Registrasie en Befondsing van Nie-winsgewende Organisasies
Registrasie en Befondsing van Nie-winsgewende Organisasies
Die provinsiale Departement van Maatskaplike Dienste en Armoedeverligting staan Nie-Winsgewende Organisasies (NWO's) by in terme van befondsing, terwyl die nasionale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling verseker dat alle NWO's geregistreer is.
REGISTRASIE VAN NIE-WINSGEWENDE ORGANISASIES
n Nie-winsgewende organisasie kan by die Direktoraat vir Nie-winsgewende Organisasies in die Nasionale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling registreer. 'n Nie-winsgewende organisasie kan 'n trust, 'n maatskappy of enige ander vereniging van mense wees wat 'n openbare eerder as 'n private doel het en wat nie vir 'n wins bedryf word nie. (Nie-winsgewend beteken dat die organisasie se eiendom of inkomste nie aan die ampsdraers uitbetaal word nie, tensy as 'n betaling vir werk wat gedoen is of dienste wat gelewer is.) Die soorte nie-winsgewende organisasies sluit in:
Gemeenskapsgebaseerde Organisasies
Geloofsgebaseerde Organisasies
Organisasies wat ingevolge die Maatskappyewet, Wet 61 van 1973, as artikel 21-maatskappye geregistreer is
Trusts wat ingevolge die Wet op die Beheer oor Trustgoed, Wet 57 van 1988, by die Meester van die Hooggeregshof geregistreer is
Enige ander vrywillige organisasie wat nie-winsgewend is.
Daar is reeds 'n aantal nie-winsgewende organisasies in die Wes-Kaap geregistreer. Die registrasie van 'n nie-winsgewende organisasie is vrywillig, nie verpligtend nie. Registrasie verleen 'n mate van wetlikheid aan nie-winsgewende organisasies, en aansoeke om befondsing, by die regering of ander befondsingsinstansies, sal waarskynlik meer suksesvol wees wanneer die organisasie as 'n nie-winsgewende organisasie geregistreer is.
Registrasie plaas egter verpligtinge op nie-winsgewende organisasies. Hulle moet byvoorbeeld jaarverslae en finansiële verslae by die Direktoraat indien en hulle moet aan 'n praktykkode voldoen.
BEFONDSING VIR NIE-WINSGEWENDE ORGANISASIES
Die Departement van Maatskaplike Dienste en Armoedeverligting verskaf subsidies en programbefondsing vir nie-winsgewende organisasies wat ontwikkelingsgrigte welsynsdienste lewer. Enige nie-winsgewende organisasie kan aansoek doen om hierdie befondsing. 'n Nie-winsgewende organisasie sal meer waarskynlik suksesvol wees met 'n aansoek indien die dienste daarvan in lyn is met die Departement se Ontwikkelingsgerigte Maatskaplike Welsynsbeleid.
REGISTRASIE
Dit kos niks om as nie-winsgewende organisasie te registreer nie. Slegs nie-winsgewende organisasies wat 'n grondwet of een of ander stigtingsdokument het, kan geregistreer word. Die Nasionale Departement het 'n modelgrondwet opgestel.
Om as 'n nie-winsgewende organisasie te registreer, moet 'n aansoekvorm en twee afskrifte van jou nie-winsgewende organisasie se stigtingsdokument (grondwet, trustakte, of akte van oprigting en statute) ingedien word. Dit moet (slegs per pos) ingedien word by:
Direktoraat: Nie-winsgewende Organisasies
Departement van Maatskaplike Ontwikkeling
Privaat sak X901, Pretoria, 0001
Of lewer die aansoek per hand af by:
Direktoraat: Nie-winsgewende Organisasies
Dit sal ongeveer twee maande neem om jou aansoek om registrasie te verwerk. Na ontvangs van die aansoek sal 'n ontvangserkenning egter aan jou gestuur word. 'n Registrasiesertifikaat sal volg indien die aansoek suksesvol is. Dit is moontlik om appèl aan te teken indien jou aansoek nie slaag nie.
