Nog engele
Die Kersengele van CJ Langenhoven Gedenkbiblioteek is met ons vanaf die eerste Kersfees in ons nuwe biblioteekgebou, met ander woorde, Kersfees 1973! Saam met die eerste besending nuwe boeke wat ons daardie jaar vir die biblioteek ontvang het, was Elizabeth Petherbridge se Paper sculpture step by step met, onder andere, 'n patroon vir 'n 'cone angel'. Die wit rokkies van die klein skare engele wat daardie jaar die lig gesien het, is intussen brons en goud en silwer gespuitverf, maar hulle sing nog elke jaar lustig voort. Na Kersfees word die koppies afgehaal, die vlerkies toegevou en die keëls opmekaar gestapel tot volgende jaar. Om hoogte te kry vir die engelekoor staan hulle soms op mooi oorgetrekte geskenkdose in dieselfde kleurskema as die rokkies. Verlede jaar het die koor op 'n verhogie van glasbakke, gevul met Kersversierings, gesing. Tussenin is brons gespu­itverfde agapantus saadkoppe (die miniatuur soort) geplaas.
Kersbome
Elke jaar word 'n nuwe kleurskema vir die Kersboom beplan. Verlede jaar is 'n droë rolbos gebruik (Salsola kali, Russiese rolbossie). Dit is wit gespuitverf en op 'n lang glaspot gemonteer wat as stam gedien het. Wit stringliggies is deur die takkies geryg met chartreuse, appelkoos en wit glasballe van verskillende groottes uit my persoonlike versameling Kersversierings. Van die balle is versier met kraletjies, baie fyn kunsblommetjies en ander blinkertjies. Ses lang stringe kristal- en pêrelkraletjies is ingeryg wat van die rand van die glaspot afgehang het. Die boom het op 'n sag gefrommelde organza lap gestaan. Rondom die boom was versierde geskenkdose gerangskik. Sien voorbeelde in Kartonkuns deur Fransie Snyman. Verskeie mense het opgemerk dat die Kersboom 'n illusie van ys in ons hittige Klein Karoo geskep het.
As agtergrond vir die engeltjies is 'n kleiner rolbossie met yl takkies brons gespuitverf en klein Kersballetjies en sterre daaraan gehang. Die Kersballetjies was ook van gevlegte takkies en die aanwysings vir die maak van die sterretjies was in 'n vorige KB. (Sien September/Oktober 2003 uit­gawe, pp 46-67.) 'n Miniatuur singende engeltjie was heel bo-aan die boompie en om die effek te versag, is fyn goue engelhaar bo-oor gestrooi.
n Vorige Kersboom was 'n tradisionele groen gekoopte boom versier met pers en brons glas­balle. Die silwer en goue balle was van gevlegte takkies gemaak. Hierdie boom het op 'n organza lap in dieselfde kleure as die versierings aan die boom gestaan en was omring met geskenkdose in dieselfde kleurskema.
Bronne
Die unieke Kersboom skep 'n illusie van ys
Verlede jaar het die koor op 'n verhogie van glasbakke, gevul met Kersversierings, gesing. Tus­senin is brons gespuitverfde agapantus saadkoppe (die miniatuur soort) geplaas
Die engelekoor staan op mooi oorgetrekte geskenkdose in dieselfde kleurskema as die rokkies
