Die formidabele
Outodidak, virtuoos, connoisseur
Kultuurhistorikus en argivaris,
In 2005, toe die 100-jarige herdenking van TO Honiball se geboortedag gevier is, was sy eens meer bekende voor­ganger, DC Boonzaier reeds 55 jaar oorlede. Geskiedkundiges, kunssinniges, kultuurkenners en joernaliste onthou hom steeds as die eerste en mees gevreesde van Die Burger se Groot Drie; die drietal gedugte spotprenttekenaars wat sedert die koerant se ontstaan in 1915 die draak steek met veral politici se foibles & follies - DC Boonzaier, TO Honiball en FJ (Fred) Mouton.
In die artikel oor Gregoire Boonzaier (Kaapse Bibliotekaris Julie/Augustus 2006) word DC Boonzaier bestempel as 'n man wat 'n groot invloed op sy seun Gregoire en ook etlike ander groot name in ons kunsgeskiedenis uitgeoefen het. Behalwe vir die feit dat hy 'n ereplek as bona .de kunstenaar verdien het, het hy nie net sy merk op die politici gelaat wat onder sy dodelike pen deurgeloop het nie - hy word bestempel as die man wat Louis Botha se politieke loopbaan feitlik eiehandig beeïndig het - maar het hy ook diep spore getrap op die gebied van die uitvoerende kunste, as amateur-toneelspeler, maar veral as kritikus en beskermheer van die kunste.
Daniel Cornelis Boonzaier is op 11 November 1865 op die plaas Patatsfontein naby Carnarvon gebore. Sy vader WDC Boonzaier is afkomstig uit Houtbaai en sy moeder YMA de Waal het in Durbanville grootgeword. In 1880 is die sestienjarige DC Boonzaier na Kaapstad, waar hy vir etlike jare staatsamptenaar was. In 1884 het sy eerste spotprent in die humoristiese blad The Knobkerrie verskyn. In 1899 bedank hy uit die staatsdiens, werk vir verskeie koerante en in 1915 geluk dit hom om 'n vaste betrekking by die nuutgestigde De Burger (later Die Burger) te bekom. In 1899 is hy met sy niggie Maria (Nooy) Boonzaier getroud. Vier kinders is uit die huwelik gebore.
Boonzaier het tuis Engels gepraat, maar sy simpatie was beslis by die Afrikaner-gemeenskap. Hy het dus 'n politieke tuiste gevind by De Burger en met mening ingeklim onder Botha en Smuts. Beide hierdie gerespekteerde oud-Boeregeneraals is bespotlik uitgebeeld, met elke tegniek tot die beskikking van die gra.ese joernalis, soos gesigsuitdrukkings, lyftaal, metafore, sinspeling en simboliek. Van beide Boonzaier en Honiball is gesê dat hul spotprente meer mense beïnvloed het as die mees intellektuele redaksionele artikels, maar DC Boonzaier was ongetwyfeld die doyen van politieke spotprenttekenaars in Suid-Afrika. Sy talent as tekenaar en satirikus het aan hom, die plattelandse seun met 'n skraps geleerdheid en geen kunsopleiding nie, (Honiball en Mouton is wel as handelskun­stenaars opgelei), internasionale bekendheid besorg; iets wat sy genoemde opvolgers nouliks beskore is, veral weens die politieke bestel waarmee hulle steeds geassosieer word.
J du P Scholtz, wat 'n persoonlike vriend van Boonzaier was, het in sy boeke, DC Boonzaier en Pieter Wenning: verslag van 'n vriendskap en Oor skilders en skrywers , wel heelwat inligting aangaande Boonzaier neergepen, dog bly dit interessant om steeds meer oor hierdie komplekse karakter uit te vind. En hoe meer mens oor hom lees, hoe meer wonder jy: hoe is dit moontlik dat hierdie fynbesnaarde mens terselfdertyd so brutaal egosentries kon wees. Hy het, byvoorbeeld, gesê dat hy nie belangstel om sy nuutgebore kleinkind te sien nie. 'Take it away. I don't want to see it.'
Boonzaier was 'n sensitiewe seun wat van kleins af geteken het en weens sy mooi handskrif het hy 'n pos in die kantoor van die Weesheer in Kaapstad bekom. Mens kan bloot spekuleer daaroor dat sy renons in kinders spruit uit die waarskynlike spot en gebrek aan begrip wat hy van ander kinders moes verduur tydens sy jeugjare. Toe Churchill gesê het dat Rusland 'n 'riddle wrapped in a mystery inside an enigma' is, kon hy net sowel vir Boonzaier daarby inge-sluit het - geen wonder laasgenoemde was so lief vir Russiese skrywers (veral Chekov en Tolstoy) nie.
Dalk lê die antwoord minstens gedeeltelik in sy kampvegterskap vir die arm Boer; ver-slete maar nooit verslaan nie, wangevoed en gebrekkig opgevoed, maar steeds strewend na selfverbetering en welvaart. Boonzaier het 'n obsessiewe drang na selfverbetering openbaar - om te bewys dat sy oorsprong beskeie mog wees, maar hy egter van adellike inbors was. Hy het die Engelse Jingoïste en Joodse kapitaliste dalk kwalik geneem vir die armoede waarin soveel van sy volksgenote verkeer het, veral na die Tweede Vryheidsoorlog (nou meer bekend as die 'South African War'), maar ook mis­moedig gestaan weens sy tyd- en volksgenote se apatie jeens die kunste. Dit was juis Boonzaier se strewe om die kunste te bevorder (ook sou dit sy seun Gregoire se strewe word) wat hom van die meerderheid van sy mede-Kaaplanders onderskei het.
Boonzaier se grootste kruis was dat hy weens geldtekort nie in sy behoefte aan kuns en literatuur kon voldoen nie en daarom het sy gesin soms erg tekort gehad in basiese lewensmiddele, sodat die pater familias 'n (uit noodsaak goedkoop) skildery of beeldhouwerkie kon aanskaf. Hy het wel 'n goeie oog vir kwaliteit gehad en selde iets gekoop wat nie 'n winskoop was nie. So het hy ware talent herken en kunstenaars wat miskien nooit bekend sou word nie, gehelp om kopers vir hul werke te kry. Boonzaier het ook aanmoediging op ander maniere verskaf - ten spyte van sy fanatiese aandrang op privaatheid (hy was skaam vir hul armoede bowenal) - nie eens die vryers van sy twee dogters is toegelaat om die Boonzaier huis te besoek nie. Hulle het agter bosse weggekruip totdat mevrou Boonzaier hulle ná die oubaas se vertrek ingelaat het!
Boonzaier het min dinge so hoog aange-slaan as die geselskap van mede-intellek-tueles en daarom het hy so dikwels as hy kon na die huise van kreatiewe mense en hul geesgenote gegaan, asook na kof.ewinkels en hulle selfs na sy eie huis genooi. Nogtans het min mense hierdie eer gehad, byvoorbeeld, die skry­wer AA Pienaar (alias Sangiro) en die kunstenaars Anton van Wouw, Moses Kottler en Pieter Wenning. Boonzaier het laasgenoemde twee immi­grante gehelp om hul kuns te kan beoefen en uiteindelik van die sterre in ons kunshemel te word.
Hoewel Boonzaier geen liberaal was nie - hy het maar langtand gebyt aan abstrakte kuns - het hy tog waardering vir die meer moderne style van die destydse avant garde soos Monet, Cezanne en Van Gogh gehad en gretig kunsboeke en afdrukke (soms swak re­produksies) aangekoop. Hy het graag gesels met ingeligtes wat Europa besoek het om hul mening te verneem van oorspronklike werke wat hulle daar sou gesien het. Mense soos die hoogs intelligente Enslin du Plessis was 'n gunsteling bron in hierdie verband.
J du P Scholtz het opgemerk dat Boonzaier van mening was dat karikatuur-kuns 'n veel moeiliker kunsvorm is as wat die meeste mense besef. Volgens Scholtz was Boonzaier korrek in sy siening - indien nie, sou Boonzaier self nie vandag feitlik vergete geraak het nie. Boonzaier se impak op die politiek en op die belle époque van sy dag mag tans erken word, dog sy inwerking op ons kunsgeskiedenis is steeds nie volbring nie - Karel Schoeman onthul in 'n artikel (Quarterly Bulletin, Junie 2002, p.172) oor Nooy Boonzaier (1866-1948) dat hierdie twee interessante karakters albei dagboeke nagelaat het wat in die Suid-Afrikaanse Na­sionale Biblioteek bewaar word. Schoeman meld ook dat DC s'n steeds '...grotendeels onontgin' [my vertaling] is. En hierin lê die voortsetting van laasgenoemde se impak: selfs uit die graf strek die invloed van een van die merkwaardigste mense wat hierdie nasie nog opgelewer het. Dit sal waarskyn-lik van iemand uit ons generasie afhang of Boonzaier se tekening - hierdie keer in woorde, nie beeldteks nie - van sy milieu en tydgenote 'ontgin' word.
Naskrif
Die Kaapstad Argiefbewaarplek se biblioteek huisves die omvattende Jeffreys-versameling, nagelaat deur mej MK Jeffreys, 'n leidende argivaris van haar tyd, asook 'n liefhebber van die kunste. Onder haar talle boeke oor kunstenaars tel ook versamelbundels van DC Boonzaier se spotprente en kari­kature, soos SA News cartoons en My caricatures . Die lees van Jeffreys se versamel­stukke het direk aanleiding gegee tot nie net 'n groter bewuswor-ding van die kunste, wat pikturale humor insluit nie, maar was ook die inspirasie vir hierdie artikel. Die liefde van een persoon vir boeke maak so dikwels nuwe wêrelde oop vir ander. Dit is elke biblio.el se plig om hierdie tradisie voort te sit, want soos Jeffreys en Boonzaier se nalatenskap bewys het, verg dit soms niks meer as klein asempies om 'n vlam lewendig te hou nadat groot geeste dit aangesteek het nie.
Tot dusver is 'n meestersgraad-tesis deur FS Liebenberg in 1989, naamlik, DC Boonzaier in die artistieke lewe van die Kaapse Belle époque en 'n doktorale proefskrif in 1988, deur DJ Kotze; Die spotprente van DC Boonzaier in De Burger 1914-1924. [ver-korte titel] oor Boonzaier voltooi. Heelwat verwysings na hom is gemaak in verwante literatuur, soos in naslaan- en akademiese werke en nuusbladartikels, maar geen biogra.e is steeds saamgestel nie.
Bronneverwysings
Scholtz, J du P. Oor skilders en skrywers.- Tafelberg, 1979.
Bo: Spotprent deur DC Boonzaier waarin hy Botha as 'n duttende ou man uitbeeld, terwyl Smuts na die landsbe­lange omsien
