Befondsing vir Munisipale Impakprojekte
Befondsing vir Munisipale Impakprojekte
Die Departement staan plaaslike projekte vir ekonomiese ontwikkeling reg deur die Wes-Kaap by deur hulle te befonds, en deur hulle van deskundige raad en bystand met die ontwikkeling van besigheidsplanne en uitvoerbaarheidstudies te voorsien.
In die boekjaar 2002-2003 het die Departement bystand verleen met vyf projekte:
Die opleiding van personeel by die Dysselsdorp aanleg vir die onttrekking van drop
Bitterfontein Geneeskragtige Kruie
n Tonnel vir grondlose verbouing is by Beaufort-Wes opgerig as deel van 'n projek waardeur 14 permanente betrekkings vir plaaslike inwoners geskep is. Die projek is 'n gesamentlike onderneming van die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, die Departement van Maatskaplike Dienste en Armoedeverligting, die Munisipaliteit van Beaufort-Wes, die WNNR, en die Vereniging vir Intensiewe Plantproduksie by die Universiteit van Stellenbosch.
n Aanvanklike belegging deur die Provinsiale Regering van R2,7 miljoen het die projek moontlik gemaak, maar in die boekjaar 2004-2005 sal daar van die Beaufort West Hydroponics Company ('n Artikel 21-organisasie, d.w.s. 'n organisasie sonder winsbejag) verwag word om die projek sonder verdere steun van die regering voort te sit. Alle wins wat die maatskappy maak, sal in die plaaslike gemeenskap teruggeploeg word, of gebruik word om die produksiegeriewe by die aanleg uit te bou. Daar word verwag dat die aanvoorprojek teen Januarie 2004 sal begin om 'n wins te toon.
In die projek word daar kruie, waaronder basielkruid, kruisement, vinkel, koljander, barbarakruid en suring gekweek vir die plaaslike sowel as die internasionale kleinhandel. Die eerste uitvoerbesending is in Junie 2003 per vliegtuig na die Verenigde Koninkryk versend om die mark aldaar te beproef.
Die Wupperthal Tea Court is met die uitbreiding van sy aanleg bygestaan ten einde sy produksiekapasiteit vir rooibostee te vergroot. Eenhonderd een-en-sewentig boere van Wupperthal en die omliggende gemeenskappe neem tans aan 'n program deel waardeur daar van die oes van wilde tee oorbeweeg word na die volhoubare verbouing van rooibos vir die wêreldmark.
Die organiese verbouing van rooibos is nie besonder moeilik nie, en dit bied aan die boere 'n beter prys. Die gevolg is dat al die boere van Wupperthal hul rooibos nou organies verbou.
Al boer hulle op klein skaal, produseer hierdie boere tussen 60 en 70 ton rooibostee per jaar.
DIE OPLEIDING VAN PERSONEEL BY DIE AANLEG OP DYSSELDORP VIR DIE ONTTREKKING VAN DROP
Die Dysselsdorpprojek vir die Onttrekking van Drop is goed gevestig en daar is 11 voltydse en 50 deeltydse werknemers in diens. Die Departement het die aanvanklike projek befonds, en het geakkrediteerde opleiding vir die ontwikkeling van vaardighede aan 11 mense by die aanleg voorsien. Deurlopende mentorskap en tegniese bystand word ook deur die Raad van Direkteure voorsien.
Die Departement was 'n medebefondser by die oprigting van 'n fabriek vir droëvrugte op Van Wyksdorp ten einde die plaaslike gemeenskap te help om die ekonomiese ontwikkeling van hul streek te stimuleer. Die proses om die Artikel 21-maatskappy te registreer, is reeds in werking gestel. Vyf voltydse en 60 deeltydse betrekkings is geskep, en 90% van die totale werkerskorps bestaan uit vroue.
BITTERFONTEIN GENEESKRAGTIGE KRUIE
Tydens die proeffase van die gemeenskapgebaseerde projek vir werkskepping deur die produksie en bemarking van geneeskragtige kruie en plante op Bitterfontein het die Departement as medebefondser opgetree. Die Universiteit van Wes-Kaapland het 'n opname van die grondpotensiaal onderneem ten einde die uitvoerbaarheid van die projek te bepaal, sowel as om vas te stel watter spesifieke gewasse in die gebied gekweek behoort te word. 'n Sakeplan is opgestel, en in April 2003 het die proeffase 'n aanvang geneem. Voorlopige marknavorsing dui op lewendige belangstelling vanuit die plaaslike mark.
Skakel asseblief vir verdere inligting met:
Tel: 483 2628
Faks: 483 4892
Tel: 482 3417
Faks: 482 3051
