te bou. Dit gee hulle die geleentheid om hul stemme te laat hoor, selfs al het hulle nie die hulpbronne om die duur medium van televisie te gebruik nie. Van Shakespeare tot die watermarionette van Viëtnam skep verhoogdramas vir mense die geleentheid om hul herinneringe op stads- en gemeenskapsvlak te berg en weer op te diep.
Terwyl geskiedenis geskryf en oorgeskryf word, afhangend van wie aan bewind is, het drama 'n unieke lewe van sy eie, wat nie maklik onderdruk kan word nie. Gedurende die apartheidsjare in Suid-Afrika kon dramaturge soos Athol Fugard en Lewis Sowden mense op gemeenskapsvlak 'n politieke teenwoordigheid gee wat regdeur die land en die wêreld ervaar is. Deur die jare het hierdie teater vele sulke produksies gesien.
Sedert die begin van demokrasie, met die nuwe uitdagings van misdaad en uiterste armoede, het dramaturge voortgegaan om die kommer te verwoord van diegene wat nie toegang tot die eksklusiewe wêreld van televisie het nie. Hierdie teater bly een van die min plekke waar hierdie kommer uitgespreek en gehoor kan word.
Ek hoop dus dat toekomstige generasies na hierdie deel van Bellville se erfenis sal kyk en dit sal respekteer, ten spyte van al die ander vorms van vermaak daarbuite. Ek wil die inwoners van Bellville ook aanmoedig om voort te gaan om die geleenthede wat hier gereël word, te ondersteun. En ek wens die bestuur van die stadskouburg sterkte toe onderweg na sy eerste eeu van diens.
