Opening van "Legende van die Suiderkruis" - Suidooster Fees
Opening van "Legende van die Suiderkruis" - Suidooster Fees
Op 1Desember 2005 het ek n toespraak begin met hierdie woorde, en ek haal aan: "Wat 'n wonderlike, blye geleentheid! Ek is opgewonde en ek hoop u is saam met my opgewonde oor hierdie mylpaal van die plaaswerker gemeenskap van die Wes-Kaap. Dit was by die openingsaand van Die Musiek blyspel 'Kampong'.
Ek het daardie aand die hoop uitgespreek dat ons in die toekoms nog meer van die groep sal sien. Vandag is ons by hierdie fees bymekaar om die groei wat daar plaasgevind het waar te neem.
As Minister van Landbou in die Wes-Kaap is ek diep bewus van die miskenning van die regte van die plaaswerker gemeenskap oor baie jare. Om hierdie rede het ek dan ook in 2004 opdrag gegee dat ons planne in werking moet stel om 'n daadwerklike verandering in die kwaliteit van lewe van ons plaaswerkers te weeg te bring.
Ek glo dat die bevrediging van die ontwikkelingsbehoeftes van die plaaswerkergemeenskap 'n holistiese benadering verg waarin die sosiale, kulturele, ekonomiese en politieke behoeftes van die gemeenskap op 'n geïntegreerde wyse aangespreek word. My opdrag was dan ook dat enige aksie gebaseer moet word op 'n konkrete strategiese raamwerk waarbinne duidelike prioriteite en doelwitte uiteengesit moet word sodat ons nie verder op 'n lukrake wyse met die lewe en toekoms van plaaswerkers sal omgaan nie.
My Departement het 'n bedrag van R304 000 beskikbaar gestel aan die Plaaswerker-Kunste en Mediagroep (PKMG) wat moet fokus op die bewaring en uitbreiding van kultuuraktiwiteite in die plaaswerker- gemeenskap om sodoende beeldende en uitvoerende kunste aan te wend vir opheffing en ontwikkelingsdoeleindes onder plaaswerkers.
Die plaaswerkers kuns- en mediagroep is sowat anderhalfjaar gelede gestig deur mense wat ons droom gedeel het om onontdekte kunstepotensiaal in plaaswerkergemeenskappe te ontsluit. Die werksaamhede van die groep word op 'n totaal vrywillige basis gedryf deur Ria Olivier, Aubrey Lekeur en Charl Frank. Charl is ook die skrywer van Kampong, die musiekblyspel wat in 2005 op die planke gebring is en waarby Randall Wicomb ten nouste betrokke was. Charl is ook die skrywer van die Legende van die Suiderkruis met Francois Toerien as regisseur, wat ons vandag gaan sien.
Ons is ook trots op die ander projekte van die groep soos, 'n CD deur 'n sanggroep met die naam Likkewaan wat Afrikaanse liedjies sing, 'n plaaswerkerkoerant wat binnekort amptelik geloods gaan word en 'n tweede CD wat beplan word onder leiding van Louis Henn.
Die doel van die Plaaswerkerkuns- en mediagroep is om onontdekte talent te ontwikkel, die selfbeeld van die jongmense te bou en geleenthede vir werkskepping daar te stel. Tien jongmense het verlede jaar 'n leerlingskap in Uitvoerende Kunste deurloop en het die geleentheid gekry om by Louise du Toit en Francois Toerien aan die teorie en praktyk van die uitvoerende kunste blootgestel te word.
Omdat daar 'n hoë vlak van nie-geletterdheid op plase is, word teater ook ingespan om bepaalde kwessies aan te spreek, soos gesinsgeweld, MIV/vigs, dwelmmisbruik, Fetale Alkohol Sindroom, ens.
Ek bedank graag die amptenare van die Provinsiale Departement van Landbou vir hulle betrokkenheid. So ook Isivuno vir befondsing en infrastrukturele steun.
Daar is verskeie ander individue en instansies vir wie ek wil dankie sê naamlik, Fred Duvenage en Ralf illiamson van Mapseta. Baie dankie aan Louise du Toit vir haar toegewyde werk met die leerderskap. Francois Toerien verdien groot lof, dank en waardering vir al sy harde werk en veral vir sy geduld, wat ek verstaan, soms erg beproef is. Dankie ook aan die Universiteit van Stellenbosch se dramadepartement wat hul studente beskikbaar gestel het. Dankie aan die gesinne van die Plaaswerkerkuns- en Mediagroep vir hul begrip vir die afwesigheid van hulle familielede.
In die laaste plek wil ek aan u as gehoor dankie Sê vir u teenwoordigheid. Ons vertrou dat u terug sal sit en die Legende van die Suiderkruis saam met ons sal geniet.
Tel: 021 483 4930
