Hawegesondheid
Hawegesondheid
Hawegesondheidsdienste moniteer en evalueer alle eetgoed, skoonheidsmiddels, ontsmettingsmiddels, gevaarlike stowwe en geneesmiddels wat die Wes-Kaap deur hawens binnekom, en beheer en moniteer die moontlike indringing van alle ernstige aansteeklike siektes in die Wes-Kaap en die res van Suid-Afrika. Hierdie aansteeklike siektes sluit geelkoors, cholera, pessiekte en Ernstige Akute Respiratoriese Sindroom (EARS) in.
Hawe- en Omgewingsgesondheid is verantwoordelik vir die drie seehawens (Kaapstad, Mosselbaai en Saldanhabaai) en die twee lughawens (Kaapstad Internasionaal en George, wat tydelike internasionale status het).
LUGHAWEGESONDHEIDSBEHEER
Indien daar 'n vermoede bestaan dat 'n passasier 'n aansteeklike siekte, soos EARS, onder lede het en simptome gedurende die vlug toon, sal die bemanning die Lughawemaatskappy van SA waarsku wat weer op hul beurt die hawegesondheidsbeampte op sy/haar hoede sal stel. By aankoms sal 'n metrogeneesheer (nooddienste) die persoon se toestand bepaal en die nodige maatreëls sal geneem word (bv. kwarantyn). Water en voedselvoorrade vir vliegtuie word gemoniteer.
VAARTUIGINSPEKSIE
Vaartuie wat toegang tot enigeen van die drie seehawens wil verkry, moet 'n Maritieme Verklaring van Gesondheid voorlê. Vaartuie word nagegaan vir knaagdiere en 'n geldige Vrystellingsertifikaat vir Ontrotting word vereis. In ooreenstemming met internasionale gesondheidsregulasies, moet 'n besmette vaartuig berook word. Water en voedselvoorrade vir vaartuie word gemoniteer.
Inspeksies word na willekeur op ingevoerde voedingsmiddels by alle inklaringshawens uitgevoer vir moontlike gevaarlike en giftige stowwe. Wanneer goedere afgelaai word, word hulle gewoonlik, onderworpe aan verlengde gesondheidswaarborge, verwyder en word slegs vrygestel wanneer die hawe-owerhede tevrede is. Alle vragte moet voldoen aan die Wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels, Wet 54 van 1972.
Daar word gekontroleer of produkte by die Medisynebeheerraad van Suid-Afrika geregistreer is, en of hulle vervaldatum reeds verstryk het. Gevaarlike stowwe soos chemikalieë, plaagdoders en swamdoders word ook teruggehou.
HAWE-UITVOERE
Die hawegesondheidsowerheid sal gesondheidsertifikate vir uitvoere onder sekere omstandighede uitreik.
Om nadere besonderhede rakende hawegesondheid, skakel Mnr. M. Slabber by 021 421 1124, of stuur 'n faks na 021 418 5685. Die posadres is Posbus 6489, Roggebaai, 8012 en die straatadres is Kamer 906, 9de Verdieping, Doeanehuis, Strandgebied, Kaapstad, 8000.
