TUISBLAD
JOU LEWE
ONDERWERPE
PUBLIKASIES
GIDSE
JOU REGERING
WERKGELEENTHEDE
Aangaande
Kontak
Hulp
Gevorderde Soektog
Tuisblad
Publikasies
Toesprake
Transkripsie van 'n Toespraak Gelewer by die Amptelike Onthulling van Nobelplein
Transkripsie van 'n Toespraak Gelewer by die Amptelike Onthulling van Nobelplein
Baie dankie, Vuyo Mbuli. Ek gee graag erkenning aan Ministers Trevor Manuel en Marthinus van Schalkwyk, en bedank hulle hartlik vir hul teenwoordigheid hier vandag; so ook die Nobel-pryswenners of hul verteenwoordigers, lede van die Provinsiale Regering en die Wetgewer, lede van die Diplomatieke Korps, gemeenskapsleiers in Suid-Afrika, die Wes-Kaap en Kaapstad, burgers van Kaapstad en Suid-Afrika: Baie dankie dat u hierdie verrigtinge met ons deel.
Desember is Versoeningsdag. Dit is 'n dag wat 'n bietjie meer as tien jaar gelede op 'n ander manier onthou sou word en gevier sou word. Daar was diegene wat dit beskou het as Geloftedag vanweë 'n bepaalde episode in die geskiedenis. Daar was diegene wat dit beskou het as Dingaansdag vanweë 'n episode in die geskiedenis. Daar was diegene wat dit beskou het as die geboorte van Umkhonto weSizwe vanweë 'n episode in die geskiedenis. Daar was diegene wat ander idees gehad het oor wat op 16 Desember gebeur het. Vir ons was dit die afgelope tien jaar die dag waarop al die verskillende begrippe en idees van wat in Suid-Afrika gebeur het, versoen moes word en waarop 16 Desember Versoeningsdag geword het. Ek dink dis dit wat ons vandag almal bymekaarbring, veral in Kaapstad, maar oral oor die land.
Vandag is die onthulling van Vryheidspark vir die nasie. Dis waar die Staatspresident is. Ons hoop dat hierdie Nobelplein wat ons vandag onthul, die Vryheidspark van die Wes-Kaap sal wees. Ons sal in staat wees om op 'n baie besondere manier te reageer op ons ambisies en aspirasies vir versoening. Die Wes-Kaap is gevra om vandag ook te begin met 'n week van nadenke oor veral ons slawegeskiedenis. Dit het ons gedoen met uitvoerings in die Baxter soos Vuma, en ons maak ook Sondag op Genadendal so waar ons veertien uitstaande figure uit daardie slawetyd gedenk - of hulle nou slawe was en of hulle afskaffers van slawebedrywighede was; of hulle vrygestelde slawe was en of hulle die Xhosa-gemeenskappe was wat aan slawe skuiling gebied het.
En so, dink ek, is dit nie bloot 'n dag waarop die verdelings van die verlede toegepleister word nie, maar waarop in die geskiedenis gedelf word sodat ons almal verstaan wie ons is, sodat ons mekaar in die oë kan kyk en kan sê: "Dit is wie ek is. Ek wil aanklank vind by jou. Ek wil vashou aan dit wat gemeenskaplik is tussen ons, en ek wil waardeer dit waaroor ons verskil." En ek dink dit is wat versoening vandag vir ons beteken.
Toe ons in die Wes-Kaap, meer as twee jaar gelede, onder die Premierskap van Marthinus van Schalkwyk, gedink het aan hoe ons vir ons kinders iets kan nalaat sodat hulle altyd daarna kan kyk en sê: "Lank gelede het daar in Kaapstad, in die Wes-Kaap, in Suid-Afrika, op die vasteland van Afrika, vier groot manne geleef; vier mense wat nog steeds vir ons as land die rekord hou van waarskynlik die meeste Nobel-vredespryswennersw in die wêreld." Hoe bring ons hulde daaraan?
Ons is almal bekend met die goud wat ons uitvoer, ons is almal bekend met die vrugte wat ons uitvoer, ons is bekend met die wyn wat ons uitvoer, en met so baie ander goed wat ons uitvoer. Maar ons is waarskynlik blind vir die belangrikste ding wat ons uitvoer, en dit is dat ons nasie in die wêreld uitstaan as 'n nasie wat geweld gevat het en dit getransformeer het tot vrede; wat verdeeldheid gevat het en dit getransformeer het tot eenheid; wat soveel negatiewe dinge gevat het en dit getransformeer het tot 'n positiewe beeld van dit waarvoor Suid-Afrika vandag in die wêreld staan. En ons is dit deels verskuldig aan die groot bydraes wat gemaak is deur vier mense wat in die wêreld uitgestaan het en aan wie die Nobel-vredesprys in hul tyd toegeken is, vir hul mense en vir ons land as geheel. En dit is 'n massiewe bron wat ons moet benut. Nie een toeris moet die Waterfront besoek, moet Tafelberg opgaan, moet na Suid-Afrika kom of selfs na die Kruger-wildtuin gaan sonder om te weet dat Suid-Afrika is wat dit vandag is omdat daar vier mense was wat in hierdie land geleef het, wat in hierdie land offers gebring het, wat eenmaal uitgestyg het bokant alles wat hulle kon onderkry, maar seker gemaak het dat ons land uitstaan en vandag 'n baken van vrede en vriendskap vir die hele wêreld is. Dit is wat ons vandag vier.
Wie sal ooit die bydrae vergeet van Aartsbiskop Desmond Tutu wat in die 1970's en die 1980's en deur die 1990's uitgestaan het as iemand wat die pyn van ons nasie verwoord het, hetsy aan die voorpunt van optogte, of by die begrafnisse van ons jongmense, of op besoek aan so baie mense wat gely het onder apartheid? Wie sal ooit Aartsbiskop Desmond Tutu vergeet wat ons mense aanspoor, nie alleen tot stryd nie, maar tot hoër vlakke van moraliteit in daardie stryd waar hy soms gestaan het tussen die instinkte van ons mense om vreeslike dinge te doen aan diegene wat vreeslike dinge aan hulle gedoen het? En hy het tussen hulle gestaan. Wie sal dit ooit vergeet?
Wie sal ooit vergeet dat Aartsbiskop Desmond Tutu op 'n uiters kritieke moment in ons geskiedenis ons strewe verwoord het om as 'n nasie te verenig toe hy gesê het ons is die reënboognasie van God? Dit is onder andere wat Aartsbiskop Desmond Tutu laat uitstaan het as 'n simbool van wat ons wil wees as 'n nasie.
Net so is daar momente waardeur F.W. de Klerk gedefinieer word. Die deurslaggewende moment was waarskynlik toe hy die mag gegryp het by P.W. Botha wat nie daardie Rubicon kon oorsteek nie. Dit was 'n oomblik van groot vreugde - en ons harte het oor die hele land gejuig - toe hy die ANC en ander bevrydingsbewegings ontban het, en toe hy Nelson Mandela en ander politieke gevangenes vrygelaat het. En op daardie oomblik het ons geweet dat dit waarvoor ons gestry het, nou baie moontlik geword het. Daardie moment toe hy oor sy eie geskiedenis, sy eie party, sy eie mense gegaan het om 'n proses van onderhandeling oor 'n beter toekoms vir al ons mense te begin. Dit is daardie dinge wat aan hom van die eerbetoon gebring het wat die wêreld kon bied.
Wie sal ooit vir Nelson Rolihlahla Mandela kan vergeet, en die 27 jaar wat hy in die Wes-Kaap, in Kaapstad, in die tronk was? Toe hy nie by ons kon wees nie, maar nogtans so kragtig onder ons aanwesig was. Toe hy nie met ons kon praat nie, maar ons so bly inspireer het dat ons bly glo het dat die toekoms beter gaan wees as die huidige. Dat Nelson Mandela, wat nie saam met ons kon betoog nie, ons op duidelike maniere gelei het wat ons steeds laat voortgaan het tot by hierdie moment van oorwinning en hierdie moment van vrede en hierdie moment van glorie wat Suid-Afrika in die wêreld beleef. Hy het alles verpersoonlik wat goed was, wat edel en waardig was, nie alleen in ons stryd nie, maar ook in ons mense, wat begrippe soos versoening, vergifnis, saambestaan getransformeer het van hul oorspronklike betekenis van swakheid, kompromie en nederlaag, en hulle die kragtige woorde gemaak het wat vandag nog oor die wêreld weerklink. Dit is wat Nelson Mandela vir ons kon doen.
Sommige van ons wat van die jonger geslag is, het nie vir Hoofman Albert Luthuli geken nie, en ek het gewonder hoe vertel 'n mens van hom vir diegene wat nie saam met hom gestap het nie, saam met hom gewerk het nie, wat die man nie verstaan het nie, wat maar net weet van hom. En ons het gedink die Hoofman moet self met u praat, want in die paragraaf wat ek vir u uit sy werk "Let My People Go" - sy outobiografie - wil lees, staan na my mening veel van dit waarop ons land bou, en veel van die visie waarna ons provinsie strewe.
Ek wil afsluit deur die persoon voor te stel wat, toe hy Premier was, met die idee van die Nobelplein na vore gekom het. Ek sou oneerlik wees om te sê dit was my idee. Dit was die idee van Marthinus van Schalkwyk, en daar is geen beter manier om erkenning daaraan te verleen nie as om hom na hierdie podium uit te nooi om u toe te spreek. Ek dank u.
TOESPRAAK-ARGIEF
Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 15 Junie 2006 hersien
Onbekende staatstaal of akroniem? Kyk in die WOORDELYS.
Gebruiksvoorwaardes
Privaatheidsbeleid
Kopiereg
Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering
