TUISBLAD
JOU LEWE
ONDERWERPE
PUBLIKASIES
GIDSE
JOU REGERING
WERKGELEENTHEDE
Aangaande
Kontak
Hulp
Gevorderde Soektog
Tuisblad
Gidse
Dienste
Gesondheid
Mond- en Tandheelkundig
Tandheelkundige Gesondheid/Mondgesondheid
Tandheelkundige Gesondheid/Mondgesondheid
BESKRYWING:
Die staat verskaf tand- en mondheelkundige dienste aan die publiek wat daarop gemik is om mondgesondheid te bevorder, tandbederf te voorkom en enige ander probleme te behandel.
Watter tandheelkundige dienste word aangebied?
Tandvleissiekte
Orale sproei
Verdowing
Kakebeenfrakture
Wie ontvang gesubsidieerde tandheelkundige dienste?
Bevordering en voorkoming
WATTER TANDHEELKUNDIGE DIENSTE WORD AANGEBIED?
Op die mees basiese vlak van gesondheidsorg (primêregesondheidklinieke) kan drie fasette van die tandheelkundige gesondheidsdiens / mondgesondheidsdiens onderskei word: bevordering, voorkoming en behandeling. In sommige gebiede in die provinsie (bv. Mosselbaai) word een basiese diens by die plaaslike hospitaal aangebied.
Op kliniekvlak bevorder gesondheidswerkers mondgesondheid deur mense op te voed oor hoe om hulle monde, tandvleis en tande gesond te hou, en deur mense te wys hoe om tandbederf en ander probleme rakende mondhigiëne te voorkom.
Die basiese behandelingsdienste wat beskikbaar is, is mondondersoeke, X-straalondersoeke, skraap en poleer van tande om plaak te verwyder en tandvleissiektes te voorkom, vulsels en noodverligting van pyn en ontsteking, waarby tandekstraksie ingesluit word. Krone en brûe is soms beskikbaar, maar geniet lae prioriteit.
TANDVLEISSIEKTE
n Pasiënt kan by 'n kliniek vir ernstige tandvleissiekte (periodontitis) behandel word. Indien daar egter mondpatologie is - letsels of sere in die sagte mondweefsel wat dikwels deur oormatige rook, drankgebruik of deur MIV-infeksie veroorsaak word - en daar 'n risiko vir kanker bestaan, sal die pasiënt na 'n tersiêre hospitaal verwys word.
ORALE SPROEI
Mense wat MIV-positief is en dié wat vigs het, ly dikwels aan orale sproei, of mondsproei. Dit is oop sere en letsels in die mond. Diflucan, 'n middel vir die behandeling van orale sproei, is gratis by primêregesondheidsorgklinieke beskikbaar.
VERDOWING
Pasiënte kan by 'n primêregesondheidkliniek plaaslike verdowing vir die behandeling van tandheelkundige en mondprobleme ontvang. Indien algemene narkose benodig word, sal die tandarts die pasiënt by die plaaslike hospitaal op die teaterlys plaas en die prosedure by die hospitaal uitvoer. Die Hoopstraatkliniek in Kaapstad is die enigste kliniek waar algemene narkose beskikbaar is.
KAKEBEENFRAKTURE
Frakture van die bokaak (dikwels as gevolg van huishoudelike geweld of motorongelukke) word na sekondêre of tersiêre hospitale verwys. Eenvoudige onderkaakfrakture kan by die primêregesondheidfasiliteit gehanteer word. Ingewikkelder gevalle sal na die sekondêre of tersiêre hospitale verwys word.
WIE ONTVANG GESUBSIDIEERDE TANDHEELKUNDIGE DIENSTE?
Die Provinsiale Regering subsidieer 'n tandheelkundige diens vir armlastige volwassenes, diegene wat ouderdomspensioene ontvang en diegene wat geïnstitusionaliseer is. Daar is wel 'n bedrag betaalbaar om laboratoriumkoste te dek.
Mense met ortodontiese probleme kan by primêregesondheidfasiliteite gesien word, maar sal na die tandheelkunde-fakulteite by die Universiteit van die Wes-Kaap en Tygerberg-hospitaal verwys word. Kinders wat draadjies aan hulle tande aangebring of verwyder moet hê, sal ook na hierdie tandheelkunde-fakulteite verwys word.
In stedelike klinieke bestaan die mondgesondheidspan uit 'n tandarts, 'n tandheelkundige assistent en 'n mondhigiënis. Plattelandse gebiede word deur 'n tandheelkundige span met mobiele toerusting besoek. Die toerusting kan as 'n nooddiens opgestel word, gewoonlik by skole.
BEVORDERING EN VOORKOMING
Die program vir bevordering en voorkoming sluit besoeke in deur gesondheidswerkers aan sommige crèches en sommige laerskole. Inligting oor tand- en mondgesondheid word ook aan swanger vroue as deel van die voorgeboortediens gegee.
Laerskoolkinders word opgevoed oor die belang daarvan om die opbou van plaak te voorkom en oor hoe om dit deur die korrekte borsel en vlos van tande te verwyder. Tandeborsels en tandepasta word voorsien. Hulle ontvang ook 'n mondspoelmiddel wat fluoried bevat, as deel van die Fluoriedaanvullingsprogram. Fluoried maak tande sterker en help om tandbederf te voorkom. Kinders word opgevoed oor voeding en die belang van gesonde eetgewoontes om die opbou van plaak en tandbederf te voorkom.
Kaapstad is die enigste stad wat watervoorrade fluorideer ingevolge die regulasies van die Wet op Gesondheid (Wet 63 van 1977). Die Minister van Gesondheid en die Minister van Waterwese en Bosbou het hierdie regulasies gesamentlik goedgekeur.
VOORSKRIFTE:
Die diens is by alle primêregesondheidsorgklinieke of -sentra beskikbaar. Pasiënte met ingewikkelde probleme word na sekondêre of tersiêre hospitale vir verdere ondersoeke en behandeling verwys.Indien u 'n nuwe besoeker by die kliniek, sekondêre of tersiêre hospitaal is, sal u gevra word om 'n vorm in te vul, waarna 'n lêer vir u oopgemaak sal word. U moet onthou om u ID-boek saam te bring. Wanneer u 'n hospitaal besoek, word 'n verwysingsbrief van die kliniek vereis. Die hospitaal vereis ook u mees onlangse salarisstrokie of inkomste-aanslag (IRP5). Indien u reeds by die hospitaal geregistreer is, bring u hospitaalkaart saam.
VERSKAF BY:
Klinieke
VERSKAF DEUR:
STAATSLIGGAAM:
Departement van Gesondheid (Die Regering van Suid-Afrika)
PRYS:
Gratis, maar daar is 'n koste verbonde aan hospitaalbesoeke. Dit word volgens die hospitaal se tariefskaal gebaseer op die pasiënt se verdienste, en op die getal afhanklikes van pasiënte.
VERWANTE INLIGTING
Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 13 Mei 2006 hersien
Onbekende staatstaal of akroniem? Kyk in die WOORDELYS.
Gebruiksvoorwaardes
Privaatheidsbeleid
Kopiereg
Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering
