Manlike Reproduktiewe Gesondheid
Manlike Reproduktiewe Gesondheid
Reproduktiewe gesondheid is die gesamentlike verantwoordelikheid van 'n paartjie. Daarom speel mans 'n belangrike rol en behoort hulle hul regmatige deel van die verantwoordelikheid vir voorbehoeding en vir die gebruik van kondome te dra, om sodoende beide ongewenste swangerskappe sowel as die verspreiding van seksueel oordraagbare infeksies (SOI's), insluitende MIV/vigs, te voorkom. Mans en vroue behoort hul lewensmaats te raadpleeg oor die keuse van voorbehoeding en hulle moet oor 'n gemeenskaplik aanvaarbare metode van voorbehoeding onderhandel, asook oor wie die primêre gebruiker moet wees. 'n Vasektomie is byvoorbeeld 'n baie geringe prosedure vir 'n man om te ondergaan.
Manlike besnydenis
In die lig van wye beriggewing oor jong mans wat sterf as gevolg van onveilige besnydenis, kan jong mans gratis mediese ondersoeke by primêregesondheidsorgklinieke ontvang om seker te maak dat hulle goeie gesondheid geniet voordat hulle na tradisionele inisiëringskole gaan. Veilige, higiëniese besnydenisse kan by primêregesondheidsorgfasiliteite uitgevoer word. Die prosedure kan op pasgebore seuntjies by onderskeie gesondheidsorgfasiliteite uitgevoer word.
Jy behoort na jou plaaslike primêregesondheidsorgkliniek te gaan. Besoekers wat vir die eerste keer na primêregesondheidsorgfasiliteite of hospitale gaan, moet 'n vorm invul en 'n lêer sal vir hulle oopgemaak word. Bring jou ID saam en kliniek- of hospitaalkaart indien jy voorheen by die fasiliteit geregistreer het.
Dienste by primêregesondheidsorgfasiliteite is gratis vir mense wat nie lid van 'n mediese fonds is nie. As jy na 'n hospitaal verwys word, kan daar kostes wees. Die bedrag sal afhang van jou inkomste en getal afhanklikes, volgens die hospitaal se tarieweskaal. Die hospitaal sal 'n onlangse betaalstrokie/belastingaanslag (IRP5) vereis.
